Hoe Marx, Freud en Nietzsche die Weste gesink het

marxfreudnietzscheDeur Joseph Secreve.

So tussen die hele gedweep van Suid-Afrika se ontslape Dierbare Leier word ons steeds duideliker bewus hoe die Vrye Weste besig is om in ’n diktatoriale bewind ingesuig te word, sogenaamd onder die voorwendsel van vrede en versoening. Waar die Demokratiese Volksrepubliek van Korea met hul Kim-dinastie sit, het die res van die wêreld vir Nelson Mandela. Die ooreenkomste is nogal skrikbarend. Vra maar vir daardie Engelsman in Staffordshire wat vir agt ure opgesluit was omdat hy ’n grap gemaak het oor hom. Binnekort gaan ook seker van almal verwag word om ’n verpligte foto van die Groot Versoener in hul huise te hang, en ’n groot standbeeld te syner ere opgerig sal word – umm – oeps, te laat.

Dit het my laat dink aan die tyd toe ek aan die Universiteit van Amsterdam ’n minikursus in sosiale filosofie gevolg het, en die dosent ons vertel het dat die drie mees invloedryke denkers van die moderne tyd Karl Marx, Sigmund Freud en Friedrich Nietzsche was. Met ’n bietjie nader introspeksie kan ons ontdek hoe hierdie drie figure en hul aanhangers uiteindelik in tandem saamgewerk het om die gees van die vrye Weste te breek, en Nelson Mandela het ’n belangrike simboliese mylpaal geword van hierdie samewerking.

So halfpad deur verlede eeu, met die sestiger jare as hoogtepunt, het die linkse bewegings in die Weste veral bestaan uit geleerdes wat hul ideologiese tuiste gevind het in een van hierdie drie denkers. Die emigrasie van Joodse intellektuele na die Verenigde State, met name die Frankfurter Schule en hul onbekendheid met die Westerse Puriteinse kultuur het ’n hele golf van literatuur voortgebring om die Weste juis te beswadder en te beskou as ’n patologiese samelewing. Erich Fromm het byvoorbeeld in sy Escape from Freedom beweer dat die Lutherse geloof niks anders as ’n vorm van selfhaat was nie. Dit het hom kennelik ontgaan dat die welvaart van die Weste juis te danke was aan die sobere dogma wat Luther gepreek het.

Daardie ander bekende werk van Theodore Adorno, The Authoritarian Personality, beweer die skrywer hoedat die opkoms van die Nazibeweging inherent ’n patos van die Westerse leefwyse was. Die groot ironie is dat – in die inleiding nogal – geskryf staan dat die wetenskaplike metodologie wat gebruik was het nie-Westerse minderhede se ondersoeksresultate nie meegereken nie, wat ’n blatante skending van wetenskaplike objektiwiteit is. Die invloedryke The Authoritarian Personality is dus nie sielkunde of antropologie nie, maar blote etniese propaganda. Dit word nog verder bevestig dat daardie werk uitgegee was deur die American Jewish Committee, ’n kultuurorganisasie in plaas van ’n erkende wetenskaplike uitgewer, en behoort daarmee tot die soortgelyke trant van anti-Westerse sentimente as die eindverslag van die Waarheidskommissie, waar massahisterie vermom word as wetenskap.

Met hierdie invloede in gedagte kan ons begin kyk na Marx se bydrae. By hom het hierdie bogenoemde beweging immers begin. Sy werke is redelik bekend vir die meeste van ons, met sy dialektiese prosesmodel wat hy van Hegel oorgeneem het en saam met sy volgelinge gehelp het om die basiese struktuur van ons kernbeginsels te ondermyn. In my vorige rubriek het ek hierdie aspek nader belig. Baie van sy fanatieke aanhangers was egter teleurgesteld toe geblyk het dat die werkers van die wêreld hulself nie verenig het nie. Volgens Marx se voorspellings sou die hoogs geïndustrialiseerde lande (Engeland in hierdie geval) die eerste wees om kommunistiese ideale na te streef omdat die proletariaat die meeste uitgebuit word in sulke lande. Snaaks genoeg het Rusland, wat juis baie tradisioneel en agraries was, die spit afgebyt met kommunistiese rewolusies.

Marx se latere volgeling, die Italianer Antonio Gramsci, het beweer dat Marx se voorspellings wel nog sou waar word, maar eers wanneer al die verskeie lande gelykmatig vatbaar geword het vir kommunisme. Met ander woorde, daar is nog ’n lang pad om te loop voordat mense oor die wêreld verenig sal word. Allereers moet die wêreldbevolking opgevoed word met beginsels soos interafhanklikheid in plaas van onafhanklikheid, gelykheid vir almal in plaas van soewereiniteit, en kollektivisme in plaas van individualisme. Hierdie eienskappe moet dus weerspieel word in alle mense en deel uitmaak van hul kernwaardes voordat die werkers oor die wêreld verenig kan word.

