Dertig lede van die ANC sal vandag in die landdroshof op Nkandla in KwaZulu-Natal op aanklagte van openbare geweld verskyn .
Hulle is die naweek in hegtenis geneem toe hulle die Ekonomiese Vryheidsvegters glo wou verhoed om ‘n huis aan ‘n behoeftige gesin by Nkandla te oorhandig.
Julius Malema, EFF-leier, wou namens sy party die huis neffens Nkandla aan ‘n arm gesin gee.
Ontstoke ANC-lede het hom ook met waterbottels bestook en verskeie polisievoertuie beskadig.
Die ANC in KwaZulu-Natal het die konfrontasie tussen die ANC en EFF Sondag skerp veroordeel.
Senzo Mkhize, ‘n provinsiale woordvoerder, het gesê hulle sal ondersoek instel na die voorval.
“Sommige van ons was nie daar nie, ons was by Mbombela. So nou probeer ons inligting uit hulle te kry. Ons sal die nodige stappe neem, want ons wil nie die indruk skep dat daar geen politieke verdraagsaamheid in KZN is of vrye aktiwiteit nie. “
Hy het bygevoeg dat die ANC wil toesien dat alle partye vryelik veldtogte voer sonder enige inmenging.