Die Flip Buys/Lina Spies-debat

Deel op
Flip Buys
Flip Buys

Deur Leon Lemmer.

Lina Spies se brief oor Flip Buys se uitlatings oor Afrikaners is op 2 deser op Praag gepubliseer. Op 6 deser het Dan Roodt daarna in sy rubriek verwys. Pas het Ferdie du Preez van Bellville verdere kommentaar gelewer (Die Burger, 6 deser, p 8). Ter inligting van Praag-lesers haal ek Du Preez se brief in sy geheel aan.

“Ek verwys na Lina Spies se brief “Nee dankie vir bedreigde Afrikanerskap” (DB, 01.01).

“Ek ken nie Spies of Flip Buys nie. Maar Spies se herhaalde gebruik van die woordjie ‘retoriek’ trek die aandag op haar eie retoriek. Daar is vir my weinig verskil tussen haar retoriek en die retoriek wat die ANC besig. Ek vermoed dat sy, en diegene om haar, van daardie gelukkige blankes is wat hulle in dieselfde ‘bevoorregte’ posisie as dié van voor 1994 bevind. Blykbaar het sy nog nie met die skalpel van oorywerige regstellende aksie kennis gemaak nie.

“Die wyse waarop hierdie beleid toegepas word, het dieselfde vernederende effek op jeugdige blankes, bruin mense en Indiërs as die beleid waaraan swart mense voor 1994 onderworpe was. Ek verwys na genoemde drie rassegroepe, aangesien regstellende aksie nie alleen op Afrikaners van toepassing is nie.

“Spies se bewering dat die huidige geslag jongmense sonder meer ‘vry’ en ‘gelukkig’ is, grens vir my aan ‘n bespotting van die realiteit.

“Ek vind dit jammer dat iemand Buys kan verkwalik dat hy blywende veiligheid en voorspoed begeer vir die minderheidsgroep waartoe hy behoort.

“Ek twyfel of ek ooit een nag rustig sou slaap indien ek, byvoorbeeld, ‘n plaasboer sou wees.

“Spies vra: “Hoe skep ons so ‘n veilige plek?’

“‘n Mens skep dit met onder meer ‘n gedissiplineerde polisiemag, regeringsleiers wat bekwame mense in verantwoordelike poste aanstel en leiers wat nie geld wat vir armes bestee behoort te word, op uitspattighede en ander bedenklikhede uitmors nie. Die agtergeblewenes en armes sien en haat dit.

“‘n Mens skep nie ‘n veilige omgewing deur gedurige massa-aksie, geweldadige arbeidsgerigte betogings, die uitstort van menslike ontlasting (waar die hele wêreld dit kan sien) en ongestrafte vandalisme nie.

“Ek twyfel of my en Spies se voorouers dieselfde oor sake gedink het. Ek glo dat my voorouers vir presies dieselfde waardes sou gestaan het as daardie wat Buys propageer.

“Ek hoop nie ek word ook van ‘dom’ optrede beskuldig nie. Toe daar bandelose geweld in die land was, het ek my deel bygedra om dit te bestry. Toe die geleentheid daarvoor aangebreek het, het ek weer aktief meegewerk aan die skep van ‘n ‘vry’ en ‘gelukkige’ multikulturele samelewing – soos Spies dit pragtig stel.”

Sonder om hulle menings in besonderhede te ontleed, wil dit voorkom asof Buys, Spies en Du Preez elk ‘n mengsel van waarheid en dwaling aanbied.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.