In hoeverre mate hierdie ideale gerealiseer het kan ons sien in die opkoms van die Europese Unie. Hierdie nuwe moontheid het ons ’n stap nader gebring aan die Groot Vereniging, en tegelyk het ’n nuwe politieke klasse hulself in Brussel gevestig. En net soos in die ou Sowjet-Unie het hierdie politieke klasse ’n lewenslange aanstelling, is bykans onskendbaar en is van ’n inkomste, pensioen en ander perke verseker.

Selfs op opvoedkundige gebied kan ’n mens die skokgolwe voel soos wat die konsepte van interafhanklikheid op skole en universiteite die norm geword het, met dank aan riante skenkings van die Carnegie en Ford Stigtings. Die lesse wat ek aan Amsterdam gevolg het, het grotendeels bestaan uit groepsprojekte. Almal is gelyk, almal het gelyke stemme en gedagtes. Almal moet doen wat gesê word. Vir die vrysinnige gees is hier eenvoudig geen plek nie. Om cum laude af te studeer beteken bloot dat jy hul instruksies goed gevolg het, en is nie meer ’n weerspieeling van jou passie vir kennis nie.

Waar Marx se bydrae hoofsaaklik op die ekonomiese dimensie gefokus het, het Freud en Nietzsche aanvullig gegee op die sielkundige en kulturele dimensies.

By Freud sien ons hoedat twyfelagtige diepte-sielkundige werkinge wat slegs in hoogs spesifieke kontekste geld veralgemeen geword het om gehele samelewings mee te verklaar. Vir Freud verkeer elkeen van ons in ’n ligte staat van neurose, want dit is nodig vir ’n gesonde maatskaplike funksionering. Almal het met ander woorde onderdrukte behoeftes wat iewers in die duistere, monsteragtige spelonke van ons onderbewussyn skuil; ’n wêreld wat vir ons baie angswekkend is. Die Eros en Thanatos, oftwel lewensdrang en doodsdrang is angsaanjaend en onderdruk ons daarom hierdie opvattings om nie in ’n situasie te beland waar ons onsself in gevaar kan stel nie.

Freud het kennis gehad van die ou Griekse wysgere en het sy teorie grotendeels berus op beginsels wat hulle uitgedink het. Net jammer dat hy uiters onopreg hiermee omgegaan het en dit het deesdae moeilik geword om waarhede en onwaarhede in sy teorie te onderskei. Sy bekende ontleding van die Russiese Wolfman, wat sy roem as terapeut bestendig het, het hy grotendeels geskryf om sy teenstanders binne die psigoanalise, Jung en Adler, verkeerd te bewys en uit te skakel, en gee hiermee aan dat psigoanalise inherent uiters onseker is. Enige persoon met geringe kennis van sy teorie kan alles wat krom is regpraat en andersom, en dit is presies wat hy gedoen het. Blykbaar het Freud op ’n bootreis na die Verenigde State opgemerk dat “hulle dink dat ons ’n wondermiddel vir hulle het. As Amerikaners maar net geweet het dat ons eintlik die plaag kom bring”.

Ons neem aan dat hy geweet het dat sy teorie meer kwaad as goed sou bring in die samelewing. Die historikus en Freudkenner Peter Gay het ook geskryf dat sy werke uiters subversief was met sy standpunte oor infantiele seksuologie, die alomteenwoordige aard van diverse perversiteite en die intense krag van die onderbewuste. Volgens hom het Freud ’n gevaarliker invloed op die samelewing gehad as Darwin se standpunte van ewolusie en oorlewing van die sterkste. Freud se kollega-psigoanalis Otto Rank het hom inderdaad ook hierop gewys.

Hierdie standpunte vind byval in die werk van die Britse antropoloog JD Unwin, wat in sy werk Sex and Culture (1934) geskryf het dat in al sy ondersoeke van 86 verskillende beskawings oor ’n periode van vyfduisend jaar, hy gevind het dat met seksuele onthouding ’n samelewing tot groter hoogtes kan uitstyg, en ten onder gaan by oormatige seksuele emansipasie. Unwin se woorde was: “In human records there is no instance of a society retaining its energy after a complete new generation has inherited a tradition which does not insist on pre-nuptial and post-nuptial continence”. In Unwin se ondersoek het elke beskawing sonder uitsondering ondergegaan na seksuele bevryding.

