Wanneer is terreur geregverdig?

Deel op

thaiprotest2Die terreur wat Mandela teen onskuldige wit burgerlikes waaronder ook kinders, uitgeroep het, is oor die afgelope week of twee as ‘n goeie, regverdige, progressiewe en veral verdedigbare opsie voorgehou.

Is alle terreur dan regverdigbaar? Helaas nee, want in werklikheid is terreur en opstand, volgens die Weste, net goed solank as wat hulle belange daardeur gedien word.

Westerse inwoners mag simpatie met onderdrukte Afrikaners hê, maar hul regerings is min gepla dat hulle die terreur hier aktief aangehelp en befonds het en onskuldiges  daarvoor laat boet het.

Twee voorbeelde van hoe terreur deur die Weste beskou word, speel tans voor ons oë af. In voortgesette protes in die Oekraïne en Thailand het betogers in beide lande probeer om regeringsgeboue te bestorm. Die Weste beskou die eerste poging as edel, maar nie die tweede nie.

Volgens CNN word die Oekraïne se polisie van “gewelddadige onderdrukking van pro-EU-protes” beskuldig. Pro-EU-protes sal terloops min oplewer, indien enige iets. Ná die Weste die aftog moes blaas oor hul beplande aanval op Sirië, is Europese uitbreiding na oos effens gestrem.

Die feit is dat die EU baie welklinkende beloftes maak en min doen weens die ekonomiese en finansiële krisis wat die blok teister. Daarbenewens is die ou problematiek van die Koue Oorlog uitgedien aangesien die nuwe entente met Iran die Amerikaanse missielafweerstelsels in Oos-Europa onnodig maak.

Betogers het EU-vlae rondgeswaai en die volkslied gesing. ‘n Honderdtal mense wat betoog het ter ondersteuning van die Oekraïne se Europese integrasie is, volgens ‘n verklaring van Pole se ministerie van buitelandse sake, “wreed onderdruk”. Die ministerie moes baie verlig gewees het dat hulle “bewyse” daarvan kon opspoor.

Die Verenigde State van Amerika veroordeel ook die “geweld teen betogers” in ‘n aanlynverklaring deur die Amerikaanse ambassade in Kiev.

Dit moet reeds heel duidelik wees waarom die VSA, die Verenigde Koninkryk, en die EU, asook die Fortune 500-belange wat die regerings van elkeen rig, agter die betogers sit en letterlik al hulle aktiwiteite befonds.

Die Europese Unie is eenvoudig besig om die tradisionele proteksionisme wat magtige multinasionale maatskappye belemmer, af te water met behulp van Hitler se ou plan om na die Ooste uit te brei.

Beleidmakers met korporatiewe befondsing het die vermoë om ‘n politieke program te skep wat korporatiewe fascisme ‘n werklikheid sal maak.

Sulke planne sal geen snars aan die lewensgehalte in Oos-Europa verander nie, maar sal ‘n paar nuwe verbruikerslawe waarborg wat niks aan hul mismoedige lewensomstandighede sal kan verander nie.

In skrille kontras is die protes teen die regime van Thaksin Shinawatra en sy suster, premier Yingluck Shinawatra vir die Guardian – nog ‘n “betroubare” Westerse nuusbron – net ‘n opstand deur ‘n gewelddadige, ondemokratiese gespuis.

Die regime van Thaksin Shinawatra en premier Yingluck Shinawatra word deur Wallstraat gesteun.

Die Guardian het opsetlik versuim om ten minste 3 sterftes, almal studente, te bevestig in ‘n poging om die betogers as ‘n moorddadige bende uit te beeld.

‘n Bietjie op dieselfde trant as wat Hector Pieterson se dood tot vervelens toe uitgestal word, maar die Kerkstraat- of Amanzamtotibomme is vergete.

In 2004 het Thaksin probeer om ‘n vryehandelsooreenkoms sonder parlementêre goedkeuring deur te druk. Dit het tot sy ongewildheid gelei.

Ingesluit was 3M, Bechtel , Boeing, Cargill , Citigroup , General Electric , IBM, Monsanto, Goldman Sachs en JP Morgan, Lockheed Martin, Raytheon, Chevron, Exxon, BP, Glaxo Smith Kline, Merck, Northrop Grumman, Syngenta , asook Phillip Morris.

Op die vooraand van die militêre staatsgreep wat hom uit die kussings gelig het, het Thaksin letterlik in New York voor die Fortune 500 se Raad op Buitelandse Betrekkinge gestaan om ‘n vorderingsverslag te gee.

Sedert die 2006-staatsgreep is Thaksin deur die Amerikaanse korporatiewe elite verteenwoordig via hul openbarebetrekkingemaatskappye soos Kenneth Adelman van die Edelmanfirma (Freedom House, International Crisis Group , PNAC ) , James Baker van Baker Botts ( CFR ) , Robert Blackwill van Barbour Griffith & Rogers ( CFR ) , Kobre & Kim, en tans Robert Amsterdam van Amsterdam & Peroff ( Chatham House) .

Bykomende ondersteuning vir Thaksin word verskaf deur die US State Department via die National Endowment for Democracy se NRO, by name Prachatai .

Dit is duidelik dat astronomiese bedrae en hulpbronne belê is in die Shinwatra-regime soos die Weste naarstiglik probeer om hul beleggings te beskerm.

In die Oekraïne is stootskrapers gebruik om deur die polisieversperrings te verbreek. Dié barbaarse optrede is nog nie deur die Weste veroordeel nie.

Vir Thai-betogers is dit onwaarskynlik dat hulle sal voordeel trek uit ‘n stootskrapervoorhoede. Waarop die Weste egter geen antwoord het nie, is vreedsame verset.

Betogers het ‘n dag of wat gelede die blitsverkiesing wat die eerste minister, Yingluck Shinawatra se Rooi Hemde uitgeroep het, geïgnoreer en sê sy moet in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla word.

Die betogers het Shinawatra 24 uur tyd gegee om te bedank nadat sy die blitsverkiesing uitgeroep het. Die spertyd het Dinsdagaand verval. Dit was haar laaste troefkaart.

Die leier van die Geel Hemde, die opposisie se Suthep Thaugsuban, het gedreig dat protesoptrede verskerp sal word. Die uitkoms beloof om spannend te wees.

Shinawatra is die tussentydse eerste minister tot die verkiesing op 2 Februarie aanstaande jaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.