Snowden vrees vir sy lewe na openbare doodsdreigemente

Deel op
Loer oor sy skouer
Loer oor sy skouer

Edward Snowden se Russiese regsverteenwoordiger het Dinsdag gesê die voortvlugtige Amerikaner vrees vir sy lewe.

Openbare doodsdreigemente is onlangs deur ongeïdentifiseerde Pentagon-beamptes gemaak.

Volgens die asielsoeker se regsverteenwoordiger Anatoly Kucherena word Snowden deurentyd deur veiligheidswagte vergesel en oorweeg hy maatreëls om sy veiligheid op te skerp.

“Daar is werklike dreigemente op sy lewe daar buite wat beslis bestaan,” het Kucherena aan Rusland se Vesti 24-nuuskanaal gesê.

“Hierdie dreigemente spel fisieke wraak op Edward Snowden uit,” het hy verklaar.

Die voormalige werknemer van die Nasionale Sekuriteitsagentskap word deur Amerikaanse owerhede gesoek op aanklag van verraad.

Die 30-jarige Snowden het inligting oor omvattende intelligensie-insameling van die Amerikaanse regering – wat miljoene telefoonoproepe en e-posse wêreldwyd sonder toestemming monitor – gelek.

Die Amerikaanse spioenasieveldtog behels onder meer ook die van verskeie staatshoofde wat die VSA goedgesind is.

Een van die Amerikaanse teikens, die Duitse kanselier Angela Merkel, het die meeluistering met dié van die gehate, eertydse kommunistiese Oos-Duitse Stasi vergelyk.

Kucherena het glo verwys na ’n artikel op die webwerf Buzzfeed, getiteld “American Spies Want Edward Snowden Dead”.

In die artikel het ‘n Pentagon-beampte sonder meer verklaar: “Ek sal baie daarvan hou om ’n koeël in sy [Snowden se] kop te jaag.”

“In ’n wêreld waar ek nie daarvan weerhou word om ’n Amerikaner dood te maak nie, sou ek self gaan en hom doodmaak,” het ’n NSA-analis ook gesê.

Volgens een se grafiese beskrywing sou dit goed wees indien Snowden onverhoeds in die openbaar ‘n stadigwerkende gifstof toegedien word en dan mettertyd by sy tuiskoms besef dat hy stadig en pynlik gaan sterf.

Tydelike asiel is in Augustus in Rusland aan Snowden toegestaan, nadat hy eers in Hong Kong aangeland het.

Kucherena het voorheen gesê Snowden werk van die huis af as ’n IT-adviseur vir ’n groot Russiese webwerf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.