Tata se Slym gly glo nie na sy dood

Deel op
Karl Slym
Karl Slym

Karl Slym, die besturende direkteur van Tata Motors, het glo nie gegly toe hy na sy dood geval het nie.

Slym was verantwoordelik vir Tata se bedrywighede in onder meer Indië, Suid-Korea, Thailand en Suid-Afrika.

Die naweek is berig dat Slym (51), ’n Brit, uit sy hotelkamer in Thailand geval het. Hy was in dié land vir die direksievergadering van Tata Thailand.

Hy en sy vrou het op die 22ste verdieping van die Shangri-La Hotel gebly, maar sy liggaam is Sondagoggend op die vierde verdieping wat effens verder uit as ander verdiepings uisteek, gevind.

Luit. Somjot Boonjakaew, ondersoekbeampte, sê daar is geen teken van ’n struweling nie. “Ons het ’n oop venster gekry. Die venster is baie klein, so dis onmoontlik dat hy kon gegly het. Hy sou deur die venster moes klim voordat hy kon val, want hy was ’n groot man. Uit ons aanvanklike ondersoek glo ons hy het gespring.”

Die polisie sê hulle is omstreeks 07:45 Sondagoggend na die hotel ingeroep toe personeellede op Slym se liggaam afgekom het. Hulle het Slym se vrou wakker gemaak. Sy het geskok gelyk toe sy ingelig is wat gebeur het.

Die polisie het ook ’n brief van drie bladsye in die kamer gevind, maar wou nie oor die inhoud daarvan uitwei nie. ’n Lykskouing sal Maandag uitgevoer word.

Tata Motors wou niks sê oor die oorsaak van Slym se dood nie, maar het Sondag gesê Slym het “leierskap in ’n mededingende markomgewing verskaf”.

Slym is in Mei 2012 by Tata, Indië se grootste en sukkelende motorvervaardiger, aangestel.

Slym was in Oktober in Johannesburg vir die bekendstelling van drie nuwe Tata-modelle. Hy het by dié geleentheid gesê die land is een van die fokusmarkte vir die vervaardiger.

Bron: Reuters

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.