Mugabe minag sy meesters openlik

Image“Go hang a thousand times” het Mnr. Robert Mugabe, tot onlangs ‘n Ridder aan die tafel van Brittanje se Koningin Elizabeth II, deur sy woordvoerder geantwoord toe Westerse regerings druk op hom uitoefen om opsy te staan as regeringshoof.

 
Op sy manier dwing Mugabe se hardkoppige en uitdagende houding ‘n mate van respek af.  Met sy vuis in die lug, en ‘n Bybel om ingesweer te word as staatshoof in die koloniale taal, stuur hy terselfdertyd die boodskap dat die Britte en die Amerikaners in hulle peetjie kan vlieg.
Hy sal doen wat hy moet doen.

Mugabe se vertoon is na alles ‘n duidelike illustrasie dat die voormalige koloniale moondheid se invloed nou sodanig getaan het dat hulle wense en politieke druk op Zimbabwe en op sy regering, nie meer sy gedrag, of die van sy land, noemenswaardig kan beïnvloed nie.

Dit was nie altyd so nie.  Dekades gelede sou geen Afrika staatshoof hom so aan die Britte afsmeer nie. Inteendeel, die Britte, en tot ‘n mindere mate die Franse en Spanjaarde, was supermoonthede wat hulle invloed en wense oor lang afstande op vyandiggesinde mense met geweld afgedwing het.  Europa se politiek en mag was die enigste mag, en hulle politiek was noodwendig die politiek van Afrika, die Amerikas, en van die Ooste. Opstandige stamme of lande is summier ingeval en gedissiplineer.  Opstandige leiers is veroordeel en tereggestel.  In Afrikaanse geskiedenis is beide Slagtersnek en die Anglo-Boereoorlog voorbeelde van Brittanje se koloniale politiek en vermoë, en hulle brutale houding teenoor afvallige onderdane.

In hierdie Eurosentriese wêreld, waaraan baie Afrikaners nog gewoond is, is die aannames van Europese oormag natuurlik en vanselfsprekend.  Die Britte (asook ander Europese lande en die VSA) se ekonomiese en politieke invloed in die Suid-Afrika van 1940 of 1960 was oorweldigend.  Dit was bykans onmoontlik om Suid-Afrika voor te stel sonder Brittanje en haar heersende Koning of Koningin. Toe Suid-Afrika in 1961 uit die Gemenebes gestap het, was dit ‘n traumatiese ervaring aan beide kante.

Maar selfs dit het nie Brittanje se invloed in die land verminder nie. Brittanje het betrokke geraak aan beide kante van die anti-apartheidsbeweging. Terwyl haar burgers in die vorm die Aartsbiskop van Canterbury en Peter Hain teen apartheid gewerk het, het haar regering, later onder leiding van Margaret Thatcher, ruimte vir die SA regering probeer skep om ‘n volskaalse rewolusie te verhoed.

Met Mandela se vrylating in 1990 was Brittanje se internasionale rol uitgedien, en haar koloniale sfeer het teruggekrimp to net Noord-Ierland en ‘n paar onbeduidende eilande in die Atlantiese en Indiese Oseane. Brittanje sit steeds op die Veiligheidsraad, maar het geen noemenswaardige invloed meer nie.  In die onsekere gees omarm die eens magtige Brittanje elke moderne politieke en sosiale gier en soek sy haar waardigheid in ‘n rol as ‘n “middle power” buitelands, en binnelands as ‘n post-moderne pretpark.

Nelson Mandela, gebore ‘n Britse onderdaan, vier sy 90ste verjaarsdag in London en kondig daar aan dat hy die openbare lewe verlaat.  Hiermee oorhandig hy sy morele nalatenskap aan die Britte. As voormalige koloniale onderdaan egter, kry Mandela uiteindelik die morele oorhand oor sy voormalige heersers, beide in Brittanje en in Suid-Afrika.

Die ommekeer in die verhouding tussen Mandela en sy voormalige Britse koloniale heersers, en Mugabe se houding teenoor die Britte, mag dalk onverwant klink. Daar is egter ‘n gedeelde onderstroming:  In beide gevalle het die magsverhouding omgekeer.  In Mandela se geval defineer sy visie Brittanje se toekoms, en in Mugabe se geval ontbloot dit Brittanje se impotensie en haar dekadente ondergang.

Brittanje, eens magtig en invloedryk, se dekadensie is nou volbring.

Groot dele van Europa, asook Brittanje, is besig om ‘n radikale verandering te ondergaan.  In Brittanje se geval is immigrasie besig om haar Engelse populasie in die geheel te vervang. Lae bevolkingsaanwas en baie immigrante werk saam om Mandela se Brittanje te skep; ‘n sosiale eksperiment in ‘n multikulturele milieu met ‘n onbekende uitkoms.   Die ondergang van Engelse en Skotte as outentieke Britte ontneem Brittanje van haar identiteit en daarmee die bron van haar mag en invloed.

Brittanje steier vandag onder die nagevolge van die bomontploffings in London in 2005, is bekommerd oor radikale Moskees in Birhingham, Lancashire en Manchester, is volslae impotent in Irak en Afghanistan, kan net magteloos toekyk in Zimbabwe, en het feitlik geen invloed meer op internasionale vlak nie.

Die laaste gesogte Britse eer is Ridderskap. Politieke leiers en sportsterre, filmsterre en popsterre, besigheidsmans en skrywers, staan letterlik tou om tot Ridder geslaan te word. In die tou was Robert Mugabe, en in 1994 word hy tot “Knight Commander of the Order of the Bath” deur Koningin Elisabeth II geslaan. Dit was na die moorde in Matabeleland, en dit was die Britse poging om Mugabe te beinvloed en te beheer.  Die eens magtige Ryk voor wie menige dapper vegters geswig het, was in 1994 reeds gereduseer tot ‘n impotente pretpark wat haar hoogste eer aan moordenaars en popsterre gee.

Brittanje het geen rede meer om te wees nie. Terwyl naragtige diktators haar uittart word haar geskiedenis voor ons oë uitgewis terwyl haar mense soos mis voor die môreson verdwyn en verander in wêreldburgers wat geen erg vir haar het nie.

Robert Mugabe bal sy vuis en sê: “Go hang a thousand times”!

Die oorblywende Britte wat dit hoor trek hulle skouers op en klim in die volgende karretjie in die pretpark.  Koningin Elisabeth II het hom darem van sy Ridderskap gestroop, en meer as dit kan sy nie doen nie.

Die koloniale dae is verby.

ветровка пеликан для девочкиОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.