Die onvoltooide skildery

Deel op

Image

Rus op Onrus ? John van Reenen in sy kuns-en-kombuisfase, Augustus 2002

Die jong John van Reenen was skaars in Amerika toe word hy gevra of hy op water kan loop.

Gaylen Hansen – deesdae  ʼn opgehemelde kunstenaar van die figuratiewe ekspressionistiese skool – was die vader van dié pittigheid. Hy het self lekker daarvoor gelag, maar hierdie Yank was in geen posisie om die heerlike ironieë van John van Reenen behoorlik te waardeer nie.

Deel op

Voor hom was ʼn prima-graad stuk Afrikanervleis, en baie daarvan – 6 voet 10 duim in Amerikaanse mates en 250 vetlose pond. En wat maak al hierdie Boersheid in sy, Gaylen Hansen se, kunsfakulteit by Washington-staatuniversiteit in die jaar 1968?

Wel, gee aandag meneer die straatgebreide vakadviseur: Jong Van Reenen (vir wie die Suid-Afrikaanse pers die erebeskrywing, “Jong Reus” ontwerp het) is hier om kuns – “fine arts” no less – te studeer.

Ek sien, en dit op ʼn sportbeurs. Gewigstoot, hoe dan anders? So kuns is die verskoning sodat jy ʼn ysterghoen met skildklierprobleme kan vat om daarmee duike in ʼn grasperk te gooi?

Dit bly vandag nog ʼn goeie vraag. So wat is dit, John? Is jy ʼn diskusgooier wat kan skilder of ʼn kunstenaar wat kon diskus gooi? (Legendariese afrigter Dick Tomlinson het een kyk na John se lengte, balans, spoed en krag gegee en die jongman heruitgereik as ʼn diskusgooier eerder as gewigstoter.)

Die groot grys Van Reenen lyk effe verbaas dat ons nou, meer as dertig jaar later, so iets kan vra. “Kunstenaar wat kon diskus gooi,” sê hy ferm. “Ek kon en wou teken nog voordat ek van ʼn moontlikheid van ʼn sportloopbaan geweet het. My ma is ʼn bekwame kunstenaar en ek het dit by haar opgetel. En hier is ek nou. Atletiek het gekom en gegaan en ek teken nog steeds.”

Aa! So die gewigstotery en die diskusgooiery was die vrypas na ʼn kunsloopbaan en nie andersom nie.

Tog, in die opstandige, uitspattige, en o so gesofistikeerde, V.S.A. van Lyndon Johnson is ons Afrikaner so opvallend soos Mark Twain se Yankee in die hof van Koning Arthur. Hy kom nie eers van ons eie poging tot ʼn kunsstad – sê Kaapstad of Johannesburg – nie. Hierdie jongeling is van die platteland – Vrystaaaaat! – van Bethlehem – vandaar Gaylen Hansen se kwinkslag.

Seker nie vir die eerste keer nie, en beslis nie die laaste keer nie, was John van Reenen heeltemal uit sinchronisasie met sy herkoms en die wêreldgemeenskap. Hy’s nie avant of derrière garde nie. Net uit pas.

Terwyl sy jeugvriende Tukkies of Maties toe is, of R1 in die hand grens toe om die swart gevaar, die rooi gevaar en diverse ander vloeke te verdryf, is hierdie Hercules in Yankland. Die geween, die koor van verontwaardiging in die vaderland:

Hy lyk soos die soort kafferskoppende, terriesloegende, kommie-afmaaiende soort Boerseun wat ons in die S.A.W. kon gebruik. Daardie lyf! Hy sou ʼn peloton op sy eie gewees het!

En hoekom is hy hier? Om te swot. Nie iets nuttigs vir Vorsteriaanse nasiebou soos ingenieurswese of medisyne nie. Kuns, my ente! En nie kuns soos ons kuns verstaan nie. Niks edels soos stewige, geronde beelde in die tradisie van Anton van Wouw of Coert Steynberg – iets wat jy kan vasvat – nie. Geen wroegende klipbeelde van die onbekende boer of bronsgietsels van rooibokkies van hom af nie. Nee, die man wil skilder, wil teken en dit met daardie hande, daardie greep wat ʼn vierpondhamer se greep toemaak  sodat net die kop uitsteek.

En, terwyl ons besig is, so help my, waaroor gaan hierdie atletiekding? Ek bedoel, daardie lengte, daai krag en gewig en daai spoed en balans. Atletiek? Dis vir vinnige maergatte met te min lyf en vetgatte met te veel lyf. Rugby is die ding vir ʼn man – ʼn mán. Vra vir Doc Craven. Hy het vir John gesmeek om vir hom te kom rugbyspeel. Agtsteman. Hulle sou vir Morné du Plessis ander plek gemaak het. Of miskien, in ʼn lucidem intervallum, sou ons keurders die wêreld twintig jaar vooruit gewees het en vir John met die nommer 11-trui beslaan het. Daardie lyf,  man! Daardie vaartversnelling. Langer, sterker, vinniger as wat Jonah Lomu ooit was.

