‘Disfunksionele gemeenskap lei tot distopiese letterkunde,’ sê Gustav Venter

Deel op
gustav2
Gustav Venter, afgeneem op die plaas in die Clarens-distrik waar hy woon

praag voer ‘n onderhoud met Gustav Venter, skrywer van Die amigdala van Alrina Smal en die huidige apokaliptiese vervolgverhaal Bodem.

Wanneer het u die idee gehad om ‘n vervolgverhaal vir internetpublikasie te begin skryf?

Terwyl ek beplan het wat om in 2014 te doen. Dit het neergekom op ʼn eenvoudige formule: My loopbaan vereis dat ek ten minste 1,000 woorde per dag skryf, ses dae van die jaar. Dit sluit nie my algemene werk soos herskryf van manuskripte, vertalings, rubrieke en verslae in nie. ʼn Duisend woorde bedoel vir boeke. As ek dit kan handhaaf, is dit ʼn raps meer as 300,000 woorde per jaar, oftewel drie substansiële boeke. Sou die Liewe Vader my nog twintig jaar gun om te skryf, is daar nog 60 boeke in my. Dis genoeg.

By praag besin ons voorts gereeld oor hoe om meer verskeidenheid vir die leespubliek aan te bied. ʼn Duisend woorde is nommerpas vir ʼn aflewering van ʼn vervolgverhaal. Vandat ek dit besef het, was dit ʼn klein sprong daartoe om Bodem as ʼn vervolgverhaal aan te bied.

Stel u belang in die vervolgverhaaltradisie soos dit in die negentiende en vroeë twintigste eeu bedryf is?

Beslis! Ek dink gereeld aan Charles Dickens wat sy roem as vervolgverhaalskrywer gevestig het. Sy stories het op dié manier ʼn sensasie geword aan beide kante van die Atlantiese Oseaan. In Boston, byvoorbeeld, het mense mekaar by die hawe vertrap as die skip met die nuwe besending van Little Dorrit opdaag.

Ek dink die krag van ʼn vervolgverhaal is juis dat dit ʼn oop, onafgeslote kant het. Die leser bly betrokke vir maande, selfs jare. ʼn Mens kan gaan sit en ʼn boek lees van voorblad tot agterblad, dit toemaak en jouself daarvan onttrek. Die karakters daarin word verskuif na een of ander solder in jou verstand. Maar karakters in ʼn vervolgverhaal bly vir jou lewend so lank as wat die aflewerings gepubliseer word. Die mens soek afsluiting, en met ʼn vervolgverhaal word hierdie afsluiting vir maande of langer uitgestel.

Dit lyk dus vir my dat die vervolgverhaal ʼn meer geskikte draer van ʼn openbare gesprek kan wees. Lesers spekuleer oor die toekoms en gedrag van die karakters en wat hulle te doen staan.

Abraham Lincoln het vir Harriet Beecher Stowe beskryf as die “tantetjie wat die Burgeroorlog begin het”. Sy was die skrywer van die melodramatiese vervolgverhaal Uncle Tom’s Cabin. Dit het die inwoners in die Noorde so opgesweep teen die slawebedryf in die Suide, dat hulle eenvoudig op Afskaffing aangedring het en dit het tot die Burgeroorlog gelei.

Terloops, Uncle Tom’s Cabin demonstreer juis die mag wat ʼn vervolgverhaal kan hê. Toe die minsame klein Eve in een episode gesterf het, was die volk briesend vir Stowe en het hulle haar uitgekryt en selfs met die dood gedreig.

‘Distopiese literatuur’

Daar word deesdae van “distopiese literatuur” in Afrikaans gepraat, ook deur akademiese literatore. U vorige boek, Die amigdala van Alrina Smal, het ‘n sterk distopiese inslag gehad. Is Bodem ‘n voortsetting daarvan?

Dit hoort tot dieselfde genre, beslis. Samuel Goldwyn het die beroemde instruksie aan sy draaiboekskrywers gegee dat as hulle ʼn boodskap wil stuur, hulle Western Union moet gebruik. Maar in beide hierdie werke is die boodskap primêr van belang vir my. Ek het voorheen nooit gedink dat ek ʼn boek sou skryf waarin die molestering van ʼn blanke vrou deur ʼn swartman so omvangryk beskryf word nie. Dit is net asof dit voorkom asof die gemeenskap ʼn skok nodig het om die omvang van die brutaliteit in ons land opnuut te snap en iets daaromtrent te doen.