Die grimmige aard van oormatige seksuele emansipasie kan ons sien by die lewens en opvattings van belangrike dissipels van Freud, die radikale psigoanalis Wilhelm Reich en die seksuoloog Alfred Kinsey.

Reich het vir niks teruggedeins nie, en het skaamteloos melding gemaak van sy bloedskandelike fantasieë wat hy oor sy ma (‘my ma en hoer’) en haar minnaar gehad het. Hy het onder andere geglo dat seksualiteit die beste manier was om van mense se geloofsinstink ontslae te raak. Die behoefte aan ’n geloof was vir hom die ergste vorm van boosheid en bron van alle kwaad.

Wat sy tydgenoot Kinsey aanbetref, hoef ons bloot te kyk na sy doodsoorsaak in 1956. Hy is naamlik oorlede aan orchitis, wat ’n resultaat was van sy jarelange afwykende selfmishandeling. Maar wat kan ’n mens verwag van iemand wat geglo het dat: “Die enigste onnatuurlike daad is een wat jy nie kan uitvoer nie”?

Ons sien hier tot dusver twee strominge: Een wat ons kernwaardes wil ondermyn ter wille van een of ander gelykheidsideaal, en ’n ander wat ons persoonlike wilskrag wil afswak en die sogenaamde onderbewuste meer speelruimte wil gee. Altwee sou ons kwansuis “gesonder” laat funksioneer.

Om die kroon te span kan ons kyk na die groot nihilis Friedrich Nietzsche. Met kennis van laasgenoemde kan ons sien hoedat hulle argeloos saamgewerk het om die mensdom te reduseer tot die staat van ’n dier. Waar nihilisme beteken dat die hoogste waardes afgewaardeer word, sien ons hoe persoonlike wilskrag, skoonheid en fatsoen hul drakrag verloor. Pleks daarvan preek Nietzsche oor die Übermensch. Dit is iemand wat die meeste in homself ontdek en ontplooi. Egter, sonder ’n hoër waardebesef kan ons net sidder om te dink watter tipe Übermenschen ons gaan skep.

In sy werk Jenseits von Gut und Böse (Verby goed en kwaad) skryf hy dat slegs ons passie en behoeftes ons werklikheid vorm. Ons is nie in staat om te styg of sink in ander werklikhede wat nie vanuit ons eie dryfvere ontstaan het nie. Hierdie bewering lyk nogal realisties maar daar skuil ’n dieper gevaar hieragter. Wat Nietzsche eintlik preek kan maklik gesien word as ’n resep vir arrogansie as hoogste deug, en die gruwel wat ons verlede eeu gesien het, hetsy Nasionaalsosialisme (Fascisme), hetsy Internasionale sosialisme (Kommunisme) is belangrike toonbeelde hiervan, en werp ons weereens terug op die ou Bybelse waarskuwing dat die vrees vir die allerhoogste die beginsel van wysheid is.

Nietzsche het die moraliteitsbesef nog verder verswak toe hy beweer het dat daar nie soiets soos morele verskynsels is nie, maar slegs ’n morele interpretasie daarvan bestaan. Met hierdie bewering word alle standaarde van estetika omvergewerp en versink die mensdom tot lelikheid en apatie. Dit gaan mense oorhaal om te leef vir hul laer vryhede, hul basisbehoeftes en maak alles wat gruwelik en vulgêr is tot nuwe deugde, aangesien enige hoër spirituele besef gesteriliseer is van ware betekenis. Daar is geen oorkoepelende waarheid meer nie, maar slegs skynwaarhede, en die mens se gees – as ons dit met ’n musiekinstrument sou vergelyk – sou geen suiwer noot meer kon speel nie. In die kunswêreld kan ons sien hoe patologies die Weste al geword het as gevolg hiervan. Werke van ’n Van Gogh, Monet of Da Vinci word skaars geproduseer, maar “kunstenaars” soos Piero Manzoni se ingeblikte stront was in 2007 geveil vir 124 000 euro!

Om terug te verwys na die antieke Grieke kan ons stel dat die bogenoemde heillose drie-eenheid die orde van die siel omvergewerp het. Plato vergelyk die siel met ’n ruiter in ’n strydwa wat getrek word deur twee perde. Een perd is goed en die ander sleg. Die perde verteenwoordig die passies (patos) in die mens, die ruiter se bors en arms sy wilskrag (ethos) en sy kop die rede (logos). Dit is vanselfsprekend dat die verstand die besluite maak, die liggaam dit uitvoer en die passies in daardie rigting stuur. Sodra die ruiter sy vaardighede reg toepas, groei die perde vleuels en begin op te styg. Egter, wanneer die ruiter te veel toegee aan die slegte perd krimp die vleuels en vlieg die strydwa laer. Slegs met goeie beheersing en kultivering kan die siel werklik tot groter hoogtes gestuur word.

