Mandela-gedenkdiens in Soweto: ten minste laat ons die wêreld lag

Deel op
Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie
Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie

deur Alet Bredenkamp

Ek en Chris het Dinsdag Madiba se gedenkdiens by die ENB-stadion in Soweto gaan bywoon.

Dit was n baie interessante ervaring. Chris het my 04:00 (in Pretoria) kom oplaai, sodat ons die 05:00 gratis bus kan kry na Gold Reef City, om 06:00 by die stadion te kan wees sodra die hekke oopmaak. Onthou, ons het gedink die hele Soweto staan tou buite die hekke, so ons kans om in te kom, is maar skraal.

Teen 05:30 was daar (by Gold Reef City); nog geen teken van n bus nie, net toue mense wat al hoe langer word. Toe begin ek en Chris stap stadion toe, nadat ons n swart meisie omgepraat het om saam te stap en ons die pad te wys. Ons loop toe die string busse raak by ‘n robot so ‘n ent van Gold Reef City af, en die swart meisie oortuig die swart busbestuurder om ons almal op te laai. Om 05:40 stop die busse toe by Gold Reef City en van die ander mense word opgelaai.

Op die bus sing en juig die mense. Ons hou partytjie! Duidelik is ‘n begrafnis ‘n fees. Dis ‘n heerlike atmosfeer wat heers.

By die stadion aangekom, gaan staan ons almal buite hekke H. Sesuur word halfsewe. Geen mens kom die hekke oopmaak nie. Iemand vertel die hekke aan die ander kant van die stadion is oop, en die stadion word vol. Dit begin reën. Ons hardloop om die stadion, maar daardie hekke is ook toe en die mense daar is kwaai oor hulle plek in die tou. Toe skree iemand ons hek het oopgemaak. Ons hardloop terug, hardloop in en beland voor die enigste rolhek wat oop is. Die toue is LANK. Die mense sing, maar ‘n swart vrou skel ‘n swart man wat deur die kantreling probeer klim om in die tou te kom. Die swart vrou agter haar rol haar oë, pluk my aan die arm en beduie ek moet voor háár kom inklim, sy maak vir my plek. Ek klim in, en die gawe vrou sê ek moet dat Chris nou weer by my moet inklim. Ubuntu is ‘n gawe ding. Ons skiet soos springhase deur die rolhek sodat almal kan inkom. Behalwe die kwaai vrou – sy sit vas in die hek en vertraag die proses met ‘n halfminuut.

NIEMAND kyk wat is in ons rugsakke en ander sakke nie. Daar is geen beduidenis van sekuriteit nie. Ons gaan binne meters van minstens sewentig wêreldleiers wees.Vreemd.

Baie bly om binne die stadion te wees, gaan ons in. Slim Chris kies vir ons sitplekke in die heel voorste ry, so na as moontlik aan die sprekers-podium. Dit beteken ons reën nat, maar wat, die reën gaan nou-nou ophou. Dis Suid-Afrika dié.

Die massas mense het nooit opgedaag nie

Die rëen het nie opgehou nie. Nooit nie. Die massas mense het ook nie gekom nie. Teen 11:00 was die stadion nog nie eens halfpad vol nie, deels omdat min van die beloofde busse geloop het. Agterna het ons gehoor dat baie busbestuurders nie gewerk het nie, uit respek vir Mandela! Regoor Gauteng het mense gesukkel om by hulle werke te kom, omdat die busbestuurders op hul eie manier respek betoon het. Hierdie land is snaaks, wrintiewaar.

Ons reën nat en word tandeklap-koud. Die mense sing en dans. Dis tienuur, maar elfuur sal alles darem begin. Ons hou uit. Elfuur kom en gaan. Halftwaalf … Kwart voor twaalf … dit reën. Twaalfuur begin die program eers, maar o wee, die mense op die pawiljoene kan niks hoor wat die sprekers sê nie. Die klanksisteem is nooit ingestel vir hulle nie, net vir die TV-kameras. So die mense hou aan sing en hul eie partytjie hou.