Die vermoorde Daan Wybenga
Die vermoorde Daan Wybenga

Verlede jaar is ʼn dierbare vriend van my, Daan Wybenga, in Clarens gemartel en vermoor. Clarens het ʼn sterk liberale gemeenskap. Ek het gereeld ʼn gesprek met dorpslede oor Daan se moord aangeknoop. In die meeste gevalle het mense die tong geklik en dan die gesprek weggelei na ʼn ander onderwerp. En Daan was self baie liberaal. Hy was geografies maar ook sosiaal één van hulle. Beteken die dood van ʼn skadelose, vrygewige ou man, ʼn intieme vriend van hulle, so min dat hulle nie eers ʼn hele gesprek daaraan kan afstaan nie?

Iets het losgespring in ons gemeenskap dat die hele land kan ween en eindeloos teem oor die heengaan van ʼn ou terroris, maar eenvoudig die skouers optrek oor die marteldood van ʼn doodgoeie mens soos Daan.

My funksie as skrywer is om die gemeenskap en die moontlike toekoms daarvan te beskryf. ʼn Disfunksionele gemeenskap met ʼn duistere toekoms moet dus tot distopiese letterkunde lei.

Bodem is my poging om mense as’t ware voor die bors te gryp en te sê: Hiér is wat kom! Besef jy dit? Is jy reg daarvoor? Daarom sal die beskrywings in Bodem gaandeweg meer bloedig en brutaal word. Ek het genoeg geweld in my lewe gesien om ʼn afkeer daarin te hê, maar ek sal enige iets doen om mense te laat dink en reageer oor die komende ellende.

‘Die apokalips is onafwendbaar’

Is u self pessimisties oor die toekoms van Suid-Afrika?

Dit verg die allerverskriklikste onnoselheid om enigsins optimisties te wees oor wat vir ons voorlê. Gesonde verstand, geskiedenis en die eenvoudige wiskunde van die situasie dui op ʼn onafwendbare apokalips. Niemand bid harder as ek en hoop vuriger dat dit nie sal gebeur nie, maar dit maak nie saak hoe ek die feite skommel en herrangskik nie, ek kan nie tot ʼn ander gevolgtrekking kom nie.

Dis asof iemand vir die ANC ʼn puntsgewyse diagram gegee het hoe om ʼn totale katastrofe te bewerkstellig. Vrede in selfs die mees verslonse vorm kan net deur ekonomiese welvaart gehandhaaf word en ons ekonomie is ʼn kano wat nie meer uit die stroomversnellings geroei kan word nie en waarvan die neus reeds oor die watervalafgrond steek.

Die grootste verwoesting gaan egter veroorsaak word deur hierdie onheilige, onbesonne poging tot gedwonge rasse-integrasie. Ek het onlangs heelwat opgelees oor die Amerikaanse Burgeroorlog. Hier het jy twee groepe van dieselfde volk gehad, met dieselfde kultuur, wat dieselfde boeke gelees het, dieselfde helde gehad het, saam die supermoondheid van die tyd verslaan het, wat in dieselfde kerke dieselfde liedere gesing het. En al het almal die ellende sien kom, was hulle skynbaar onmagtig om dit te voorkom. En toe dit losbars het hulle mekaar met die grootste venyn verpletter.

As twee groepe van dieselfde volk so iets aan mekaar kon doen, hoe absoluut kranksinnig is dit nie om te dink dat verskillende, dominante rasse in dieselfde gebied onbepaald in selfs die skyn van vrede kan saamleef?

Waaroor ek wel optimisties is, is dat die Afrikaner die bloedige proses sal oorleef, sy nasionalisme sal herontdek en weer sterk en vooruitstrewend sal word, ʼn baken van vooruitgang en hoop in ʼn moeras van armoede, verval en ellende.

In Bodem is daar sprake van ‘n apokalips iewers in die toekoms. Sonder om die vervolgverhaal vooruit te loop, wat sou die onderliggende oorsaak van so iets wees? Die onvermoë van verskillende rasse en kulture om saam te leef, korrupsie en ‘n staat wat misluk of kan een of ander gebeurtenis dit ontketen?

