‘Uit die volksmond’

Deel op

fightingdeur Willem de Jager, Sendai, Japan.

Sondag merk ek ‘n interessante ontwikkeling in die briewekolom van Rapport op.

In sy brief uit Suid-Korea, “Wat ‘n vriend het ons in FW”, reken Pieter Reynecke dat Afrikaners nou “skielik” vry is en bedank hy “oom” FW en Madiba vir daardie vryheid.

Hy merk dat Afrikaners “van die beste motors” ry en in “enorme” huise woon.

Elke man is geregtig op sy interpretasie van die realiteit. Maar hier is die opwindende deel: In plaas van die gebruiklike inskiklikheid van ‘JA-stemmers’ of die stilswye van ‘NEE-stemmers’ (as ek so ‘n pre-1992 onderskeid kan tref) vind daar toe ‘n ander ding plaas.

Mense het aan die praat geraak. Daar is Afrikaners wat weet van ‘n Suid-Afrika voor ‘the bad old days of Apartheid’ die amptelike refrein geword het.

Dis die perspektiewe van sulke ingeligtes wat die gesprek verhef het uit die arena van beledigings slinger.

So herinner ene “Cyberjerk Ingram” ons daaraan dat FW en die NP redelik gou tot die vergetelheidsfeer vervaag het na afloop van die oorgawe.

Hy onthou dat selfs ‘n Engelse joernalis, Ken Owen, toegegee dat “FW de Klerk went way beyond his mandate” en stel sy oorgawe gelyk aan “criminal treason against the Afrikaner”.

Eweneens onthou “Halala Mandelatopia” dat FW destyds onder andere “Sterk en doelgerigte leierskap” en “Veiligheid, vryheid en voorspoed deur geregtigheid” beloof het.

Elkeen van FW se beloftes is natuurlik sedertdien verbreek.

As meer Afrikaners hierdie bewustheid het, dan sal ons van beter weet as om die toenemend onderdrukkende status quo sondermeer te aanvaar of om ons aan die “ongekende Afrikanerwelvaart” te troos waarna Reynecke in sy brief verwys.

Dit is buitendien vir meer en meer Afrikaners eenvoudig nie waar nie.

Daar is ook diegene wat braaf genoeg is om onder hulle eie name te debatteer soos Chris Pretorius wat wonder of sou dit die “spul ‘leunstoel-krygers’… gepas het as FW & kie liewer ‘n oorlog aan die gang gesit het..?”

Cathy Kotze reageer met “daardie oorlog word steeds gevoer. Op ons plase teen weerlose boere. In ons swart woongebiede teen weerlose kinders en vroue. In ons stede in die huise van weerlose mense.”

In retrospek wil dit lyk of dit ‘n keuse was tussen ‘n vinnige, bloedige oorlog en die huidige oorlog in stadige aksie wat ons toe gekry het.

Dan is daar Dan De Lange wat homself beskryf as “an Afrikaans-speaking South African” wat nie as Afrikaner identifiseer wil word nie “but just a South African”.

Mens wonder waarom los hy nie maar die “Afrikaans” geheel en al nie, ek meen wat’s die punt om jouself in Engels, op ‘n Afrikaanse webblad, as ‘n Afrikaanssprekende te beskryf?

Maar dit was seker om Dave Van Huffel te akkommodeer wat reken dat “many Afrikaans-speaking individuals still suffer from the “isolation-polarization indoctrination syndrome” (en die bevryding waarvoor Madiba hom beywer het sal ons vir ewig ontwyk, o wee).

Ook in die rubrieke-kolom was daar die afgelope Sondag aansienlik meer kommentaar as gewoonlik en ook daar was teenstrydige opinies oor Flip Buys wat skryf ons “Moenie hoop op komende verkiesing” nie.

Manfred Delport laat weet vir Flip dis presies “waaroor die sogenaamde wit rassiste, waaroor [hy] so geweldig skree, VOOR 1992 se referendum gewaarsku het – dwingelandy en oorheersing. Dit was nie nodig vir doktore en professore om tesisse daaroor te skryf en 20 jaar van ‘n jong volk se tyd te mors nie!

Paul Kirsten grap in dieselfde forum oor FW de Klerk se “wigte en teenwigte waarvan daar ongelukkig net die booswigte oorgebly het”.

Net as dit na ‘n partytjie wil begin lyk, gooi Willem de Haan ‘n ander klip in die bos: “Ongelukkig het “die Afrikaner” maar ‘n swak rekord wanneer dit by saamstaan kom en is daar ook vandag nog steeds die politiek korrektes wat “rassiste” skree sodra van ‘n Afrikaner of blanke groepsorganisasie gepraat word”.

Dit is alles waar en ons het mekaar deur die dekades, eeue, heen ‘hensoppers’ en ‘joiners’ en ‘hanskakies’ en ‘k*boeties’ en elke denkbare speelgrondbelediging toegedig.

Dit maak ons nie uniek nie, dit maak ons menslik. Ghandi se bevrydes van die Britse juk het so onder mekaar baklei dat hulle uiteindelik verdeel het in ‘n Moslem Pakistan en ‘n Hindoe Indië.

Die Iere het mekaar doodgeskiet toe die IRA-bittereinders geweier het om hulle republikeinse ideaal met Britse voorwaardes af te water rondom 1919-20.

Daar was selfs twee Boererepublieke, om hierdie historiese heterogeniteit verder te illustreer. ‘n Verenigde Afrikanerdom is eintlik ‘n heel Britse ontwikkeling wat met die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het.

Ons kan ons historiese verweefdheid met die Britse kroon nie wegpraat nie en dis nie dat ons nie van die Engelse hou nie; ons hou nie van verdrukking nie, dis wat.

Ons verskille is nie die problem nie. Daar is een ding wat ek meer haat as konflik en dit is die leuen.

Ons onderlinge konflik kan ons juis help om die leuens te ontbloot. Dis nie ons “beste motors” en ons “enorme huise” wat vir ons gaan vrede bring nie.

Inteendeel dit word die ammunisie vir anti-Afrikaner sentimente in die voortgesette ekonomiese apartheid wat aan die orde van die dag is.

Dis `n baie meer giftige opset as vantevore want daar kan nie vingers gewys word na onregverdige wetgewing nie en tog is daar aanduidings dat die inkomstegaping bly groei.

Die onderdrukker bly onsigbaar.

Deur volgehoue dialoog sal ons by die waarheid uitkom, sal ons die aanloop tot die huidige anti-Afrikaner Suid-Afrika waarin ons onsself bevind, kan uitpluis. Ons sal op die ou end by die kruks van die saak moet draai: Wie is die Afrikaners in 2014?

Kom ons praat daaroor.

Alle gebruikersname is soos die gespreksdeelnemers hulleself in die openbare Rapport forums (Sondag, 5 Januarie 2014) ge-identifiseer het.

Willem de Jager, 6 Januarie 2014, Sendai, Japan.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.