Obama sal Mandela-roubeklaers by ENB-stadion toespreek

Deel op
obamajozi2
Michelle en Barack Obama het pas in Pretoria aangekom

Nat roubeklaers stroom na die ENB-stadion om die amptelike gedenkdiens by te woon waar president Barack Obama sal praat.

Paaie om die ENB-stadion in Johannesburg is gesluit met die oog op die Mandelagedenkdiens.

Digte wolke is oor Johannesburg saamgetrek met ‘n deurdringende motreën wat sedert Maandagnag val.

Desondanks is duisende swart inwoners tans in die gure weer onderweg na die stadion om hul laaste eer te betoon.

Die minister in die presidensie, Collins Chabane het ‘n beroep op samewerking gedoen vóór die gedenkdiens.

Hy sê sommige mense sal waarskynlik weggewys moet word by die stadion, weens beperkte sitplek. Hy het gevra dat hulle dit aanvaar sonder om insidente te veroorsaak.

Daar is honderd-en-vyftig openbare plekke ingerig waar die publiek die verrigtinge kan volg.

Madiba-aanhangers het reeds oornag begin toustaan om by die ENB-stadion toegelaat te word.

Privaatvoertuie word nie by die stadion toegelaat nie en mense mag ook nie sambrele bring nie.

Sowat 100.000 mense, onder wie 90 staats- en regeringsleiers, sal na verwagting die geleentheid bywoon.

Lede van die Amerikaanse Spesiale Magte sal ook in die stadion wees om na die veiligheid van president Barack Obama en sy voorgangers om te sien.

Die Amerikaanse president, Barack Obama en sy gevolg kom vanoggend in die land aan en sal ‘n spreekbeurt by die verrigtinge kry. Obama reis saam met oudpresident George W Bush.

Die voormalige presidente, Jimmy Carter en Bill Clinton, sowel as Clinton se vrou, Hillary sal saam met Obama die geleentheid bywoon.

Ses en twintig Amerikaanse kongreslede sal ook teenwoordig wees.

Die SANW sê hulle is gereed om die groot getal hoogwaardigheidsbekleërs te hanteer. ‘n Woordvoerder van die weermag, brigadier-generaal Xolani Mabanga sê hulle enigste bekommernis is die weer.

Hoofsuperintindent Wayne Minnaar van die Johannesburgse Metropolisie sê die Randse Skou-weg, Nasrec-weg en die Soweto-hoofweg is gesluit.

Die hekke by die stadion het reeds sesuur oopgemaak met busvragte vol mense wat afgelaai word.

Die Reavya-busdiens in Johannesburg is reeds van vyfuur vanoggend oopgestel.

Minnaar het mense wat die gedenkdiens wil bywoon, aangeraai om busse en treine te gebruik aangesien parkeer plekke vir buitelandse besoekers gereserveer is.

Die Weermag is glo gereed om enige gebeurlikheid te hanteer met sowat 11.000 weermaglede wat vir die geleentheid ontplooi is.

Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqalkula het laat gister ‘n vergadering met die hoofde van die die Leër, Lugmag en Vloot gehou om veiligheidsplanne te finaliseer.

Die weermag sê dis sy plig om sy voormalige Umkhonto we Sizwe-opperbevelvoerder te groet.

Benewens die huidige en vorige Amerikaanse presidente, sal al 54 Afrika-staatshoofde ook na verwagting die gedenkdiens bywoon, sowel as leiers uit Brasilië, Kuba en Palestina. Israel sal nie die diens bywoon nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.