Engeland se swart Messias

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Sonder Engeland, die Anglikaanse Kerk, die BBC, die Fleetstraatkoerante en Engelse akademici, sou daar nooit ‘n Mandela gewees het nie. Die tergende vraag is: vanwaar Engeland se behoefte aan ‘n swart Messias, en waarom uit al die Statebondslande, juis uit Suid-Afrika?

Vrydag, kort ná die nuus oor Mandela se dood finaal aangekondig is, kyk ek toevallig vir ‘n paar minute na die BBC op die internet waar ‘n spesiale huldiging aan Mandela aangebied is. Weereens is al die verslete propagandabeelde uit die tagtigerjare opgedis en blanke Suid-Afrikaners in die algemeen en Afrikaners in die besonder as gewetenlose rassiste voorgestel wat goedsmoeds op swartes met gewere losbrand. Een swart vrou waarmee die BBC ‘n onderhoud gevoer het, het selfs beweer dat blankes in Suid-Afrika “immigrante” is wat ‘n probleem vir die inheemse swart bevolking veroorsaak.

Ook in die Nasperskoerante soos Beeld en Rapport word Mandela as ‘n heilige geloof vir sy geniale insigte, politieke finesse, gebare van versoening en dergelike meer. Vandag se Rapport word, sover ek verstaan, byna in die geheel aan die Groot Man gewy. Selfs die skrywer P.G. du Plessis het naarstiglik in sy woordeboek rondgeblaai op soek na byvoeglike naamwoorde in die oortreffende trap waarmee hy Mandela kon beskryf. Ten aanvang vergelyk hy hom met een van die Nederlandse prinse van Oranje tydens die Tagtigjarige Oorlog “waaroor kinders in die strate gehuil het”.

Enigeen wat gister op straat of in die winkelsentrums was, sou niemand gesien huil het nie. Anders as met Verwoerd se dood in 1966, byvoorbeeld, toe dit vir baie Afrikaners ‘n traumatiese en hartseer gebeurtenis was. Dieselfde Afrikaanse koerante wat destyds oor Verwoerd gerou het, is vandag in sak en as oor Mandela.

Niks wat ek hier sê, gaan egter aan Mandela se messiaanse beeld in die wêreld verander nie. ‘n Mens staan eenvoudig verstom voor die wyse waarop hy deur joernaliste en ander politici, wat wel met die korrupte wêreld van die politiek bekend is, opgehemel word.

Hoe moet ons die bykans wêreldwye statuur van Sint Mandela verklaar? Waarom nie enigiemand anders nie? Daar was tog dosyne swart leiers in Afrika wat op een of ander stadium in die tronk was, om van martelare in Suidoos-Asië – veral in lande waar die Chinese invloed geld – nie te praat nie. Frantz Fanon, Kwame Nkroema, Amilcar Cabral en vele ander het toesprake en boeke agtergelaat waaruit hul dissipels sou kon aanhaal. Cabral is blykbaar in 1973 deur ‘n mededinger met die hulp van Portugese agente in Guinee om die lewe gebring. Dus het Cabral deur blanke toedoen gesterf, terwyl Mandela op ‘n hoë ouderdom, ná gereelde behandeling deur Afrikanerdokters in Pretoria, aan natuurlike oorsake dood is.

In ‘n vorige rubriek het ek oor die rol van Joe Slovo en sy vrou Ruth First in die skepping van linkse mites oor Suid-Afrika geskryf. Sonder die hulp van hul geesgenoot en medewerker in die Anglikaanse Kerk, Trevor Huddleston, sou nie veel mense insgelyks van Mandela kennis geneem het nie. Dit was veral Huddleston wat die Anglikaanse Kerk se mediareikwydte in Engeland gebruik het om Mandela en die ANC se saak konstant onder die openbare aandag te bring.

‘n Uitgebreide kennis van die duister kant van ons onlangse geskiedenis verklaar ten dele die opkoms van die ANC en die SAKP – en tesame met Afrikanerverraad selfs hul uiteindelike magsoorname – maar nog nie die buitengewone, byna goddelike status wat Mandela aangeneem het nie.

Die tragedie van Afrikanerdenke oor die politiek is dat ons mense nooit na die groter prentjie kyk nie. In daardie opsig is die gewone Engelse kritiek teen ons, naamlik dat ons “parogiaal” is, heel waarskynlik korrek. Die laaste Afrikaners wat van die groter prentjie en die globale politiek bewus was, was Verwoerd en die destydse redakteur van Die Transvaler, G.D. Scholtz tydens die vyftiger- en vroeë sestigerjare. In die taamlik Afrikanervyandige New History of South Africa word soos volg opgemerk:

But there were also some remarkable book-length contributions by Afrikaner intellectuals during the 1950s that went far beyond the realm of what was possible in practical politics. Their main concern was not with what was feasible in terms of the party’s white constituency but what was necessary in view of the sweeping changes that the world, Africa and South Africa were experiencing.

Engeland was die eerste land wat oor Mandela gaande geraak het, waarna die res van die wêreld gevolg het. FW de Klerk. Roelf Meyer en Naspers is agterna deur die Engelse geloof in Mandela oorweldig, selfs “bekeer”.

Waarom het Engeland ‘n swart Messias nodig gehad en hunker nou postuum waarskynlik meer as ooit na hom?