Die groot skerms wys Madiba se beeld, maar so af en toe wys die kameras belangrike mense wat instap. Almal van hulle het sambrele en dik jasse, en lyk droog. Ons is nat en koud. Die skare juig vir FW de Klerk, vir Winnie Mandela en vir Mbeki; baie vir laasgenoemde. Zuma se gesig verskyn. Almal boe. Verbaas kyk ek en Chris na mekaar. Kan dit waar wees? Dit gebeur weer en weer. Wanneer Zuma se gesig verskyn, boe die skare met oorgawe, en skree: Mbeki! Mbeki! Ons land lyk toe bietjie anders as wat ons gedink het…

Obama was die enigste na wie se toespraak 'n mens kon luister
Obama was die enigste na wie se toespraak ‘n mens kon luister

Toesprake is verstommend vervelig

Die “interfaith prayer” is ‘n ramp. Die rabbi dog glo ‘n gebed is ‘n preekbeurt en spring weg met ‘n baie lang en omslagtige storie oor die Jode se geskiedenis wat begin by Josef en die uittog uit Egipte. Ek en Chris is van die min mense wat kan hoor wat die man sê en ons vind dit oogoorkruis vervelig. Die res van die mense dans hul eie danse.

Die sprekers volg die een na die ander. Almal is verstommend vervelig, en sê presies dieselfde goed oor en oor. “Madela was n groot man, hy was n voorbeeld vir ons, hy het geglo in vryheid en gelykheid. Hy was 27 jaar in die tronk. Hy was n groot man. Ons sal hom mis. Viva Mandela” (wat volgens Chris effe onvanpas is by n begrafnisdiens). Dis nou nadat die spreker eers die staatsleiers, die konings, president Zuma, ens, ens, ens welkom geheet het. Dan kom die volgende spreker op, heet weer elke belangrike persoon welkom, en sê dan weer dieselfde goed oor Madiba.

Die enigste vermaak vir die skare is wanneer die kamera rondswaai in die gehoor en Zuma raaksien. Dan boe die skare. Dit raak so erg dat die groot skerms afgesit word. Nou het die skare geen kontak meer met die verrigtinge nie. Ons klomp op die pawiljoene hou ons eie Madiba-gedenkdiens. Dis n heerlike atmosfeer wat heers tussen ons klomp nat hoenders. Ons het in elk geval n lekkerder tyd as die belangrike gaste. Wanneer die groot skerms weer aangaan en hulle wys, sit van hulle en gaap, van hulle gesels met mekaar en sommiges slaap sommer so skeef in die stoel. Pleks húlle natgereën het. Dan sou hulle wakker kon bly.

Of ja – die gebaretaaltolk. Ek het vir Chris gesê die man lyk eienaardig. Dit lyk of hy alles n halfminuut te stadig sê. Die TV-kamera neem hom ook eienaardig af. Die meeste van die tyd sien ons net die helfte van sy gesig en een arm. Ek kan g’n niks uitmaak wat hy beduie nie. Hy het ook so ‘n vet, ronde Sotho-gesig, sodat ek nie sy gesigsuitdrukking kan lees nie. Ná die tyd hoor ek dat die man g’n gebaretaaltolk was nie. Hy het brabbeltekens gesein. Die ANC het hom al vantevore gebruik, en toe ook baie klagtes oor hom gekry. Nou sê die ANC hulle het geen idee wie die man is en waar hy vandaan kom nie! Die polisie sê ook op RSG dat húlle geen idee het wie die man is nie. Dis nou die man wat ons land toegelaat het om n armlengte van Ban Ki Moen en Barack Obama af te staan! Dis beide skreeusnaaks en baie vernederend.

Laasgenoemde twee sprekers was die enigste wat die moeite werd was om na te luister. Obama is n baie goeie spreker. Hy is die enigste spreker vir wie die hele skare doodstil gesit en luister het.

Ná Obama se toespraak het ek en Chris geloop (soos ‘n groot deel van die skare). Buite was chaos. Niemand weet waar om die busse te kry nie, daar staan baie busse vol passasiers, maar sonder drywers … Ek en Chris begin toe weer stap Gold Reef City toe, en slim Chris sien n bus raak met n drywer aan boord. Ons spring op en beland maklik terug by ons motor. Later hoor ons op die radio dat die situasie buite die stadion besig is om handuit te ruk. Die radio-omroepster het later die buskoördineerder op die lug gekry en beveel om dringend busbestuurders te stuur. Die omroepster was so kwaad. Ek het, soos die omroepster, baie simpatie gehad met die oproerige skare, want ek weet hoe dit voel om agt ure lank nat te reën, vrieskoud te wees en en nie her- of derwaarts te weet nie.

Alles in ag genome, is ek baie bly ons het gegaan. Ek is werklik dankbaar oor wat Mandela gedoen het vir die land, en ek het n kans gehad om respek aan hom te gaan betoon. Dit was lekker om deel te wees van my land se singende, dansende, opstandige mense. Die sirkus op die verhoog het sy eie vermaaklikheidswaarde gehad. Ek sou wou hê dat my land beter moes vertoon in die buitewêreld, maar nou ja.

Ten minste laat ons die wêreld lag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.