Dalene Mathee sou ontsteld gewees het om te verneem van die olifant wat in die Knysnabos gewaar is.
Die olifant is pas in die Knysnabos deur ‘n versteekte kamera gefotografeer. Die kamera is opgestel vir luiperd-navorsing.
Voor haar dood het die skrywer, wie se bosromans wêreldwyd roem vir die Knysnawoud en sy legendariese olifante verwerf het, te velde getrek teen enige toersime-foefie rakende die olifante.
Die Knysna-olifante is veronderstel om besonder aggressief te wees.
Matthee, bekroonde skrywer van die bostrilogie en ‘n ere-boswagter, was ook bitter gekant teen die olifanthervestigingsprojek.
“Ek is siek en sat van die mens se inmenging. Eers word hulle uitgeskiet, en nou word hulle sonder ‘n keuse verskuif. Olifante is spesiale en hoogs intelligente diere. Hul manier van kommunikeer is bo die mens se verstand en hulle het ‘n spesifieke sosiale struktuur. Iets in my staan op daarteen.”
Sy was ook tot haar dood erg gekant teen die beheerde eksperiment om die uitsterwende troppie in die Knysnabos te red deur olifante van die Krugerwildtuin in te voer.
‘n Woordvoerder van SANparke, Nandi Mgwadlamba, sê die foto bewys dat die Knysnabos een van min plekke is waar olifante nog natuurlik voorkom.
Honderde wilde olifante het in die 1800’s in die Knysnawoud voorgekom, maar hulle is deur ivoorjagters en die verlies van habitat uitgeroei.
Olifantjag in die 1920’s is beskryf in die outobiografie van majoor PJ Pretorius in Jungle Man.
Die laaste keer wat ‘n olifant in die gebied opgemerk is, was volgens berigte in 2000, toe die wetenskaplike en skrywer, Lyall Watson, ‘n olifantkoei reg by die rand van die bos op die kuslyn gewaar het.
Daar, in die see net ‘n klipgooi ver, was ‘n blou walvis.
Watson het die diep gedreun van die olifantkoei gehoor terwyl sy uitstaar uit na die see waar die walvis was, en die hele prentjie het hom oortuig dat sy met die walvis wou kommunikeer.
Die bewaringskundige Gareth Patterson het DNS bewyse gevind dat ‘n trop van vyf of meer olifante nog in die bos woon.