Barack Obama versag vonnisse van swart dwelmoortreders

Deel op
Barack Obama
Barack Obama

President Barack Obama het die gevangenisstrawwe van agt mense wat aan crack-kokaïen-oortredings skuldig bevind is, versag. Volgens die Amerikaanse president is hulle gestraf deur ‘n onbillike strafregstelsel wat verarmde swart gemeenskappe buitengewoon seermaak.

Al die gevangenes is vir ten minste 15 jaar tronk toe gestuur, waaronder ses wat lewenslange vonnisse opgelê is. Die meeste sal nou teen 17 April weens die presidensiële kwytskelding vrygelaat word.

Die gevangenes sou waarskynlik veel ligter strawwe ontvang het indien hulle onder ‘n wet gevonnis sou gewees het wat Obama drie jaar gelede onderteken het en wat die verskille in vonnis tussen crack-kokaïen en poeierkokaïen verminder het.

Obama het gesê die ses swartmans en twee -vroue is deur ‘n “onregverdige stelsel” tot gevangenisstraf gevonnis wat een gram crack-kokaïen dieselfde straf oplê as iemand wat met 100 gram poeierkokaïen gevang word, verhouding at deur die Billike Vonniswet van 2010 verminder is.

“Indien hulle kragtens die huidige wet gevonnis sou gewees het, sou baie van hulle reeds hul tronkstraf uitgedien en hul skuld aan die samelewing vereffen het,” het Obama in ‘n verklaring gesê.

“Pleks daarvan, vanweë ‘n wanbalans in die wet wat nou as onregverdig erken word, bly hulle in die gevangenis agter, teen ‘n koste van miljoene belastingbetalerdollars per jaar.” Die invloedryke American Civil Liberties Union-groep het Obama se besluit verwelkom maar beklemtoon dat hy een van die kleinste kwytskeldings- en vonnisversagtingsrekords van enige Amerikaanse president in die onlangse geskiedenis het.

Tydens sy vyf jaar as president het Obama voorheen 39 kwytskeldings en een vonnisversagting toegestaan.

“Dis een belangrike stap om die skade ongedaan te maak wat ekstreme vonnisse aan soveel mense in ons strafregstelsel berokken het,” het die ACLU se adjunkregsdirekteur Vanita Gupta gesê.

“Ons hoop dat die president sal voortgaan om sy begenadigingsmagte uit te oefen en sy steun aan stelselhervorming te verleen wat ons strafregstelsel slimmer, billiker en meer menslik sal maak.”

Die billike vonniswet van 2010 het die strawwe verminder sodat iemand wat met een gram crack nou dieselfde vonnis ontvang as iemand wat met 18 gram poeierkokaïen gevang word. Dit ruim ook die verplgte minimumstraf van vyf jaar vir die eenvoudige besit van crack uit die weg.

Net ‘n kwart van crack-kokaïengebruikers is swart, maar 81 persent van mense wat vir crack-besit of -handel in 2007 gevonnis is, was swart, volgens die Verenigde State se Vonniskommissie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.