Frankryk vorder Europese mag op vir SAR

Deel op
Laurent Fabius
Laurent Fabius

Nog Europese lande sal binnekort soldate stuur om die Franse Afrikavredesending in die Sentraal Afrikaanse Republiek te versterk.

Dit is deel van Frankryk se pogings om ‘n Europese mag te skep wat die EU voortaan sal kan verdedig.

Sommige ontleders sê die Franse wil NAVO daarmee troef en kritici sê dis ‘n manier vir Frankryk om sy weermag met ander lande se geld te befonds.

Die Franse minisiter van buitelandse sake, Laurent Fabius het hulp versoek om die geweld in die SAR te probeer keer, het RSG berig.

Frankryk het 1.600 soldate in die S.A.R ontplooi om te voorkom dat die geweld tussen die Christen ekstremiste en grootliks Moslem Seleka rebelle verder uitbrei.

Pole, Brittanje, Duitsland, Spanje en België het hulp aangebied. Intussen het Franse soldate vir die tweede keer vanjaar in Mali ingegryp in ‘n poging om insypelaars in die noorde te stuit.

Intussen het die VN berigte ontvang dat tussen 400 en 500 mense in die jongste geweld in Suid-Soedan dood en tot 800 beseer is.

Die regering in Suid-Soedan sê 10 politici is in hegtenis geneem in verband met ‘n mislukte staatsgreep.

Die regering soek nog na die gewese visepresident Riek Machar wat daarvan beskuldig word dat hy die mislukte staatsgreep aangevoer het.

Geweld tussen twee faksies in die weermag het die naweek uitgebreek en die president Salva Kiir het ‘n aandklokreël ingestel.

Die geweld weerspiëel die ernstige verdeeldheid in Afrika se jongste staat, net meer as twee jaar nadat dit van Soedan afgestig het.

Die VSA het intussen sy burgers aangeraai om Suid-Soedan te verlaat en het werksaamhede by sy ambassade in die land opgeskort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.