Schumacher was glo self vir sy val verantwoordelik

Deel op

schumiskiFranse ondersoekbeamptes sê die sewemalige wêreldkampioenrenjaer, Michael Schumacher, het beslis buite ‘n aangeduide roete in die Franse Alpe geski toe hy op 29 Desember sy balans verloor en met sy kop teen ‘n rots geval het.

Sulke roetes, soms swart roetes genoem, is gewoonlik roetes wat buite die aangeduide ski-bane val met hindernisse wat nie aangedui word nie. Dit is gewoonlik net baie ervare skiërs wat sulke onaangeduide roetes beproef.

Die ondersoekers het weer bevestig dat die veiligheidsaanduidings by die Méribel-oord baie duidelik en streng volgens regulasie aangetoon was.

Die renjaer was tussen ‘n rooi roete, Les Chamois, en ‘n bloue, La Biche, teen ‘n hoogte van 2,700 meter. Hy het die ski’s gehuur en die kamera self aan sy helm vasgeheg voor die uitstappie.

Schumacher en sy seun Mick was eers die oggend op die rooi roete, waarvan hulle later afgewyk het.

Woensdag is bekend gemaak dat twee minute se beeldmateriaal van ‘n kamera op Schumacher se skihelm toon dat hy nie teen ‘n hoë spoed verongeluk het nie. Die spoed waarteen die ervare skiër geski het was “normaal”, sê hulle.

Die rotse waarteen hy geval het, was egter bedek met ‘n ligte laag sneeu wat hulle min of meer verskans het.

Een ondersoeker, kommandeur Stéphane Bozon, sê egter die helling was besonder nou en daar was nie baie plek om dmv draaie spoed te verminder nie.

Schumacher was waarskynlik self verantwoordelik vir die ski-ongeluk en sy ski-helm het waarskynlik ‘n erger uitkoms verhoed.

Hy is die afgelope twee weke in ‘n koma. Sy toestand word beskryf as steeds kritiek maar stabiel.

Ondersoekers het daarop gewys dat daar geen probleme met sy ski’s was nie. Hulle het ook aangedui dat die spoed bereken kan word uit die filmmateriaal, maar dit was nie ‘n element in die ondersoek nie.

Schumacher is steeds in ‘n medies-geïnduseerde koma in ‘n hospitaal in Grenoble na twee breinoperasies.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.