Onluste kan op kampusse uitbreek as eerstejaars weggewys word

Deel op
Toneel van die stormloop by die UJ aan die begin van 2012
Toneel van die stormloop by die UJ aan die begin van 2012

Terrwyl ‘n rekordaantal matrieks einde 2013 met universiteitsvrystelling geslaag het, het universiteite egter nie plek vir die massas nuwe eerstejaars nie.

Die aantal matrieks met vrystelling om verder te studeer, het van 136 037 in 2012 tot 171 755 gestyg. Persentasiegewys verteenwoordig dit ‘n toename van 26% en die bykomende getal potensiële eerstejaars is 35 718.

Baie min van dié aspirant-studente het egter goeie wiskunde- en wetenskappunte. Van die 142 666 matrieks (uit ‘n totaal van meer as halfmiljoen) wat wiskunde geskryf het, het slegs 15,6%, oftewel 22 255, meer as 60% in dié sleutelvakke gekry. Terwyl die universiteite tienduisende studente wegwys, word daar amper vuisgeslaan om kandidate met wiskunde na kampusse te lok, met beloftes van afslag op studiegeld, selfs vir blanke studente teen wie daar gewoonlik gediskrimineer word.

Aan Suid-Afrika se 22 residensiële universiteite, dus met die uitsondering van UNISA en ander inrigtings vir afstandsonderrig, is daar plek vir slegs 127 827 eerstejaars.

Blykbaar is die volgende getalle aansoeke reeds ontvang:

  • 35500 matrikulante het by Wits aansoek gedoen, wat 5 500 eerstejaars toelaat;
  • 75 000 het vir die 10 500 eerstejaarplekke aan die Universiteit van Johannesburg aansoek gedoen;
  • 16 000 wil Stellenbosch toe gaan, wat 5 000  plekke het;
  • in die Oos-Kaap is meer as 25 000 aansoeke deur Port Elizabeth se Nelson Mandela-universiteit ontvang, wat 5 800 eerstejaars gaan toelaat;
  • 40 000 wil een van die 4000 plekke aan die Universiteit van Wes-Kaapland bekom;
  • 27 435 voornemende studente het aansoek gedoen vir die Universiteit van Kaapstad wat net 4 200 toelaat. Blykbaar is 19 838 van die aansoekers matrikulante;
  • 16 500 probeer by Kovsies inkom, terwyl die universiteit slegs 6 900 kan aanvaar; en
  • 80 000 het vir die 14 000 plekke by die Tshwane-universiteit van Tegnologie aansoek gedoen.

Oor die algemeen probeer die universiteite situasies vermy soos wat in Januarie 2012 gebeur het toe ‘n stormloop van swart studente by UJ die dood van ‘n matrikulant, Gloria Sekwena, veroorsaak het. Gegewe die potensiaal vir kampusonluste indien groot skares studente weggewys word, vereis die meeste universiteite dat studente aanlyn op sogenaamde “portale” moet aansoek doen en registreer.

Volgens ‘n woordvoerder van UWK, Luthando Tyhalibongo, het die universiteite se geoutomatiseerde stelsel reeds 20 000 van die 40 000 aansoeke verwerp omdat hulle nie aan die maatstawwe voldoen nie.

Terwyl daar in die buiteland algemeen beweer word dat universiteitstudie “tydens apartheid van swart studente weerhou is”, het die vorige NP-regering al die bestaande universiteite laat oprig. Die ANC het egter onlangs aangekondig dat twee nuwe universiteite tans gebou word, die Universiteit van Mpumalanga in Nelspruit en die Sol Plaatje-universiteit in die Noord-Kaap. Na verwagting sal dié twee “postapartheiduniversiteite” vanjaar onderskeidelik 240 en 124 studente inneem.

Terwyl die ANC-regering miljarde rande stort in SETAs en kolleges vir verdere opvoeding en opleiding (VOO), toon statistieke dat iemand sonder ‘n VOO-kwalifikasie eerder werk kry as ‘n individu mét so ‘n kwalifikasie. Die VOO-sektor word as “chaoties” beskryf.

Op die wiskundefront stagneer die land en hoewel daar 57 000 aansoeke vir onderwysstudie ontvang is – waarvoor daar rnet 5 053 plekke aan al die universiteite bestaan = is daar bloedweinig studente wat beplan om wiskunde-onderwysers te word.

Volgens die dekaan van die onderwysfakulteit aan die Universiteit van Pretoria, Irma Eloff, “moet ons in wiskunde, wetenskap en Afrikatale die syfers nog heelwat opstoot”.

Univerrstieite lei ook studente op in polities korrekte vakke soos Afrikstudies, vrouestudies en ander, waarvoor daar geen vraag in die ekonomie bestaan nie. “Hulle produseer groot getalle graduandi in lettere en geesteswetenskappe, waarvoor daar nie ‘n behoefte in die werkplek bestaan nie,” sê Loane Sharpe, ‘n arbeidskonsultant. “Daar is egter nie genoeg ingenieurs, dokters en wetenskaplikes nie. Hul getalle, asook dié rekenmeesters, behoort jaarliks met tussen 8% en 10% toe te neem vir die ekonomie om te groei.”

Pleks daarvan, neem die getalle van sulke geskooldes met net 0,1% tot 2% per jaar toe. Dit veroorsaak dat “die status quo sal bly. Universiteite sal plekke vir die elite bly, asook vir studente wat in wiskunde en wetenskap presteer.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.