Die antwoord, soos altyd, moet gevind word in die internasionale politiek en veral Engeland se laaste oorblywende geopolitieke magsbasis: die Statebond. Dink daaraan dat die Statebond een van die min internasionale organisasies is waarvan die lewenslange hoof  ‘n blanke, Engelse vrou is: koningin Elizabeth II. Hoe kan sulke “blanke suprematisme” op hierdie dag en datum geregverdig word? Die antwoord is maklik: indien Engeland self oor ‘n sekulêre godsdiens met ‘n swart Messias beskik wat sy aan die meer as miljard mense in die Statebond kan verkondig. Londen, nie Qunu nie, is die sentrum van die Mandela-mite. Net so het die Engelse Kerk, asook joernaliste, daardie mite geskep.

Maak dit sin? Daar is ‘n teorie dat Rome en Constantyn uiteindelik die Christendom tot staatsgodsdiens verrhef het, nie omdat die Romeine werklik daartoe bekeer is nie, maar omdat hulle die Christelike boodskap van “gee aan die keiser wat hom toekom” en “draai die ander wang” polities nuttig gevind het. Die Romeinse Ryk is, net soos die wêreld vandag, geteister deur opstande en geweld in die Midde-Ooste waarby Jode meermale betrokke was. Daarom het dit sin gemaak om ‘n alternatiewe – en bowenal vredeliewende – Joodse godsdiens, dié van Jesus Christus, aan te neem.

Engeland beskik nie meer oor kolonies nie en het militêr en ter see gedaal tot die vlak van ‘n middelslagland. Nog erger: mnr. Douglas McWilliams, uitvoerende beampte van die Britse Sentrum vir Ekonomiese en Sakenavorsing, voorspel dat Indië teen 2017 ‘n groter ekonomie as dié van Brittanje gaan hê! Selfs binne die Britse Statebond is die magsewewig dus besig om te verskuif.

Die Messias uit Suid-Afrika is nie gestuur nie; Engeland het hom geskep. Watter beter manier om Britse oorheersing van die Statebond te verseker as om die Mandelakultus as wapen te gebruik? Sou Indië of enige ander land Engelse oorheerrsing uitdaag, sou die klag van “rassisme” mos ewe maklik teen die Indiërs gebruik kon word, want danksy die Mandelakultus mag Engeland dit regkry om al haar oudkolonies in Afrika, asook haar eie groeiende swart bevolking, in toom te hou.

Tesame met die Mandelakultus, het Engeland ook ‘n sondebok verkry: die Suid-Afrikaanse blankes en spesifiek die Afrikaner. Ons het die Messias 27 jaar lank op Robbeneiland en in Pollsmoor “gekruisig”, waarna hy gesê het: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Vandaar die gif wat die BBC weer Vrydag oor ons uitgespuug het. Engeland beskik oor ‘n witoorheersingsprojek: om hul wit koningin oor ‘n kwart van die wêreld se bevolking te laat regeer en na Engelse pype te laat dans. Daarom moet hulle ons as “wit suprematiste” voorstel, om die aandag van hul eie spel af te lei.

Dit is verkeerd om te redeneer dat Suid-Afrika Mandela nodig gehad het “om te versoen”. Soos hierdie video baie mooi uitwys, sou Suid-Afrika sónder die Mandelas (Nelson en Winnie),asook ANC- en SAKP-terreur, lankal “versoen” het en ‘n federale of kantonstelsel ontwikkel het wat almal sou gepas het. Pleks daarvan sit ons nou met revolusie, geweld, onsekerheid en toenemende radikalisme van die Malema-tipe.

Die ander Westerse land waar Mandela groot aansien geniet, die VSA, sit met sy eie rasseprobleme en baat indirek by die Engelse Mandelakultus. Vandaar Obama en die Clintons se baie sigbare pogings om Mandela ook as Amerikaanse ikoon te vestig. Obama, hoewel die eerste swart president van Amerika, is ‘n sondige politikus wat tans onder hewige kritiek van die Republikeine en die regse beweging in die VSA deurloop. Mandela, veral nou, word nie meer aan politieke of selfs menslike maatstawwe gemeet nie, daarom kan hy ook die Amerikaners “versoen”, met die Weinstein-broers en Anant Singh se film oor Long walk to freedom wat tans in die teaters draai. Terloops, is dit nie toevallig hoe Mandela se dood aangekondig is op dieselfde oomblik as wat die film vrygestel is en sodoende ongekende globale publisiteit geniet nie?

Een van die sleuteloomblikke in die Nasionale Party se diplomatieke neerlaag teen die ANC was toe die Amerikaanse Kongres Reagan se veto oor Amerikaanse sanksies teen Suid-Afrika met ‘n tweederde meerderheid ongedaan gemaak het. ‘n Deel van Reagan se eie party, die Republikeine, het teen hom gestem, in die waan dat hulle daardeur die swart stem in Amerika op hul sou verenig. Daarvan het natuurlik dadels gekom en veral met Obama as kandidaat stem meer as negentig persent van Amerikaanse swartes vir die Demokrate. Dat die Republikeine daardeur die ANC in Suid-Afrika aan bewind gestel het, kan hulle min skeel en dui aan hoe hulle ook hul eie blanke landgenote in die toekoms gaan verraai.

Met al die negatiewe berigte oor swart gedrag in Amerika, onder meer die “uitslaanspeletjie” (Knock-out game) waardeur jong swart mans goedsmoeds blankes (selfs vroue) op straat aanval, het die VSA ook ‘n groot behoefte aan ‘n swart heilige wat die teenpool van die werklikheid “bewys” en die inherente deug van die swartman beliggaam.

Dus is die Statebond en die VSA verenig in hul behoefte aan ‘n swart Messias wat nie noodwendig in ‘n stal nie, maar in ‘n hut in Qunu gebore is.

Sien u al die groter prentjie? Sluit by PRAAG aan!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.