
’n Onderhandelaar van Gift of the Givers en sy gesin moes uit Jemen vlug nadat onderhandelinge met al Kaida, wat ’n Suid-Afrikaner van Bloemfontein gyselaar hou, skipbreuk gely het.
Hulle dreig om Pierre Korkie te onthoof as die losprys nie betaal word nie. Intussen het Brittanje ‘n resolusie by die VN ingedien om nie lospryse vir gyselaars te betaal nie. Die resolusie is aanvaar.
“Ons het Anas al-Hamati en sy gesin Dinsdagoggend uit Jemen onttrek,” het die hoof van Gift of the Givers, dr. Imtiaz Sooliman, aan Sapa gesê.
Die gesin is tans in Doebaai.
Pierre Korkie se ontvoerders het Sondag herhaal dat die Suid-Afrikaanse regering die losprys van R33 miljoen moet betaal vir sy vrylating.
Hulle glo al-Hamati, die Gift se kantoorbestuurder in Jemen, het die losprysgeld gesteel wat die Suid-Afrikaanse regering reeds oorhandig het.
Intussen is nog geen inligting van die departement van Internasionale Betrekkinge oor die lot van ‘n Suid-Afrikaanse man wat aangehou word in Ekwatoriaal-Guinee ontvang nie.
Die 47-jarige lugvaart-konsultant van Wildernis in die suid-Kaap, Daniel Janse van Rensburg word in ‘n gevangenis aangehou nadat hy sake gedoen het met ‘n voormalige regeringsamptenaar.
Sy familie, wat hom in September verlede jaar laas gesien het, is desperaat in afwagting op nuus.
Sy vrou, Melanie sê die regering hou hulle nie op hoogte nie.