Die blanke, en in besonder die Afrikaner, word toenemend geposisioneer as die klassieke teiken van ʼn toekomstige volksmoord. Die heersende politieke en maatskaplik-kulturele emosie van ons tyd is afguns. Dit is die magtigste menslike motivering met die uitsondering van die oorlewingsdrang. Die ANC en die idiotiese hoofstroommedia – met ons eie Naspers as voorsanger – span hierdie afgunsemosie in om die aandag weg te kaats van die swartmens se gedemonstreerde onvermoë om die land te regeer en hulleself op te hef.

Tog voorsien ek dat dit juis hierdie onbeholpenheid van die regering is wat die vlam teen die lont gaan hou. Sodra die ANC nie meer hulle ondersteuners kan omkoop nie, gaan die breër bevolking met ʼn kolossale strooptog begin. En hulle selfvertroue en gepaardgaande bloedlustigheid gaan net toeneem wanneer hulle besef die regering beskik nie meer oor die organe om hierdie rampokkery hok te slaan nie.

Eerste op die agenda gaan ʼn plunderorgie wees en dan gaan hierdie vloedgolf mense hulle aandag verskuif na vergelding vir gewaande onreg. Dis dan wanneer hulle gesamentlik in die rigting van die witmens gaan kyk.

En die liberales se hoop sal beskaam. Jou vel sal jou uniform in dié oorlewingstryd wees.

Interessant is dat daar soms in die verhaal na die massamoordenaars as “zombies” verwys word. Hoe letterlik moet ‘n mens dit opneem?

Glad nie letterlik nie. Dis bloot ʼn kopknik in die rigting van die zombie-genre waarin mense desperaat vir oorlewing moet veg teen ʼn talryke, onredelike, immer-verterende, bloeddorstige element.

Weermagkultuur

Dit wil voorkom asof die groepie oorlewendes in die verhaal wat ‘n stryd teen die oormag stry taamlik put uit die ou Weermagkultuur van Suid-Afrika, veral natuurlik die manlike karakters. Is daar nog so iets soos ‘n Weermagkultuur onder Afrikanermans van ‘n sekere ouderdom?

'n Toneel uit die toneelstuk 'Tree aan!' wat troepe uit die ou SAW uitbeeld
‘n Toneel uit die toneelstuk ‘Tree aan!’ wat troepe uit die ou SAW uitbeeld

O ja! Dit was redelik lank sluimerend maar die ou veglus is besig om te ontwaak. Daar is opnuut ʼn waardering vir die voortreflikheid van die ou SAW en die manne is nou eers trots op wat hulle weermag was en vermag het en hulle aandeel daaraan. Dit groei in ooreenstemming met die afgryse en minagting waarmee die nuwe weermag bejeën word.

As ‘n mens na ‘n jeugdige karakter soos Joubert of “Harpoen” in die verhaal kyk, dan lyk dit asof iets van die ou Weermagkultuur tog via sy pa op hom afgesmeer het. Hoe realisties is dit?

Baie realisties. Ek is deesdae baie betrokke by die bemarking van twee boeke wat ek geskryf of help skryf het oor die ou weermag. (“Ek was Daar” en “Rowers” – laasgenoemde in Engels, albei beskikbaar by praag.) Voorts hou ek en my weermagpeloton jaarliks ʼn reünie. Die gevolg is dat ek met al hoe meer jongmense te doen kry wat nuuskierig is oor ons tyd in die weermag. Ek vind dit interessant dat die oorwegende emosie van die meeste jongmans een van afguns is. Hulle wens gereeld hardop dat daar so ʼn weermag was waar hulle kon aansluit.

Die veterane begin ook al hoe meer openlik met hulle seuns oor hulle weermagavonture praat.

Kyk, ons as volk is deur meer as drie eeue in Afrika gefilter sodat die dapperstes en veglustiges oorleef het. Jy kan nie ʼn volk se gene binne twintig jaar uitskakel nie. Al daardie krygersinstinkte het behoue gebly.

Ek kom by heelwat plattelandse skole en ek verkyk my aan die fierheid en vurigheid van ons seuns. Glo my, as daar ʼn bakleiery kom, kan ons oumanne maar opsy staan. Hierdie jong vegters sal die aarde voor hulle gelyk maak.

