Nog oor die Flip Buys/Lina Spies-debat

Deel op
Lina Spies
Lina Spies

Dit is moeilik om te besluit wanneer ‘n mens genoeg van ‘n debat gehad het. Blykbaar is daar nog voldoende belangstelling in die Flip Buys/Lina Spies-debat. Dit gaan immers om belangrike Afrikanersake. Pieter Hunter van Hermanus se brief (Die Burger, 7 deser, p 8) is nie sonder verdienste nie. Dit is met die opskrif “Moet jy swyg oor korrupsie en waardes?” gepubliseer. Ek haal dit in sy geheel aan.

“Lina Spies het dit teen Flip Buys se ‘retoriek van ‘n verbygegane era.’ Haar opmerkings getuig egter van ondeurdagte ongeduld.

“Soos sy, is Buys geregtig op ‘n mening. Dit is deel van wat NP van Wyk Louw die ‘aristokratiese lewenshouding’ noem wat hy beskryf as ‘die verantwoordelikheidsgevoel teenoor ‘n mens self, dit is die geloof aan ewige geestelike goedere en die geloof dat hul waarde onafhanklik van die goed- of afkeuring van die mense is.’ As Buys dus as pleitbesorger vir tradisionele Afrikanerwaardes optree, is dit nie net sy goeie reg nie, hy verwoord ook die standpunt van duisende Afrikaners wat steeds daardie waardesisteem wil handhaaf. As dit nie by die moderne, liberale denke aanklank vind nie, moet die boodskapper nie geskiet word om die boodskap te smoor nie.

“Spies sal ‘n konstruktiewer bydrae lewer as sy as akademikus saam wil dink oor die handhawing van Afrikanerwaardes in ‘n tydperk waar die individu ten koste van tydlose waardes verafgod word. Sy vra: ‘Wat is die “goeie saak” waarvoor nou gestry moet word en waarvoor ons niks opeis wat ons ander nie gun nie?’ Weet sy nie dat haar moedertaal, Afrikaans, onder beleg is nie? Weet sy nou nog nie dat onderwysstandaarde in staatskole tot onaanvaarbare vlakke gedaal het nie? Moet almal, om politiek korrek te wees, stilswyend toekyk hoe korrupsie toeneem en beskaafde standaarde en oorgeërfde waardes tuimel?

“Van Wyk Louw het ook gesê: ‘Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.’ Wil Spies en haar geesgenote die wortels waaruit sy stam, misken ter wille van ‘ons multikulturele samelewing en die globale werklikheid’?”

Na aanleiding van kommentaar wat op Praag gelewer is, moet ek billikheidshalwe noem dat Spies, anders as haar opvolgers (die huidige dosente in die departement Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch), bereid was (en sekerlik is) om onomwonde vir Afrikaans as tersiêre onderrigtaal in die bres te tree.

Leon Lemmer

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.