
‘n Moordaanslag op ‘n senior polisiebeampte en ‘n privaat forensiese ondersoeker wat gekoppel word aan ‘n ondersoek na die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir, is Donderdag gefnuik na ‘n dramatiese aanval op ‘n Johannesburgse hotel.
‘n Taakspan het die Rivonia Road Lodge laat Donderdagmiddag bestorm, net ure voor drie mense, waaronder ‘n 23-jarige vrou, glo saamgesweer het om kolonel Nkosana “Killer ” Ximba en Paul O’Sullivan te vermoor.
O’Sullivan hou reeds Krejcir se bewegings dop sedert hy in 2007 uit die Seychelle in die land aangekom het.
Krejcir het by meer as drie geleenthede gedreig om hom te laat vermoor.
Die polisie se spesiale taakspan wat gemoeid is met die ondersoek na die mafiabaas se onderwêreldbedrywighede, het ‘n wenk oor die beplande moord ontvang.
Vroeër Donderdag het ‘n Johannesburgse regter aan Krejcir borgtog geweier. Hy word beskuldig van ontvoering en poging tot moord.
Krejcir, twee van die Valke van Germiston en ‘n Sandtonse eiendomsontwikkelaar word daarvan beskuldig dat hulle in Junie die ontvoering en marteling van die broer van ‘n handlanger van Krejcir gereël het, wat na bewering 25kg tik van hom gesteel het.
Die Tsjeggiese sakeman wou na bewering die vennoot, wat werk by die OR Tambo Internasionale Lughawe, oorreed om hom te help om die dwelms na Australië te smokkel.
‘n Bron sê die drie het beplan om outentieke polisietoerusting te gebruik. Hulle het selfs sirenes en blou ligte gehad, en wou die vermeende slagoffers Donderdag van die pad aftrek en doodskiet. Die twee sou met ‘n R5-polisiegeweer vermoor word.
O’Sullivan het laasnag aan timeslive.co.za gesê hy het van die beplande moordkomplot te hore gekom nadat hy drie mans buite sy huis opgemerk het.
“Ek het drie mans buite my huis opgemerk en hulle uitgedaag. Hulle het gesê dat hulle misdaadintelligensie-agente is en my vertel van die moordplan teen my wat dieselfde middag sou plaasvind.
“Hulle het my gevra om met hulle saam te werk – wat ek gedoen het – wat toegelaat het dat die beamptes hierdie voornemende moordenaars in hegtenis kon neem,” het O’Sullivan gesê.