‘Polisie het nie namens Lonmin by Marikana opgetree nie’

Deel op

marikanaBrigadier Adrian Calitz, het ontken dat die polisie-operasie by op 16 Augustus 2012 te Marikana daarop gemik was om die staking deur Lonmin-mynwerkers te beëindig.

Calitz was die polisie se operasionele bevelvoerder tydens die gebeure naby Rustenburg toe twee twistende vakbonde, Amcu en NUM, mekaar die stryd aangesê het.

Die eerste voorvalle van geweld is aangemeld op 11 Augustus 2012 toe NUM-leiers op hul eie NUM-lede wat wou staak, geskiet het. Hulle wou waarskynlik verhoed dat lede oorloop na hul mededinger Amcu.

Die geweld wat daarna losgebars het, het die daaropvolgende drie dae gelei tot die dood van agt mense, waaronder stakers, polisielede en sekuriteitspersoneel by die myn.

Tydens kruisondervraging deur advokaat Dali Mpofu, ‘n lid van Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Calitz gesê die polisie se enigste doelwit was om openbare orde te handhaaf.

Mpofu is die regsverteenwoordiger van die families van mynwerkers wat in die voorval dood is. Hy verteenwoordig nie die polisielede of sekuriteitspersoneel wat tydens die oproer vermoor is nie.

Mpofu het vroeër aan die kommissie gesê dat daar bewyse is dat die polisie inligting oor die bewegings van die mynwerkers van Lonmin se bestuur en veiligheidspersoneel ontvang het.

Volgens Mpofu het dit die vermoede laat ontstaan dat die polisie met Lonmin saamgewerk het om die staking te beëindig, en nie onafhanklik opgetree het nie.

Die ANC se adjunk-president Cyril Ramaphosa se ​​oproep vir “meegaande optrede” en die weermag se betrokkenheid in die Lonmin-staking was ‘n “eufemisme vir dodelike geweld”, het Mpofu vroeër gesê.

Hy het Ramaphosa se rol belig tydens kruisondervraging van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) se president Senzeni Zokwana voor die Marikana-kommissie van ondersoek.

Die dood van 44 mense tydens ‘n onbeskermde staking deur rotsbooroperateurs in diens van Lonmin, word deur sommige ontleders voor die deur van Ramaphosa gelê, aangesien sy maatskappy Shanduka 18% van Lonmin besit.

Mpofu het verwys na ‘n ketting van e-posse waarin Ramaphosa die ontplooiing van die weermag en die polisie vir “meegaande optrede” wat geneem moet word, aanbeveel om die staking te beëindig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.