Die polisie sê ‘n derde persoon is by Mothutlung, naby Brits tydens die oproer dood nadat hy uit ‘n polisie-Nyala gespring het.
Twee oproermakers is vroeër doodgeskiet deur die polisie nadat inwoners die strate ingevaar het oor ‘n tekort aan water.
Die aangehoudene het glo uitgespring om uit aanhouding te ontsnap. Vroeër is berig dat nog twee mense beseer is tydens die opstand en in die hospitaal behandel word.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek al drie sterftes.
Die vakbond Numsa het die voorval veroordeel waar die polisie na bewering op lede van die Mothutlung gemeenskap naby Brits in Noordwes geskiet het.
Die minister van waterwese, Edna Molewa, het Dinsdag gesê die gebrek aan water kon doelbewus geskep gewees het.
Tegnici wat gemoeid is met die onderhoud aan die waterpompe het egter aan Praag gesê dat die munisipaliteit nie voorsorg tref om behoorlike instandhouding te doen nie.
‘n Woordvoerder van Numsa, Castro Ngobese sê hulle doen ‘n beroep op die minister van Polisie, Nathi Mthethwa en die nasionale polisiekommissaris,
Veertien mense wat tydens die oproer in hegtenis geneem is, is intussen met ‘n waarskuwing vrygelaat.
Die Noordwes-polisie het gesê die 14 is aangekla van die oortreding van die Nasionale Padverkeerswet.
Hulle het vlugtig in die landdroshof op Brits verskyn. Die saak is tot aanstaande maand uitgestel.