Niekie word getransformeer

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Ek was nog nooit ‘n groot bewonderaar van inbelprogramme op die draadloos nie. Dis ‘n goedkoop asook ‘n lui manier vir radiostasies om andersins leë lugtyd te vul met dikwels niksseggende bydraes van mense wat baie lief is vir hul eie stemme. Van sinvolle debat tydens sulke programme is daar dikwels min sprake, omdat die aanbieders se eie oortuigings hulle noop om die gesprekke in ‘n sekere rigting te stuur.

In die dae toe Niekie van den Berg dus ‘n omroeper op Radio Sonder Mense was, het ek paar keer per ongeluk na dele van sy program geluister, maar meestal eerder vinnig na die musiek op my MP3-speler/radio oorgeskakel as onse Niekie aan die beurt gekom het. Nie net het sy aanbiedingstyl dikwels as selfvoldaan, bombasties en arrogant oorgekom nie, maar was sy duidelike linkse vooroordele genoeg om ernstige spysverteringsprobleme so kort ná middagete te veroorsaak. Menige inbeller wat ongemaklike punte geopper het, wat heiligskennis gepleeg het deur Niekie se afgode soos Mandela of die NSA te bevraagteken, enige iets wat Niekie se linkse ewewig kon versteur, is summier stilgemaak, en die irritasie in sy stem was dikwels hoorbaar. Sulke vermetele inbellers, wat so met die Groot Niekie se linkse storietjies durf verskil het!

Niekie van den Berg
Niekie van den Berg

Dit was dus ‘n blye dag vir radio-uitsendings in Suid-Afrika toe Niekie die dag besluit het sy kop staan parlement toe. Hy sou as DA-kandidaat staan. Die DA, wat destyds nog effens, vêrlangs in Afrikanerkiesers belanggestel het, het sekerlik gehoop Niekie se berugtheid (askies, bekendheid) kon darem, o, ek weet nie, ‘n hele vyftien ekstra stemme vir die DA inwin. En siedaar! Niekie die onbeskofte radio-aanbieder, word Niekie die meer beskofte (is daar so ‘n woord?) LP. Niekie word toe nie net ‘n LP nie, maar sommer ook adjunk-skadu-tweede-in-bevel-agterspeensuier-minister van Kuns, Kultuur, Rieldanse, Klopse en enige ander sake wat vaagweg vir jou gemiddelde DA-lid as kultuur kan deurgaan. Die opwinding was geweldig. Oftewel minstens in Niekie se woonplek se binnekamer.

Nóú kon Niekie ‘n verskil maak! Nóú sou Niekie ou omies wat na Radio Sonder Mense ingebel het, darem maar vir eens en vir altyd op hul plek sit, deur vir hulle te wys hoe hy wat Niekie is, die NSA kon maak kook deur ‘n yster in die Madibatopiese demockracy te word!  Maar helaas, toe gebeur daar… absoluut niks nie. Tik ek Niekie van den Berg se naam in Google in, is daar slegs enkele meldings van Niekie die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse. Een is ‘n bedeesde verklaring oor ‘n kleinerige toegewing oor die Talewet, en ‘n ander is Niekie wat die arrestasie van ‘n paar obskure ANC-jeugagentskapslede verwelkom.  Niekie se stilte was dawerend toe Dianne Kohler-Barnard soos ‘n viswyf gegil het dat sy eerder Spaans as Afrikaans sou wou praat. Niekie was toe nou nie heeltemal so formidabel sonder sy radiomikrofoon nie.

En toe word die DA se kandidaatlys vir die 2014-verkiesings vrygestel. Die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse, Niekie, is prakties nêrens nie. Hy sal nie in 2014 verkies kan word nie. Niekie is te wit. Te oud. Te Afrikaans. Te manlik. Hy is veral te wit, oud, manlik en Afrikaans vir die DA, wat halsoorkop besig is om Frantz Fanon na ‘n blanke suprematis te laat lyk, so vinnig skuif die DA na die linkerkant toe, en so desperaat is die DA om homself in ‘n swarter party as die ANC te verander. Niekie is gevolglik deur die DA getransformeer, etnies gereinig, reggestel, oorbodig gemaak, geskors, gerooikaart (of is dit gewitkaart?), skoon uit die parlement uit. Volgende jaar is Niekie dus werkloos.

Ek wil nie leedvermakerig wees nie (goed, ek lieg, ek wil), maar die transformasie en nie-rassigheid waaroor jy so op die draadloos gepredik het, is darem maar ‘n pynlike ding wanneer dit jy self is wat te wit vir die ANC-Lite is, of hoe, ou Niekie? Ek wonder tog – gegewe jou rou transformasiewonde, en jou bittere teleurstelling omdat jou linkse kaartehuis so wreed in duie gestort het, gaan jy daardie ou, blanke omies wat jy so afgejak het oor die draadloos, eendag om verskoning vra? Want sien, Niekie, daardie ou, blanke, “rassistiese”, “regse” omies wat jou wou reghelp op Radio Sonder Mense, was toe al die tyd reg.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.