Anargie, geweld, winste as Amcu-staking misluk

Deel op

amcu3Die komende staking by platinummyne deur die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by die platinum- en goudprodusente kan tot geweld lei, skryf ‘n arbeidskenner Jan de Lange in Sake24.

De Lange sê omstandighede by die platinummyne van Anglo American Platinum, Impala Platinum (Implats) en Lonmin, is uniek en verskil van dié by goudmyne.

Die goudmyne waar Amcu gaan staak, is nie marginale myne nie en sluimerende geweld weens ‘n arbeidsgeskil word nie in die vooruitsig gestel nie.

Daarbenewens kan die drie groot platinumprodusente baie baat by ’n uitgerekte staking aangesien dit ‘n geweldige prysstyging op die wêreldmark kan beteken weens die skaarsheid die metaal wat ‘n loondispuut tot gevolg kan hê.

Dit kan selfs die redding vir verliesmakende myne beteken om nie nou te produseer nie omdat ’n staking geen of min lopende koste inhou.

De Lange glo daar is oorgenoeg tekens van ’n “derde mag” wat arbeidsverhoudinge op die platinummyne probeer in die wiele ry en geweld aanhits.

Verskeie sluipmoorde en geïnstigeerde rebellies teen Amcu om NUM se afgang te probeer stuit, kan tot hernieude konflik lei wat die toekoms van die bedryf in die land in die weegskaal kan plaas.

Stakings by platinummyne was lank voor die Marikana-slagting reeds gewelddadig.

Werkers sal waarskynlik nie weer by die NUM aansluit as hulle vertroue in Amcu verloor nie, want die ontnugtering met die NUM is te groot.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het ‘n geskiedenis van uitbuiting deurdat hulle werkers by platinummyne al vir dekades lank as kanonvoer vir politieke loopbane en korrupsie misbruik het, skryf De Lange.

Platinummyners voer ’n sukkelbestaan van armoede terwyl hulle een van die waardevolste grondstowwe in die wêreld moet myn.

Amcu eis ’n basiese loon van R12 500 per maand wat deur werkerkomitees ná die Marikana-slagting besluit is.

As Amcu die vertroue van platinummynwerkers verloor, sal dieselfde werkers weer hul eie werkerkomitees vorm, wat tot ‘n bedingingskrisis sal lei.

Werkerskomitees skep anargie want kommunikasie stort daarmee in duie met ‘n kakofonie van stemme en eise wat daaruit opklink.

Die bemiddelaars wat ná die Marikana-slagting met hierdie komitees probeer redeneer het, het dit tot hul skok ontdek. Amcu het juis hierdie anargie gestuit toe hulle op ‘n kritieke tydstip tussenbeide getree het.

De Lange sê ‘n terugkeer na werkerskomitees kan die einde van Suid-Afrika se platinumbedryf beteken.

As Amcu die werkers se vertroue verloor, sal die platinumprodusente ongelukkig ook nie veel slaap daaroor inboet nie. Vir hulle is daar groot winste in die vooruitsig.

Vir die mense in die platimungordel egter, sal dit nag word.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.