Dora Scott en die neo-verkramptes

Deel op

Vanweë die subintellektuele kwaliteit van LitNet se Vryepoort-meningsvormers het ek besluit om voortaan briewe aan LitNet te boikot. My skrywes kom bowendien selde deur die sensuurfilter, terwyl mense wat nie eens die moeite kan doen om hul standpunte goed te ondersoek of onderbou nie aan die groot klok gehang word. Dit wil voorkom asof die Marxistiese verheerliking van die onderklas selfs op intellektuele vlak sy tol geëis het. Binnekort sit ons in die post-industriële neo-Middeleeue en moet ons as Westerlinge pynlik toegee dat selfs buite Europa ons nie aan die geskiedenis se groot gevangenis kan ontsnap nie.

Deel op

Ene Dora Scott is op Vryepoort ‘n platform gegun om allerlei verregaande twak oor Afrikaners kwyt te raak. Ek het haar naam gegoogle en ontdek dat dieselfde naam ook verskyn as hoofredakteur van die Stellenbosse studentekoerant Die Matie. Ek neem aan dis dieselfde persoon. In haar swak vertoog, wat eintlik nie eens die moeite werd is om op te reageer nie, beskryf sy Afrikaners as ‘n "vreesbevange, sensitiewe groep mense". Afrikaners is eerder behep met beoordelaars se "aanval" op die Afrikaner, in plaas van hul bedenklike musiektalent op Idols. Sy plaas die woord "aanval" tussen aanhalingstekens, met ander woorde dit vind nie werklik plaas nie. Die plaasmoorde en dergelike wantoestande is alles net "sogenaamd". Afrikaners "praat nie oor die geleenthede wat in die land is en geskep word nie, maar bekla die feit dat hulle nie eerste in die ry mag staan om die geleenthede te kan ontvang nie". Volgens haar is Afrikaners mense wat nie sinvol kan debatteer nie, maar voortdurend gespreksforums gebruik om hul vrese en tekortkominge uit te basuin.

Afrikaners is haars insiens op hul knieë gedwing deur hul eie woede en onsekerheid, maar is nie bereid om ander volke te aanvaar nie. Foeitog! Arme Afrikaners. ‘n Mens moet hulle eintlik jammer kry.

Vandag kan die parallel tussen Afrikaners en Jode uit die dertigerjare van die vorige eeu nie misgekyk word nie. In wese is daar geen verskil tussen die patroniserende nonsens wat Scott hier kwytraak en Fritz Hippler se 1940 Nazi-propagandafilm Der Ewige Jude nie. Afrikaners ly aan ‘n soort geestelike swakheid. Hulle kan nie uitreik na ander volke nie en is daarom eenvoudig net onversoenbaar met die politieke ambisies van die huidige regime. Volgende gaan sy seker sê dat Afrikaners dit verdien om uitgemoor te word, want anders as Amerikaners glo Afrikaners nie in hulself nie (??).

Meningsopnames het aangetoon dat minder as ‘n derde van die swart Suid-Afrikaners en minder as ‘n vyfde van die Engelstalige blankes in Suid-Afrika vind dat Afrikaners onbehoorlik op voorregte aandring. Meer as 70 persent van die Afrikanergemeenskap vind dat al Suid-Afrika se tale bygestaan moet word om net so belangrik te word as Afrikaans en Engels. Daarbenewens het Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer in ‘n meningsopname gevind dat Suid-Afrika se Indiërgemeenskap nog minder tevrede is oor die huidige regime se onderwysstelsel en meer aandring op die handhawing van hul kultuur as Afrikaners. Ironies genoeg staan hierdie inligting in LitNet se argiewe, dieselfde mense wat toelaat dat Scott, Pienaar en andere sulke protofascistiese snert kwyt kan raak.

Jean-Paul Sartre het in ‘n opstel geskryf dat anti-semitisme die Jood voortgebring het, en nie andersom nie. Ons kan dieselfde sê van Afrikaners. Rassisme, vooroordeel en xenofobie het die Afrikaner voortgebring. Kyk maar hoe het grootse Afrikaners internasionaal gepronk as "South Africans" en sodra hulle ten onder gegaan het, word hulle weer as "Afrikaners" voorgestel. Afrikaners word altyd uitgesonder as sondebok waarmee die land se ellende verklaar kan word en Scott beaam dit klakkeloos.