Deur die laer behoeftes, drifte en drange op te hemel soos Freud en sy kornuite gedoen het, sou dit beteken dat die ruiter nie meer sy strydwa kan beheer nie, aangesien die slegte perd (of passie) volledig oorgeneem het. Daar is geen harmonie meer nie, geen orde of reëlmaat, geen vrae oor die eindeloosheid en bestaanstoestand nie. Die resultaat is ’n liggaam wat nie weet wat versadiging is nie en ’n bestaansvakuum wat nie gevul kan word nie. In plaas van op hul eie bene staan word mense swak, oormatig afhanklik van ander en verslaaf aan hul eie basisbehoeftes, perfek vir ’n diktator om in te gryp.

Soos Plato en Kierkegaard later gestel het, bestaan die siel uit sowel iets tydeliks as iets ewigs. Dit binne ons wat ons “ek” noem is die nodus op hierdie twee uiterstes en die erkenning daarvan het die mens tot groot hoogtes gestuur in terme van kuns en kultuur. Om een van hierdie aspekte te ontken gee aanleiding tot wanhoop aldus Kierkegaard.

Ons kan hieruit aflei hoe ingrypend en deurtastend die opvattings van hierdie drie denkers ons moderne gees gekontamineer het. Die vraag is nou: Hoe kan ons ons vryheid uit hierdie moeras van dwaasheid terugkry?

Die eenvoudige antwoord is helaas dat daar geen eenvoudige antwoord is nie, maar die kennis het ons gelukkig nog wel.

Kom ons kyk net gou na Amerika se Vryheidsbeeld, afgelei van die Romeinse godin Libertas, oftewel Lady Liberty op die Hudsonrivier. Ons ken almal hierdie standbeeld, maar min mense weet wat die werklike simboliese betekenis hiervan is.

Ons sien haar met ’n fakkel wat lig in die duisternis simboliseer. Daarbenewens is haar hoof getooi met sewe punte wat uitsteek. Hierdie punte simboliseer ligstrale. Sy is in werklikheid ’n simbool van geestelike verligting, soortgelyk aan beelde van heiliges wie se hoofde met ’n straalkrans omspan is. Lady Liberty wys vir ons dat ware vryheid uit ’n verligte gees bestaan.

Die sewe ligstrale het ’n dieper esoteriese betekenis. Dit verwys moontlik na die sewe deugde, waarvan drie goddelik (geloof, hoop en liefde) en vier kardinale deugde is (versigtigheid, regverdigheid, gematigdheid en moed). Daar staan in Spreuke 9:1 immers dat “Wysheid het haar huis gebou, haar sewe pilare uitgekap”. Vanuit die Egiptiese mitologie weet ons dat pilare, oftewel obeliske as tipe antennes funksioneer wat die mens in kontak bring met die gode. Dit verklaar trouens die doel van die obelisk op die St. Petersplein in die Vatikaanstad. Dit bevestig die pous as Christus se boodskapper op aarde. Dieselfde geld ook vir die obelisk in Washington DC, en gee aan dat selfs in die Vrye Weste is kerk en staat op ’n okkultiese manier nouer met mekaar verbonde as wat ons dink.

Hoe dit ook sy, die konsep van sewe deugde is een wat ons in elk geval ter harte moet neem as ons die ty wil keer.

As gevolg van hierdie jarelange wanopvattings deur radikale linkses het die sewe deugde verword tot sewe doodsondes. Net soos in die Christelike leer waar die doringkroon ’n bespotting van Christus se verligtingsideaal simboliseer, dra Lady Liberty ook nou iets wat steeds meer soos ’n doringkroon begin lyk.

Onder Mandela het Suid-Afrika die kruste manifestasies van Marx, Freud en Nietzsche omarm. Ongelyke beskawings en kultuur is kunsmatig en fantasmagories saamgepers, afskuwelike barbaarse seksdade soos babaverkragtings word beskou as genesend en enige regdenkende persoon wat sulke gruwel walglik vind word as verkramp of agterlik beskou. Hulle kan kennelik nie verby die goed en kwaad daarvan kyk nie.

Dit is tyd dat ons aan die Weste aangee hoe ons hierdie strominge kan oorleef. Gelukkig het Nietzsche ook hierdie les vir ons geleer: ”Wat my nie doodmaak nie, maak my sterker”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.