Uiteraard is Bodem ‘n fantasievlug, ‘n bietjie soos Nadine Gordimer se July’s People waarin ‘n blanke huisgesin tydens die revolusionêre apokalips saam met hul swart mansbediende, July, ronddwaal. Het u hoegenaamd na ander tekste van dié aard gekyk of is daar dalk ‘n verwysing na ‘n boek of film waarvan die lesers bewus behoort te wees?

Nie in besonder nie. Ek is te versigtig om my eie skryfstyl te probeer buig om ʼn ander se matrys te pas. Ek glo ʼn skrywer moet opreg met sy lesers wees. Dis hulle keuse of hulle hou of nie van wat jy aanbied, maar jy skuld dit vir hulle om jou stof onverdun vir hulle aan te gee. Natuurlik sal daar raakpunte wees met ander boeke en rolprente. Ons almal beskryf tog die doen en late van dieselfde spesie.

Voorblad van Gustav Venter se e-boek, 'Die amigdala van Alrina Smal'
Voorblad van Gustav Venter se e-boek, ‘Die amigdala van Alrina Smal’

Tans wil dit voorkom asof Afrikaanse e-boeke in die mark maar sukkel teen papierboeke. Dink u daar is ‘n toekoms vir e-fiksie in Afrikaans?

Ek is seker daar is. Die gerief van moderne tegnologie is net te oorweldigend. Tans is die kern van ons leespubliek ouer mense wat gemaklik is met papier in teenstelling met toestelle soos e-lesers, tabletrekenaars en slimfone. Ons uitdaging is om ons jongmense aan die lees te kry. By praag is ons propvol idees hoe om dit te doen. Ons kort net die nodige fondse. As ons dít kan vermag, gaan die lesersmark beduidend in die rigting van digitale leesstof verskuif.

U skryf ook rubrieke en politieke kommentaar. Beplan u enige publikasies van dié aard?

O ja! Ek is tans besig om ʼn bundel van my praag-rubrieke saam te stel wat eintlik net ʼn groot kopskud is oor die dwaasheid van die hoofstroommedia en in besonder Naspers en dié se stal brandsiek rubriekskrywers, met spesiale verwysing na die dorpsidioot van politieke kommentators, Max du Preez. Hou praag dop vir die verskyning van hierdie boek!

Natuurlik het iets soos Bodem ook ‘n taamlike sterk politieke onderbou omdat dit iets omtrent die land se huidige toestand suggereer, nes Nadine Gordimer se July’s People of seker JM Coetzee se Age of Iron. Dis seker al ‘n holruggeryde vraag, maar: Is u ‘n “betrokke skrywer”?

AgeOfIronNovelOp ‘n manier is ek seker. Om net te skryf ter wille van skryf is redelik sinloos in ons situasie. Ek probeer die werklikheid voorstel soos hy is.

Maar as fiksieskrywer volg ek maar ook die wette van die romanskrywer na. Ek tree eintlik bloot as onbetrokke verslaggewer op wat rapporteer wat hy in sy kop sien. Die vreugde van skryf lê vir my juis daarin om ʼn feitestel te ontwerp, karakters te skep en om hulle as’t ware op te wen en hulle manewales dop te hou en te beskryf.

Terwyl Amigdala ‘n taamlik literêre boek was, lyk dit asof u in Bodem meer leen by gewilde fiksiegenres soos die zombieverhale, Hollywood se “rampflieks” en dergelike. Dit kan amper óók as popkultuur deurgaan. Hoe voel u oor populêre genres?

Ek is nie ʼn snobistiese skrywer nie. Ek dink juis die mag van die pen is in populêre letterkunde geleë. Gewone mense fassineer my. Vir my is die ideale protagonis ʼn buitengewone doodgewone mens eerder as ʼn doodgewone buitengewone mens. Ek vind pretensieusheid afstootlik. Dit is wat my ʼn afkeur in ʼn literêre beweging soos die Sestigers gee. Hulle was ʼn klompie selfvoldane hoogmoediges wat as klein groepie in hulle literêre kampong mekaar se letterkundige buikwinde opgeruik en gehersirkuleer het – dít terwyl die werklike lewe rondom hulle, maar ongesiens deur hulle, plaasgevind het.