Maar John was nie sommer net  ʼn oorloper nie. Die kunswêreld sou ook nie in hom ʼn hensopper vind nie. Hy kon homself nooit so ver kry om op hulle musiek te dans nie. Dit was in die laaste gloed van abstrakte ekspressionisme; die vyftien minute van oetsjie-koetsjiepopkuns se roem. Tekentalent en –tegniek was kuns-eugenies verfoei. Vir John van Reenen (ongepoetste peasant!) was tekenvermoë nog altyd die sine qua non van enige beeldende kuns. So, terwyl die kunspraktisyns gewedywer het om doeke morsiger te bespat as Jackson Pollock en meer onsamehangende blertse as De Kooning te maak, was John vol ywer om beter, beter en steeds beter te teken. En die vaderlandskoor het ʼn ewe ontstelde eggo in die kunskampongs van die V.S.A.:

Wat! Wil jy impliseer dat vaardigheid inherent aan kuns is? Heiligskennis! Sleep die man buite die stadspoort en slaan hom met verfesels dood, versmoor hom in skilderdoeke vol blomprentjies, sny sy polse met ʼn stomp paletmes.

En terwyl ons besig is, so help ons, waaroor gaan hierdie humording? Enige iemand wat enige iemand is weet dat daar nie plek vir humor in kuns is nie. (Brandstapel toe met Warhol en Lichtenstein, die ketters!) Humor? By so ʼn groot man? Humor is vir klein kakkerlakkerige mannetjies; insekte wat uit die vloerkrake klim en hulle antennas vir die wêreld waggel.

A, maar sien, humor is John se ding. Dit is sy kode, die filter voor die projektor van sy visie. Dit is juis hierdie uitkykpunt wat sy juk is. Hy sien die mens vir wat hy is; sien die kleinlikheid en opgeblasenheid; die selfsug en die vrees; die afguns, die verstoktheid en lamlendigheid. Maar wanneer hy hierdie ongenaakbare spieël ophou, is dit in ʼn raam van humor teen ʼn muur vol tergende graffiti.

Daarom was sy kuns nog nooit bloot verteenwoordigend nie. Hy het nog nooit die kamera probeer herontwerp nie. Hy het ʼn flair vir karikaturing (sy proefskrif is oor die politieke spotprent.) Dit gee hom die vryheid om die menslike toestand te interpreteer en die atmosfeer van sy werk is ʼn frenetiese een vol kleinburgerlike drama’s, versugtinge, illusies en mistastinge.

John het graad gevang as ʼn etskunstenaar. (“I’m a platemaker” verklaar hy as mense hom uitvra na sy opleiding.) Dit was nie ʼn fatsoenlike medium nie, maar een waarmee hy die dualistiese grens van menswees en nugterheid kon versit.

Dit was tydens die hooggety van psigedelia. Terwyl self-opgeblase kunstenaars hulle innerlikes probeer myn het vir inspirasie, het John na die mallemeule om hom gekyk. Sy studentewerk wys die sosiale rewolusies van die tyd. Dit skrop die vernis weg van die naywer van die seksrevolusie, die somberheid van die acid-verheldering, die aggressie van die “make love, not war”-Woodstock-heelal-en-Nirvana geslag. Praat van asinchronisasie! Uit pas uit, ja!, maar dis darem te bruegheliaans, John, te veel geherinterpreteerde Jeroen Bosch, if you know what I mean, hey, far-out, like, dude…

Maar as kuns werklik die volharding van die geheue is, kan John van Reenen se bona fides nie betwyfel word nie. Waar was jy toe Neil Diamond sy seminale "Hot August Night” opgeneem het? Wel, John was dáár, jy weet, in Los Angeles se Greek Theatre, besig om te saam te boogy op “Sweet Caroline”. Watter ander Suid-Afrikaanse kunstenaar was saam met sir John Gielgud in ʼn TV-advertensie, in ʼn fliek met Muriel Hemingway en Scott Glenn en in ʼn woonstelblok met die Beach Boys?  Genade, die man verskyn op die “Het jy geweet?”-rugkant van ʼn Chappies-papiertjie en is die kwinkslag in ʼn Andy Capp-strokie.

