Wat gebeur met jou motor se lugsak tydens ‘n botsing?

Lugsakke in moderne motorsdeur André Olivier

Ons almal ry motors wat toegerus is met veiligheidslugsakke. Van die ouer intreevlak motortjies het slegs ‘n lugsak in die stuurwiel, meer moderne buksies is standaard toegerus met twee lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier. Daar is natuurlik ook motors wat spog met tot 12 lugsakke. Niemand van ons wil beleef hoe ‘n lugsak nou eintlik werk nie. Ons het besluit om wat gebeur tydens ‘n botsing so kort en volledig as moontlik vir u te beskryf. Ford Motorkorporasie in Australië het die stap-vir-stap-beskrywing van wat tydens ‘n botsing gebeur, gepubliseer.

Die motor wat betrokke is in hierdie botsing is ‘n Ford Falcon XT wat doodstil staan en dan reg van die kant af deur ‘n ander voertuig op die bestuurder se deur teen 50km/u gestamp word.

0 millisekondes – ‘n Eksterne voorwerp raak aan die bestuurder se deur.

1 ms – Die deur se druksensor bespeur ‘n drukgolf aan die buitekant.

2 ms – ‘n Versnellingssensor in die C-pilaar van die motor agter die agterdeur bespeur ook ‘n botsing is besig om plaas te vind.

2.5 ms – ‘n Druksensor in die middel van die motor in die dak bespeur die vibrasies van ‘n botsing.

5 ms – Die botsingsrekenaar bepaal of die impulse wat hy ontvang het erg genoeg is om ‘n reaksie uit tevoer. (Dit mag dalk net ‘n kruidenierswaentjie wees wat teen die bestuurder se deur vasgeloop het). Intussen begin die bestuurder se deur met sy kantbotsstawe die skokgolwe  van die inpak te absorbeer.

6.5 ms –Druksensors in die bestuurder se deur bereik maksimumdruklading.

7 ms – Die botsingsrekenaar bevestig dat die inpak van ‘n ernstige aard is en nie ‘n kruidenierswarewaentjie is wat in die deur vasgeloop het nie. Die botsingsrekenaar bereken hoeveel aksie in watter deel van die motor uitgevoer moet word.

8 ms – Die botsingsrekenaar stuur die “vuur”-inpuls na die betrokke kantlugsak aan die bestuurder se sykant. Die B-pilaar begin die skok na binne absorbeer en energie word verplaas na die “cross car load path” of geheelladingdrukmeter onder die insittende.

8.5 ms – Die kantlugsak aan die bestuurder se kant kry die “vuur”-instruksie.

15 ms – Die motor se dak absorbeer ‘n deel van die inpakgolf . Die kantlugsak ontplof deur die sitplekomhulsel en begin ontplooi.

17 ms – Die geheelladingdrukmeter en struktuur van die motor onder die agterste sitplekke bereik maksimumlading. Die ontplooide lugsak strek oor die insittende se bors en begin sy skouer weg van die inpaksone af forseer.

20 ms – Die bestuurder se deur en B-pilaar begin teen die bestuurder se sitplek te druk. Die lugsak druk intussen die insittende se bors weg van die inpak af.

27 ms – Die effektiewe impakdruk is gehalveer van 50km/u na slegs 23,5 km/u. ‘n Drukblokkie in die sitplek verskuif die insittende se hele bolyf weg van die inpak en die lugsak begin onmiddellik afblaas.

30 ms – Die Ford Falcon het die sybotsing total en al geabsorbeer. Die lugsak bly in posisie en die insittende ondervind vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde ‘n maksimumdruk van 12 kg teen sy skouer.

45 ms – Die insittende en die lugsak beweeg saam met die hervorming van die motor se sykant.

50 ms – Die botsingsrekenaar ontsluit al die deure, die passasiersveiligheidstruktuur begin reageer om die deur na buite te forseer, weg van die insittendes af.

70 ms – Die lugsak blaas steeds af en die insittende beweeg na die middle van die motor. Ingenieurs beskou die botsing as afgehandel

150 -300 ms – Die insittende besef nou eers hy is in ‘n botsing betrokke.

Dit is hoe ‘n lugsak in jou motor dalk net jou lewe kan red. Lugsakke ontplooi ook nie wanneer die veiligheidsgordels nie gebruik is nie. Alle nuwe motors het ladingsensors in die sitplekke wat bepaal of daar iemand op die sitplek sit. Sou daar iemand sit, bereken die botsingsrekenaar daar moet ‘n sitplekgordel geaktiveer word. Sou die sitplekgordel dan geaktiveer of vasgemaak word, bereken die botsingsrekenaar dat hy nou alle sensors wat lugsakke beheer fyn moet dophou. Dus wanneer jy nie jou sitplekgordel dra nie gaan die lugsakke nie aktiveer nie, dit is só eenvoudig. Die rede hiervoor is dat lugsakke met so ‘n geweldige inpak ontplooi word in ‘n botsing dat die insittende ernstige beserings van die lugsak kan opdoen nog voor die botsing verdere beserings veroorsaak. Die meeste vervaardigers  kalibreer vandag die lugsakstelsel om in samewerking met die sitplekgordels te werk. Die sitplekgordel trek die insittende styf in die sitplek vas sodat die lugsak van watter kant af ook al sy werk kan doen sonder om die insittende ernstig te beseer. ‘n Gemiddelde lugsak ontplooi teen tussen 240 – 400 km/u. Elke voertuig op die pad vandag beskik oor ‘n unieke frommelprofiel tydens ‘n botsing. So dink mooi wanneer jy ‘n sleepstang, wenteltol voor op jou 4×4 of ‘n massiewe bosbreker-“Bullbar” voor aan jou motor laat monteer, want dit gaan jou motor se veiligheidstelsel beslis beïnvloed. Nou gaan die ingeboude druksensors heelwat later kan reageer om jou motor se lugsakke te kan ontplooi. Dit geld ook vir al die mense wat hulle dierbare kinders so los in ‘n motor laat rondsit; moenie verbaas of hartseer wees wanneer jou motor se lugsakke nie werk tydens ‘n botsing nie. Sitplekgordels red lewens; dit is oor en oor bewys!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.