Om te sê dat ʼn mens van gewilde letterkunde hou, impliseer nie dat ʼn mens nie ʼn bewustheid en voorkeur vir gehalte het nie. Moet ons, byvoorbeeld, Dalene Matthee se werk smalend beskou bloot omdat sy ook baie gewild was?

‘Hoofstroomkritici sal voortgaan om my te ignoreer’

Dit lyk asof daar amper ‘n algehele stilte van hoofstroom- literêre kritici oor Gustav Venter is. Hoe dink u gaan hulle Bodem met sy oënskynlike tema van ‘n soort rasseoorlog of Rwanda iewers in die toekoms hanteer?

Ek verwag heeltemal dat hulle sal voortgaan om my te ignoreer, en dit pas my geheel en al. Hulle eie werk en menings is van so ʼn lae gehalte dat ek teleurgestel sou wees as hulle enige van my werk hoegenaamd aanbeveel. My gesprek is nie met hulle nie. My gesprek is met my eie mense en hulle kwalifiseer nie.

Tans skryf u teen ‘n geweldige tempo, amper 2000 woorde elke dag wat lesers elke oggend op praag.co.za kan ontdek. Dit lyk asof u taamlik maklik skryf of moet die idee ‘n mens eers beetpak?

Ek is ʼn baie trae skrywer. Die skryfproses hou vir my min bekoring en heelwat bedreiging in. Ek gaan prewelend en teësinnig na die tikplank toe, maar as ek eers skryf, loop die masjien gewoonlik glad. Met Bodem het ek die voordeel van lesers se verwagting en my eie nuuskierigheid om te sien hoe gebeure oopval.

Hoe lank gaan Bodem uiteindelik wees?

Ek mik na so 120,000 woorde, oftewel ʼn boek van so 380 bladsye. Teen die huidige tempo behoort ons die boek in April te kan publiseer. Maar ek voorsien dat dit net die eerste in ʼn reeks kan wees. Ek het nog baie om oor die onderwerp te sê.

U vra ook kommentaar en kritiek van lesers, wat die interaktiewe moontlikhede van internetpublikasie ontgin. Is dit iets waarmee u graag wil eksperimenteer, naamlik dat u lesers as’t ware kan deelneem aan die skeppende proses rondom ‘n boek?

Beslis! Dis een aspek van die proses, juis met Bodem, wat ek baie geniet. En die deelnemers het ʼn uitwerking. Hierdie afgelope week het hulle drasties ingegryp toe ek een van die hoofkarakters wou laat afsterf.

Ek beskou Bodem as ʼn soort laboratorium waarin ons saam die meganika, die uitwerking en die bestuur van so ʼn apokalips kan bestudeer. Praag se lesers is buitengewoon intelligent en goed ingelig en hulle en hulle menings weeg swaar by my.

U woon tans op ‘n plaas in die Vrystaat. Verkies u die rustigheid van die platteland of het ‘n mens ook die stimulasie van die stad nodig? Of is ons almal deesdae via die internet in elk geval met die hele wêreld verbind sodat die verskil tussen ‘n stedelike en plattelandse bewussyn vervaag?

Kyk, ek is ʼn boorling van Brakpan wat nou in ʼn verruklike vallei in die Oos-Vrystaat woon. Miskien is ek net subjektief, maar die berge, klowe en rivier hier is vir my net soveel aanskouliker as mynhope en taxi-parkades. Wie sou nie hier wou bly nie? En ja, met die internet en sosiale media tot my beskikking, selfs TV toe ek nog sterk genoeg was om daarna te kyk, het ek al die nodige stimulering. So ek werk en leef baie lekker hier. Maar ek is seker dat ek ʼn woordverwerker, goeie musiek, goeie koffie en my hond, BlouDraadt Venter, by my het, ek net so gemaklik in ʼn spoorwegvraghouer in Sunnyside sou kon werk.

Terloops, ons het ʼn pragtige gastehuisie op die plaas. As enige iemand hier wil kom inboek om te kom saamklets oor politiek, Afrikaner-dinge en Bodem, laat weet my net en ek sal vir julle inligting met betrekking tot tariewe ensovoorts aanstuur.

Hoe sou u die mens Gustav Venter in ‘n paar sinne opsom?

Net een is nodig: Ek is ʼn fantastiese minnaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.