Hmm, ja. Sport was meer as sy toegangskaartjie tot ʼn kunsfakulteit in die States. Dit het hom ook ʼn vrypas gegee na daardie heeldag-, heelnag-, volkleur-, multi-medium expo van sex, drugs & rock ʼn roll. Amerika op volle vaart, Elysium vir ʼn jong kunstenaar met ʼn oog, ʼn potlood, ʼn kwas.

En as hy die slag sy verf- en inkbesmeerde voorskoot uitgetrek het om die diskus op te neem, het hy darem dié tweepondpiering met mag en mening gewerp. Deur die 70’s was hy die primêre skyfwerper in die wêreld. As Suid-Afrika nie met die banvloek getref was nie, sou ons eie “Jong Reus” by Al Oerter oorgeneem het as die beste skyfwerper in die geskiedenis. Die ’72 Olimpiese goue medalje sou syne gewees het. Hy kon dit sommer by die I.O.K. se toonbank gaan afhaal het want ware kompetisie was daar nie. Ditto 1976. Hy moes net opdaag. Hy het ʼn goeie kans op goud in ’80 gehad en ʼn buitekans vir een in Los Angeles.

Sy afrigter, Dick Tomlinson sê as John langer in Amerika gebly het en sy sport met behoorlike erns benader het, sou hy “die item doodgemaak het". Hy het gereeld meer as sewentig meter in oefeninge gegooi in 'n tyd wat die wêreldrekord skaars bo vyf-en-sestig meter was. By El Camino College in Los Angeles is daar nou nog littekens in die betonrandstene waar John se diskus amper tagtig meter van hom af geland het. As hy sy potensiaal verwesenlik het, was tagtig meter 'n vanselfsprekende. Selfs nou, dertig jaar later in 'n bedryfsera van gevorderde toerusting, oefenmetodes en (fluister-fluister) ontwerpersopkikkers, is tagtig meter vir sy navolgelinge 'n onmoontlike droom.

Hy het die wêreldrekord vir homself gevat in 1975. Twee weke later het John Powell dit met ʼn nersdermskeurende poging verbeter. Terselfdetyd het die I.A.A. besluit dat Suid-Afrikaners se rekords nie meer wêreldbestes mag wees nie. En daarmee het hulle finito geskryf oor die Van Reenen-atletiekloopbaan. (Tog het daardie selfde 68,48 meter vir vyf-en-twintig jaar diens gedoen as ʼn S.A. rekord. Toe professionele-era-atleet, Frantz Kruger dit uiteindelik in 2000 breek, kon John dit aflag. “Was hoog tyd. Dit het embarrassing geword.”)

Soos in kuns, so ook in sport. John was nooit algeheel in pas met die res nie. In die vroeë sewentigerjare was hy die eerste hoëprofielsportman om sy nommer 15 dwars te sit en te sê, “Watse flippin’ nonsens is dit? Hoekom mag swart atlete nie saam met ons deelneem nie?"

Die Natte se pers het geskuim om die mond. “Rebel!” het hulle gekrys. Later, asof om dié titel te verdien, was John instrumenteel in die organisasie van rebelletoere van Amerikaanse atlete in die tagtigerjare. Terwyl hy besig was, het hy sommer nog die Suid-Afrikaanse atlete gelei in ʼn mini-staking vir ordentlike vergoeding.

ʼn Ander rewolusie het die Jong Reus in hierdie tyd omgedop. Hy het sy Christelike wortels herontdek en John die kunstenaar/atleet het die Christen/kunstenaar/atleet geword. Diskus, kuns en kerk. Vir ʼn paar jaar het hy hom deur Campus Crusade as ʼn celebrity-spreker en steunwerwer laat ontplooi en het hy beroemd geword vir sy “Leer van sukses”-praatjie voor jongmense. Hy was verbasend goed hiermee; die meester van die ysbreker. “Toe ek ʼn seuntjie op die plaas was,” vertel hierdie blok van ʼn man, “het ek baie keer so na die bure se perde gekyk en by myself gedink: ‘Eendag wil ek ʼn jokkie word.’”

In sy kerklewe was dit, amper onvermydelik, stroomop. Hy was ʼn happy-clappy Hatfielder toe die charismatiese beweging nog op die rimpels van die Christendom was, en nou dat hulle hoofstroom is, is John – alewig onfatsoenlik! – lidmaat van ʼn klein, ultra-konserwatiewe kerkie in Hermanus.

Vroutjie Dirkje begelei die gemeente op die klavier en John ageer as ʼn soort informele deurwag op die heel agterste stoel. Al die omies en tannies (op 55 is John goed geposisioneer vir die pos van jeugleier) groet hom en wag vir hulle brokkie geskertsery.

Ou Tannie: Jy moet laat sy jou leer klavier speel.

John: Wat! Ek het háár geleer! (Almal lag.)

