Gesteelde Europese motors in Afrika verkoop

Deel op
Porsche-handelaar in Lagos. Maar misdaadsindikate voorsien veral in Afrika se vraag na luuksevoertuie
Porsche-handelaar in Lagos. Maar misdaadsindikate voorsien veral in Afrika se vraag na luuksevoertuie

Westerse joernaliste popel deesdae aanmekaar oor die “nuutgevonde welvaart in Afrika”. Maar nie al daardie tekens van voorspoed soos selfone en luuksevoertuie word wettig bekom nie. Volgens Interpol word luuksemotors, veral viertrekvoertuie, wat in Suid-Europa en in Brittanje gesteel word hoofsaaklik in Afrika van die hand gesit.

Tesame met Rusland, waarheen Noord-Europese gesteelde motors uitgevoer word, is Afrika die belangrikste afsetgebied vir misdaadsindikate wat in motordiefstal spesialiseer. Suid-Afrika ontvang ook sy kwota gesteelde Britse motors met die stuurwiel aan die regterkant.

Ongeveer ‘n kwartmiljoen motors is die afgelope vyf jaar in Europa as gesteel aangemeld en nie teruggevind nie en daar word vermoed dat ‘n groot aantal van dié motors hul weg na die Afrikavasteland gevind het.

Die hoof van Interpol se spesialiseenheid vir voertuigdiefstal, Sebastian Schmucker, sê voertuie word nou op georganiseerde wyse gesteel. “Geïsoleerde gevalle van diefstal omdat ‘n motor mooi is, bestaan nie meer nie,” meen hy.

“Die smokkel van gesteelde motors is deel van georganiseerde misdaad, dwelms, wapens en selfs terrorisme, wat daardeur gefinansier word. Dit is betreklik eenvoudig en die risiko is laag,” sê hy verder.

Die aantal gesteelde voertuie het afgeneem, maar hul waarde het toegeneem omdat die diewe nou slimmer geword het. Hulle verkies om topklasvoertuie te steel, veral vierwielaangedrewe sportnutsvoertuie.

“Sulke voertuie is baie gewild in Afrika vanweë die toestand van die paaie,” sê Schmucker.

Voertuie word ook op bestelling gesteel. Volgens ‘n bron in Abidjan, die grootste stad in die Ivoorkus, plaas kopers ‘n bestelling by ‘n “invoerder” vir ‘n motor van ‘n spesifieke fabrikaat en model, wat selfs die kleur van die sitplekke mag insluit.

Hierna gaan die invoerder se span diewe in Frankryk te werk deur die geklassifiseerde advertensies in Frankryk vir die voertuig te fynkam. Die niksvermoedende verkoper word geflous deur hom met ‘n vervalste tjek te betaal. As die verkoper die gekrediteerde bedrag in sy rekening gewaar, teken hy die voertuig oor. Teen die tyd dat die banke agterkom dat die tjek vervals is, is die motor lankal landuit.

In Abidjan verkeer die koper onder die indruk dat hy ‘n tweedehandse motor teen ‘n goeie prys bekom het, sonder dat hy weet waar die voertuig vandaan kom.

Die Franse owerheid vermoed dat een Ivoriaanse bende reeds 400 motors in Frankryk gesteel het, maar die bendeleier kan nie vasgetrek word nie omdat hy noue bande met die regering van die Ivoorkus onderhou.

Slegs 160 gesteelde voertuie is in Afrikalande oor die afgelope vyf jaar opgespoor. Maar slegs in Duitsland is daar volgens Interpol in 2012 18 500 voertuie met ‘n waarde van 250 miljoen euro (R3 miljard) gesteel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.