Soos Josef: Van prisonier tot President

Deel op

deur Madelein Jacobs

In die ou dae toe ons oumense nog baie Bybel gelees het, was daar ‘n bekende Bybelse verhaal oor ‘n prisonier wat president geword het.

Die Bybelse verhaal van Josef toon ooreenkomste met ‘n soortgelyke bekende Egiptiese verhaal oor twee broers, en is gedeeltelik daarop gebaseer. Die Bybelse verhaal oor Josef wat onderkoning oftewel “president onder die grondwet” geword het, speel hom ook af in Egipte, in Afrika.

Josef was van jongs af polities bewus en aktief, en word daarom deur sy bedreigde broers geëlimineer. Dog Josef oorleef en word as slaaf in Egipte, die wêreldsupermoondheid, aan ‘n baie gesiene en invloedryke politieke persoon verkoop. ‘n Politieke Potifar veroorsaak op veraderlike wyse dat Josef weer geneutraliseer word, en in ‘n Egiptiese tronk beland.

Die koning van Egipte droom, dink vooruit, en sien ‘n baie belangrike ekonomies-politieke siklus vir Egipte aankom: sewe jaar van vinnig groeiende borrelekonomie, en daarna die onvermydelike sewe jaar van groot resessie. Nie alleen verklaar die nie-Egiptenaar Josef hierdie komende siklus vir die koning van Egipte nie, maar stel ook ‘n meesterplan voor, hoe om die siklus te benut deur ‘n nasionale grondoordragskema deur opgegaarde voedsel vir grond te verruil, wat die mag en rykdom van die Egiptiese koning geweldig sal vergroot. Met hierdie puik politieke plan word die nie-Egiptiese prisonier toe die dienende president van Egipte, die wereldsupermoondheid van daardie tyd.

Die groot politieke plan soos wel opgeteken deur die Bybelskrywers, is egter vandag heeltemaal vergete. Al wat ons van die Bybelverhaal kan onthou en vir ons kinders vertel, is die aangrypende gebeure en pragpropaganda van ‘n goeie slaaf en modelprisonier wat ‘n uitstekende president geword het, en toe nie wraak geneem het nie, maar sy broers met hom versoen het.

Nelson Mandela was die Josef van Londen. Londen, die finansiële sentrum van die heersende Westerse wêreldmoondheid, het baie gehelp om van die politieke prisonier ‘n ikoniese president te maak. Met mnr Mandela aan bewind in Kaapstad en Pretoria, is kapitaalbeheer geliberaliseer, en het skatryk Suid-Afrika se grootste maatskappy na Londen ontsnap, om van daar multinasionale maatskappye van die heersende Westerse wêreldorde en Washington-konsensus te word. Anglo-American was Suid-Afrika se grootste maatskappy, wat voor Londen se Nelson president geword het, die helfte van Suid-Afrika se industrialisasie moes finansier. Ná Mandela het dit gedaal tot niks – ek verwys hier na plaaslike industrialisasie.

Die Suid-Afrikaanse Gencor het na Londen se Nelson as president tot in die wêreld se grootste en rykste multinasionale mynmaatskappy ontwikkel: BHP Billiton, wat in Londen genoteer is, wie se groei gefinansier is met geheime Eskomkragtariewe wat net aan BHP Biliton beskikbaar en bekend was, wat hulle in staat gestel het om betyds hul reusechroombates in Suid-Afrika teen maksimum waarde te verkoop, net voordat die kragprys vervierdubbel het.

President Mandela het soos ‘n keiser sy eie Londen-ondersteunde Xhosa-opvolger gekies en aangestel, en nieteenstaande die onervare president Mandela se oneindige persoonlike goedheid en heiligheid, het tradisionele Zoeloes van Kwazulu-Natal met ‘n geheue van Londen se Suid-Afrikaanse empire in opstand gekom teen die ontsaglike rykdomoordrag vanaf Suid-Afrika na Londen.

Volgens die Bybelverhaal oor onderkoning, oftewel president, Josef in Egipte, het daar egter later ander konings en dinastieë in Egipte aan bewind gekom, en dit het die geskiedenisverloop beïnvloed.

Josef?
Josef?

Mnr Mbeki is onverwags deur mnr Zuma as tradisionele Zoeloe uit Londen se ekonomies neoliberale kussings gelig, en sedertdien voer Londen ‘n hewige politieke propaganda-oorlog teen Nkandla, wat nou fataal stoom verloor het deur Madiba, ook Londen se geliefde, se doodsaankondiging.

Dit is dus ironies dat die dood van Londen se Nelson, Londen se sterk aanslag teen sy aartsopponent Nkandla heeltemaal ongedaan gemaak het.

Dit is ook insiggewend dat Jacob besluit het om Nelson op 15 pleks van 16 Desember te laat begrawe. Gelofte- oftewel Versoeningsdag, word dus nie Mandeladag nie, met die een wat op die ander volg.

Die skryfster van hierdie artikel distansieer haar van enige negatiewe uitlatings of beledigende kommentare oor Zoeloepresident Zuma of San-Xhosa-Nelson Mandela. Die skryfster is baie lief vir Madiba se kritiese stellings oor die VSA, en Zuma se doeltreffende aksies teen Londen en die neoliberale Washington-konsensus.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.