Metropolisie skiet smous in Pretoriase middestad

Deel op

vendors‘n Smous is doodgeskiet in Pretoria se middestad vir die weiering om sy voorraad aan Tshwane se metropolisie te oorhandig, het die Tshwane Handelaarsforum Donderdag gesê.

Die forum se voorsitter, Shoes Maloka het gesê Foster Jan Rivombo is Woensdag doodgeskiet deur ‘n metropolisiebeampte wat sy voorraad appels en piesangs wou konfiskeer .

Tshwane metropolisie se woordvoerder Isak Mahamba het vrae verwys na die burgemeesterskomitee se woordvoerder Blessing Manale , wat nie gister vir kommentaar bereik kon word nie.

Die Franse nuusagentskap Agence France- Presse het berig dat die polisie die saak ondersoek.

Die smouse het glo begin klippe gooi na die metropolisie, waarna hulle skote afgevuur het.

Die man wat geskiet is, was in sy vroeë dertigs en is dood nadat hy na die hospitaal geneem is.

Hy is glo in koele bloede geskiet, het die omstanders gesê.

Nadat die metrobeampte hom geskiet het, is hy in ‘n bakkie gelaai en het die beamptes nie ‘n ambulans ontbied nie, vir ongeveer drie ure lank.

Sommige smouse het ingegryp en geëis dat ‘n ambulans geroep word. Die polisie het die smouse wat tussenbeide getree het, in hegtenis geneem. Hulle is glo steeds in aanhouding.

“Die metropolisie bestuur hierdie stad soos ‘n mafia. Ons is aan hul genade oorgelaat,” het een smous gesê.

Die polisie kom glo daagliks en vra omkoopgeld en as hulle weier om te betaal , word hul voorraad weggeneem, sê hy.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.