Inbrake neem kommerwekkend toe in Louis Trichardt

Deel op

inbrakeDie toename in inbrake en diefstalle by wonings in Louis Trichardt – ook bekend as Makhado – die afgelope twee maande is ‘n bron tot ernstige kommer. Die polisie weier volstrek, na ‘n amptelike besluit, om misdaadsyfers bekend te maak.

Die plaaslike koerant, die Zoutpansberger het ‘n inisiatief geloods om op hoogte te bly van misdaadtendense sodat inwoners vroegtydig van probleme en probleemareas gewaarsku kan word.

Inwoners wat die slagoffers van ‘n misdaad was, kan deurlopend ‘n kort opsomming van gebeure na die koerant se kantore e-pos na news@zoutnet.co.za. Hulle verlang ‘n kontaknommer, asook dag, datum, tyd en plek. Indien ‘n saaknommer beskikbaar is, kan dit bygevoeg word.

“Dit wil voorkom asof veral die sentrale gebiede van die Nuwe Uitbreiding geteiken word,” het die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, mnr. Dirk Meissenheimer, Woensdagoggend gesê. Hy het toe pas teruggekeer van die toneel waar twee duplekswoonstelle in Proteastraat net die vorige aand besteel is, terwyl die inwoners tuis was.

Die Zoutpansberger het die afgelope week besluit om self bietjie te probeer bepaal wat die omvang van die probleem is. Die besluit volg vanweë die polisie se volgehoue weiering om misdaadstatistieke ten opsigte van navrae oor huisbrake aan die koerant en publiek bekend te maak.

Kommerwekkend is dat huisbrake by wonings terwyl die inwoners by die huis is, al hoe meer algemeen voorkom. Dit was die geval by die woonstelle in Proteastraat. Terwyl die inwoners rustig gelê en slaap het op die boonste verdieping, het die booswigte die onderste vloer geplunder.

Mnr. Fanie van Zyl en sy gesin van Kameelstraat het dieselfde oorgekom. Hy het Vrydagoggend (17de) opgestaan en klaargemaak om werk toe te gaan. “Ek het aanvanklik niks agtergekom nie. Ek het klaargemaak en uitgestap na my bakkie toe … dit was toe dat ek modderspore in my huis sien. Ek het geweet dit is nie een van ons se spore nie,” het Fanie Woensdag gesê. Hy het die spore gevolg na die venster in hul eetkamer, die gordyne oopgetrek en met ‘n skok gesien die een venster is oop en die diefwering is geknip en opgebuig.

“Half verdwaas het ek rondgekyk maar kon niks verkeerd sien nie … Eers later het ons besef my seun se Playstation en my skootrekenaar is weg … Dit is duidelik dat hulle net gevat het wat hulle spesifiek wil hê en aan niks anders geraak of geskuif het nie,” het Fanie gesê. Hy voeg by dat hy die Maandag na die inbraak by sy versekeraars aangekom het waar hy ‘n oom ontmoet het wat in Leeustraat bly. Dié se huis is, terwyl hy in Musina was, daardie selfde aand as die inbraak by hom, deur diewe feitlik leeggesteel.

Op 7 Januarie het ook mnr. Heine de Jager en sy familie by hul woning in Acaciastraat ‘n wrede ontnugtering gehad. Terwyl hulle gelê en slaap het, het booswigte ook by hulle die sitkamervenster oopgemaak, die diefwering geknip en die gesin beroof van twee rekenaartablette, ‘n skootrekenaar, kamera en vyf selfone. Vir Heine se vrou Leonie was die inbraak veral traumaties weens die besef dat die inbrekers die aand langs haar bed gestaan het waar hulle haar selfoon van die bedkassie af gesteel het. Heine vermoed die inbrekers het iets in hul slaapkamer gespuit om te verhoed dat hulle wakker word. “Daar was ‘n groot geel kol op die buitekant van die slaapkamer gordyn en ek is daarvan oortuig dit is iets wat hulle in ons slaapkamer gespuit het,” het Heine gesê. Die geskatte waarde van die gesteelde goedere is sowat R60 000.

Alhoewel die voorval nie in die Nuwe Uitbreiding plaasgevind het nie, het ‘n middernagtelike besoeker ook vir die 74-jarige mnr. Gert van Zyl van Jeppestraat laat skrik. Omstreek 02:15 op Sondag, 22 Desember verlede jaar, is sy rus versteur deur ‘n harde slag. “Ek het wakker geword van ‘n geraas, maar was nie seker of ek dit net gedroom het nie. My hele lewe het ek egter hierdie ‘sesde sintuig’, en dié het my aangeraai om net bietjie wakker te lê en nie dadelik weer te gaan slaap nie. ‘n Rukkie later vra my vrou: ‘Wie stap in die gang?’ Die volgende oomblik gaan die ganglig aan,” het Gert vertel.

Hy het sag en versigtig hul kamerdeur oopgesluit en toe die deur oopgeruk. Groot was sy skok toe daar op daardie presiese oomblik ‘n groot-geboude man voor hom in die gang staan. Die man het Gert uit die pad gestamp en na die aangrensende kamer gehardloop. “Ek kon dit nie glo nie. Hy het in een beweging op die bed gespring en is by die stukkend-geslaande kamervenster weer uit!” Gelukkig het Gert hom betyds betrap, voordat hy iets kon steel.

Die volgende dag sou Gert by die speurders hoor dat die booswig(te) dieselfde aand ook by sy bure, die Davhana-egpaar, ingebreek het terwyl hulle tuis was. Ook hulle kon daarin slaag om die man te verwilder.

“Ek dink hierdie is die werk van ‘n sindikaat wat tans kyk hoeveel hulle in die dorp kan skep. In meeste gevalle is die modus operandi dieselfde: Hulle breek in terwyl die huismense slaap deur ‘n venster oop te maak en die diefwering te knip. My raad is dat mense maar liewers al hul vensters in die aand moet toemaak, moet seker maak hul deure is gesluit, en nie items soos sakrekenaars en telefone laat rondlê nie. As jou hond blaf, gaan kyk maar hoekom blaf hy, maar wees net versigtig. Moet ook nie items soos tuingereedskap, klerasie en fietse buite los in die aand nie,” was Dirk se raad aan inwoners namens die dorpswag.

Daar is ook heelwat ander gevalle van huisbraak en diefstalle die afgelope twee maande aan die Zoutpansberger gerapporteer, maar daar kan nog baie meer gevalle wees. Dieselfde week waar daar by die De Jagers ingebreek is, is daar ook goedere gesteel buite mnr. Dirk du Preez se woning. Op 4 Desember is daar by De Jager se buurman oorkant die straat, mnr. Carel Breytenbach, ‘n kragopwekker gesteel. “Dit is vir my vreemd want die kragopwekker was agter die huis vasgemaak. Hulle moes inligting gehad het,” het Carel gesê.

Op 23 Desember het mnr. Tinus van der Linden van Forestryweg teruggekeer na sy huis, wat ondertussen deur inbrekers geplunder is. Hulle het die voorafgaande naweek op Waterpoort gekuier. Elektriese ware, klerasie en juwele is onder meer gesteel, ten bedrae van net meer as R50 000. Op 11 Januarie rapporteer mnr. Jacobus Smith van Acacia Woonstelle (Elandstraat) dat die battery uit sy Hyundai bakkie gesteel is.

Ook in Waterbessiestraat lyk sake nie beter nie. ‘n Inwoner het aan die koerant gesê die misdaad is geweldig erg en mens voel glad nie meer veilig in jou eie huis nie. – Zoutnet

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.