Ivoorsmokkelaar vas by OR Tambo

Deel op

ivory‘n Chinese vrou is in die streekhof in Kemptonpark aan die Oos-Rand tot ‘n boete van R50.000 of drie jaar tronkstraf gevonnis nadat sy probeer het om ivoor deur Suid-Afrika na Hongkong te smokkel.

Sy is een van talle Asiese smokkelaars wat die afgelope tyd vasgevat is.

Chinese doeanebeamptes het Augustus in Hongkong op 1 120 olifanttande, 13 renosterhorings en vyf luiperdvelle beslag gelê.

Dit beteken 3 ton ivoor is sedert Januarie vanjaar teruggevind.

‘n Woordvoerder van die Inkomstediens, Adrian Lackay, sê die vrou wou meer as 13 kilogram ivoor uitsmokkel.

Die 58-jarige Jialing Yang is Vrydag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem.

Yang beweer dat sy die ivoor by ‘n vlooimark in Mosambiek gekoop het.

Vier mans en drie vroue is na samewerking deur die Inkomstediens, die polisie en Interpol by die lughawe in Hongkong vasgetrek.

Die sewe mense het van Dubai oor Johannesburg na Hongkong gereis.

Grace Ge Gabriel, die Internasionale fonds vir dierewelsyn, Ifaw, se streekdirekteur in Asië, het vroeër gesê olifantstropery in Afrika is buite beheer en die groot beslagleggings is bewys hiervan.

Die meeste ivoor is bedoel vir die Asiese mark, veral China, waar dit as “wit goud” bekend is en vanweë die skaarsheid, al duurder raak.

Die Wildlife Trade and Monitoring Network (Traffic) lei tans labrador-honde op om doene-amptenare te help met die opsporing van onwettige handel in wilde diere se horings of velle.

Die labradors kan ivoor, renosterhoring, tierbeendere, luiperdvelle, ietermagogskubbe en varswaterskilpaaie uitsnuffel selfs al is dit dig verpak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.