
‘n Waterprojek wat in 2011 van stapel gestuur is deur die Dr Ruth Segomotsi Mompati Distriksmunisipaliteit, het misluk.
Die doel van die projek was om water uit die Taungdam na die Naledi Plaaslike Munisipaliteit te lei.
Die projek sou die waterkrisis aanspreek in die Vryburgarea van Noordwes, na wat berig word.
Gebiede van Kismet Park, Colridge en Huhudi in Vryburg is die ergste geraak deur watertekorte. ‘n Pyplyn wat net twee jaar oud is, het reeds ingegee.
Dr Ruth Segomotsi Mompati se burgemeester, Elvis Tladinyana het erken dat daar ‘n waterkrisis in die gebied is.
“Herstelwerk wat gemaak is, is nie volhoubaar nie, want dit is buite ons beheer. Die pype is nou oud.”
Hy voeg by dat die pype vervang moet word en dat die bestaande hoofpyp bedoel was om hierdie spesifieke probleem op te los.
Verskillende gebiede regoor die land ervaar watertekorte. Dit sluit Mothutlung in waar die inwoners oproerig geraak het.
Bloemfontein se noordelike voorstede sukkel ook en inwoners ondervind dieselfde uitdaging as gevolg van verouderde infrastruktuur.