In 1990, ouderdom 42, word John van Reenen oplaas ʼn voltydse kunstenaar. Dié wat John se artistieke toewyding betwyfel, het geen insae in die daaropvolgende dekade van sy lewe nie. Die onverwagse verbrokkeling van sy toentertydse huwelik het hom loshotnot gelaat. Hy het begin swerf na waar hy ook al gedink het daar is léwe: Inspirasie en geleentheid. Eensaamheid, vervullingsdrang en skeppingslus is ʼn magtige kombinasie, miskien die rykste bemesting aan die kunstenaar bekend en John se werk het uitgeloop en geblom.

Veral sy etse het ʼn reisjoernaal geword, nie net van sy veranderende ligging nie, maar ook van sy innerlike odusseia. Hy het vlakvarke met sluwe oë in die Oos-Transvaal gemaak, krewe langs die Weskus, ganse op Gansbaai… En in dit alles sien ek en jy die mens as protagonis van die absurde komedie – komieklik en heldhaftig, lafhartig en kordaat, geslepe en onskuldig. Die kooppubliek het begin kennis neem. John die Sportheld het begin kwyn in die skaduwee van ʼn werklik oorspronklike en bedrewe Kunstenaar, een wat vir sy visie betaal het met sy alleenwees en desperaatheid. Die uitputtendste treë van enige swerwers, vra maar vir John van Reenen, is daardie laaste paar strompelhale.

“Ek was baie jammer vir myself,” lag John. “Ek het begin rondvra op plase vir ʼn hut of iets waar ek oud kon word, so al op my eie.”

Maar toe die tuiskoms. Op ʼn ouderdom wat mans gewoonlik ernstige praatjies met hulle dogters se vryers het en begin rondkyk vir ʼn plekkie by die see vir volgende dekade se narkoleptiese aftrede, bel die ou grote sy vriende. “Ek is verlief!” hyg hy, so opgewonde soos enige skoolseun. Sy is Dirkje, dogter van Sanlam-kolossus Marinus Daling. Van donker na lig, van eindeloosheid tot geborgenheid, in een heerlike ontmoeting.

John en vroutjie Dirkje bly op Onrus in een van daardie vietse, regop huisies. Hulle verf en ets in groot tevredenheid saam. Die van Reenen het ʼn galery; noem dit l’Atelier d’Art in ʼn tyd en omgewing van stoere Nederduitse name. Dis ʼn ateljee van moderne kuns in ʼn era waarin die stof van Pollock en De Kooning van die kunsvoete afgeskud word.

En John van Reenen, wat sy duim gebyt het vir die smeer- en spatverwers, maak nou groot abstrakte werke met magtige kolke van kleur. Uit pas uit, soos altyd, is die man nou ʼn skepper van abstrakte kuns. Maar hy doen dit sonder grootdoenerigheid, sonder die bitter filosofie of holoogverwaandheid van ʼn kunstenaar op ʼn sending. Geen swetsende Jackson Pollock dié nie. Net ʼn groot en rustige man wat iets doen omdat hy daarvan hou, sonder agenda, sonder vertoon – critics be damned.

“Dit is ʼn uitdaging. Ek probeer nie iets sê nie. Die kleure en die vorms is vir my mooi. Dit is al.”

Hy is by die huis, maar tuiskoms is nie dieselfde as hensop nie. Die ferm idees woel gedurig onder die oppervlak.

: “Picasso is overrated.”

: “Dit het alles met Marcel Duchamps begin, hierdie begeerte om alles wat orde bring te vernietig. Wat hy eintlik moes gedoen het, is om selfmoord te pleeg.”

: “My idee van kuns is Vincent se selfportret.  Dit sê iets.” (John verf self ʼn bekwame Van Gogh-“selfportret”.)

Die “Jong Reus” het ver gegaan, baie gesien, baie gedoen maar hy is nie klaar nie. Die kunstenaar se siel sal op aarde nie rus nie. Dit ondersoek. Dit vat ʼn naald en trek bloed deur die broslagie van die gemeenskap se grimering. Hy kan nie anders nie.

Hoekom?

Moet dit nie probeer verstaan nie.

Ja, maar hoekom?

“Want,” sê John, “the painting is never finished…”

***

Einde 2004 het die Van Reenen-kerk-, kombuis- en kunsidille tot 'n einde gekom toe vroutjie Dirkje, redelik abrup as ek moet sê, uitgetrek het.

Die Ou Grote het later teruggekeer na sy ateljee op Onrus waar hy nou nog leef en werk.

Vir 'n onvergeetlike ervaring, 'n kunsreis deur die loopbaan van een van Suid-Afrika se werklik oorspronklike kunstenaars, kontak vir John op 084 404 8503.

 

free casino gamesданильченко юрій Харків

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.