Afriforum tot Wouter Basson se redding

Deel op
kallie
Kallie Kriel

Die burgerregtegroep Afriforum wil appelleer teen die besluit van die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika om nie ‘n klagte oor onetiese gedrag te ondersoek nie.

‘n Klagte is by die Raad ingedien teen die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal, Sbongiseni Dhlomo en die voormalige Geneesheer-Generaal, Vejaynand Ramlakan.

Die twee het vroeër erken dat hulle destyds in 1985 plofstof vir ‘n reeks aanvalle op burgerlike teikens verskaf het.

Die uitvoerende hoof van Afriforum, Kallie Kriel, sê hulle is van mening dat die Raad se besluit polities gedrewe is en daar geen regsgronde daarvoor bestaan nie.

Die Raad verwys na artikel 31 van die wet op die Waarheidskommissie, wat bepaal dat geen getuienis daarvan in strafregtelike sake gebruik mag word nie.

Kriel sê dit is geen strafregtelike prosedure nie, en bloot ‘n verskoning om ‘n skuiwergat te kry.

Die Raad oorweeg tans die skorsing van dr Wouter Basson uit die mediese beroep nadat hy skuldig bevind is aan onetiese gedrag.

Basson is in Desember verlede jaar deur ‘n tugpaneel van die raad op gesondheidsberoepe (RGB) in Pretoria skuldig bevind aan onprofessionele en onetiese gedrag in verband met sy betrokkenheid by die ontwikkeling van chemiese en biologiese wapens onder die NP-bewind.

Prof. Jannie Hugo, voorsitter van die tugpaneel, het gesê Basson was steeds ‘n mediese dokter wat etiese regulasies ook in tye van konflik moes oorweeg.

Basson het vroeër aangevoer dat hy as hoof van Projek Coast en Delta G ten eerste ‘n soldaat was en nie ‘n dokter nie, bevele uitgevoer het, en dat mediese etiese regulasies in gedurende konflik van vredesitasies verskil.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.