Ons kan seker stel dat Dora Scott ‘n naïewe student is. Studente is mense wat so pas geleer het om kritieser en wyer te dink as wat die skoolsisteem hulle toegelaat het. Die wondere van kritiese denke het ‘n euforiese werking op die vroeë-stadium intellektuele, maar al te dikwels word polities aktiewe studente se standpunte eerder deur hormone bepaal as deur gesonde verstand, hoewel hooggeleerdes ook nie altyd hiervan gevrywaar kan word nie. Ons hoop maar haar poging is ‘n intellektuele groeipyn en dat sy weldra ewewigtiger standpunte sal inneem.

Dit sal egter ‘n fout wees om haar standpunt te minag. Sy is ‘n teken van die tyd. Arthur Schopenhauer was 30 jaar oud toe hy sy Die Welt als Wille und Vorstellung gepubliseer het. Albert Einstein het op die ouderdom van 26 jaar sy Algemene Relatiwiteitsteorie die lig laat sien, en Nietzsche het al op sy tiende lewensjaar ‘n musiekstuk geskryf vir ‘n simfonieorkes. Vandag vlei die linkse Britse dagblad The Guardian ‘n talentlose en misdadige onderwêreldfiguur soos Puff Daddy as "Some of America’s biggest minds". The Guardian wil ons voorhou dat tekste soos "I kill for a hobby" en "Blew his brains out ‘cause witnesses we don’t need" die wyse woorde is van ‘n diepsinnige intellektueel. O tempora! O mores!

Die Verligting is besig om ‘n keerpunt te bereik. Selfs die illustere Harvard Universiteit ontkom nie aan hierdie ekstreem linkse plaag nie, soos sy president Larry Summers kan getuig. Hy was byna die slagoffer gewees van ‘n heksejag omdat hy politiek inkorrekte uitsprake durf maak het wat op die alledaagse persoon waarskynlik geen indruk sou gemaak het nie. Ons leef in ‘n tydperk waarin wetenskap onderdanig aan politiek gestel word en standpunte wat lynreg bots met wetenskaplike bevindings word massaal as waarhede gepropageer. Banaliteit en selfs barbaarsheid word opgehemel as iets esteties. Daar is nie meer so iets soos beter of slegter uitdrukkings van kuns of literatuur nie, maar slegs verskille. Puff Daddy kan in dieselfde asem genoem word as Mozart. Eintlik wil LitNet aan ons by implikasie voorgee dat Scott en Pienaar se standpunte op dieselfde vlak verkeer as die room van Suid-Afrika se denkers soos Van Wyk Louw, Hermann Giliomee, C. Louis Leipoldt en ander.

Sulke gelykheidsgedagtes vind nie hul oorsprong in die onderklas self nie, maar in die ivoortorings van die (linkse) intellektuele elite. Hierdie geleerdes wil graag hul teoreties gefundeerde "humane" denkbeelde van bo af op die bevolking afdwing, sonder om rekening te hou met die direkte belewenisse van die mense onderaan. Die intelligentsia, soos die Britse psigiater Theodore Dalrymple gestel het, maak van die onderklas ‘n kaste. Hulle hok die onderklas in deur hul lewenswyse op te hemel. Intellektuele selfdissipliene en ambisie word gesmoor juis deurdat ‘n gebrek aan ‘n intellektuele instelling voorgehou word as iets esteties.

Om sulke naïewe meningsvormers soos Scott ‘n platform te gee het ‘n negatiewe werking op die intellektuele tydsgees van enige generasie. Hul menings word nie krities ondersoek nie en wemel van dubbelsinnighede en onsamehangendhede. Dit is wel polities korrek en daarom geoorloof. Hierdie mense wat blind is vir die regime se terreurveldtog, is die verkramptes van ons tyd. Hulle is die neo-verkramptes.

Die groot ironie van LitNet se Vryepoort is egter die manier waarop dit aangebied word. Die inhoudsredakteur beweer dat die debatte vanuit ‘n sielkundige en sosiologiese perspektief benader word en hou voor dat hierdie webwerf bestem is vir "ingeligte menings en standpunte". Ek sal volgende keer maar my filosofieboeke en sielkunde navorsingsartikels wat in die loop van jare my hele kamer vol lê op straat gooi en myself verdiep in die ingeligte mening van Lauren Thys en andere. Miskien is dit about time dat ek van my moral high ground afklim en met ignorance admit dat ek disconnected is.

Sjoe! Wat ‘n moerse enlightenment beleef ek nou!

стоматологияпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.