Pretorianers aangeraai om middestad te vermy

Deel op
Deel van die roete in Vermeulenstraat, nou Madibastraat
Deel van die roete in Vermeulenstraat, nou Madibastraat

Pretorianers is aangeraai om die volgende drie dae die middestad te vermy nadat die presidensie die publiek genooi het om ‘n erewag langs die roete te vorm.

Nelson Mandela se liggaam sal aanstons vanaf Een Militêre hospitaal na die Uniegebou vervoer word.

Die liggaam sal van Woensdag af tot Vrydag toe in staatsie lê.

Die Ou Pretoriapad, Kgosi Mampurustraat, of Potgieterstraat, en Madibastraat, voorheen bekend as Vermeulenstraat is sowat ‘n uur gelede gesluit.

Dit behoort teen nege-uur vanoggend weer vir verkeer oopgestel te word.

Eeufeesweg tussen die Ou Johannesburgpad en die N14, sowel as strate aangrensend tot die Uniegebou sal ook gesluit wees.

Die Tshwane Metropolitaanse Raad het verdere maatreëls aangekondig rakende die eerbetoning van die ontslape leier.

Die stad sê straatsmouse sal nie die volgende drie dae toegelaat word om tussen sewe en tien in die oggend langs die roete wat handel te dryf nie.

Winkeleienaars word ook aangeraai om hulle winkels tydelik te sluit wanneer die stoet verby beweeg.

‘n Woordvoerder van die stad, Blessing Manale, sê diegene wat die liggaam wil sien, sal die parkeer en rygeriewe moet gebruik.

Die busse sal by drie punte beskikbaar wees, by die Fonteinedal langs UNISA, die skougronde en die LC De Villlers-sportterrein by die Universiteit van Pretoria.

Mandela sal die eerste Suid-Afrikaner wees wie se liggaam in staatsie sal lê. Die gebruik dateer terug tot die tydperk voor die Christendom om aan die publiek te toon dat ‘n leier inderdaad dood is.

‘n Professor in Antropologie aan die Universiteit van die Witwatersrand, David Caplin, sê “in die moderne tyd is dit ‘n eer en teken van respek”.

Dié grillerige gebruik is deur die ou Sowjet-Unie gewild gemaak wat die liggaam van Lenin uitgestal het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.