
Cosatu dreig met regstappe teen die vakbond Numsa, omdat hy die geskorste hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi genooi het om sy spesiale kongres toe te spreek.
Cosatu het vroeër by die geaffilieërde Numsa oor die uitnodiging aan Vavi beswaar gemaak en gesê dat die uitnodiging teen die besluit om Vavi te skors indruis.
Die federasie se sentrale uitvoerende komitee-vergadering het Vavi verbied om enige Cosatu-byeenkoms toe te spreek.
Die vakbondfederasie het gesê dat Numsa nie uit sy geledere geskop sal word nie, maar dat Vavi se uitnodiging in ‘n baie ernstige lig beskou word.
Die hoofsekretaris van Numsa, Irvin Jim, het in reaksie gesê Vavi is in sy persoonlike hoedanigheid genooi om te praat by die herdenking van ‘n voormalige vakbondleier, Mthunthuseli Tom.
Vandag is die vakbond se laaste dag van hulle spesiale nasionale kongres.