Flip Buys val ‘rassistiese Afrikaners’ aan

Deel op
Flip Buys
Flip Buys

In ‘n meningsartikel op Maroelamedia loods Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, ‘n aanval op Afrikaners wat “rasse-argumente gebruik”. Hy vergelyk hulle met Julius Malema en sê:

Maar hierdie verskynsel is ook algemeen onder Afrikaners, wie se goeie naam en mooi ideale al dikwels beswadder is deur sommige ‘Afrikaner-leiers’ se swak gedrag of dom optredes. Die jongste voorbeeld hiervan is Dan Roodt se gebruik van rasse argumente, skynbaar in ‘n lomp poging om die Afrikanersaak te bevorder deur te probeer ‘bewys’ hoe dom swartmense nou regtig is, veral gemeet teen geleerde wit rassiste.

Al wat sulke mense en hul argumente regkry, is om nog meer verbete vyande vir Afrikaners te maak, en om talle gematigde Afrikaners te vervreem van enige iets wat Afrikaans is. Deur swak argumente te gebruik, word ‘n goeie saak polities verder besoedel en vernietig. Sulke argumente bevestig al die vooroordele wat daar teen Afrikaners bestaan, en gee gratis kanonkoeëls vir ons teenstaanders wat ons reeds niks gun nie. Dis vir Afrikaners nou ‘n goeie tyd om eerder vriende as nog vyande te maak. Ons is reeds een van die mees gehate groepe in die land, en daar is geen rede om onsself nog verder te verneder en ongewild te maak nie. Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n pro-Afrikaner standpunt en ‘n anti-swart houding, ek kon nog nooit begryp hoekom daar mense is wat dit wil vermeng nie.

Dit wil voorkom asof Buys beswaar het teen ‘n vorige artikel van dr. Dan Roodt wat op Maroelamedia en op praag.co.za verskyn het en waarin hy dr. Piet Croucamp se stelling dat alle “rassiste” noodwendig dom is, weerlê.

Buys meen dat dit “onchristelik (is) om haat tussen rassegroepe aan te wakker” en noem “5 redes hoekom (hy) teen rassistiese argumente is, veral as dit gebruik word om die Afrikanersaak te ‘bevorder’”:

1. Dit is verkeerd
Die wetenskaplike hoofstroom se gevolgtrekking is al dekades lank dat daar nie biologiese verskille bestaan wat een ras minderwaardig maak nie. Klein groepies afvalliges se menings verander niks hieraan nie. Die verskille in kultuur, ideologie, tradisies, instellings, geografie, omstandighede en geleenthede wat verskillende prestasies tot gevolg het, het niks met ras te doen nie.

2. Dis moreel tereggestel
Rasbegronde argumente is moreel tereggestel deur gebeure in Nazi-Duitsland. Wie hierdie spook weer probeer oproep, vernietig sy eie saak. The moral high ground is the best place to site your artillery.

3. Dis onsinnig en nutteloos
Rasargumente is ‘n politieke doodloopstraat, sonder enige sin of nut. Dit maak wêreldwyd vir Afrikaners nog vyande, en is ‘n verleentheid vir die oorgrote meerderheid Afrikaners wat rassisme soos ‘n aansteeklike siekte wil vermy.

4. Dit kan die Afrikaner vernietig
Afrikaners is ‘n krimpende en ongewilde minderheid in ‘n al vyandiger omgewing. Rasse-argumente wek net verdere haat en woede aan, en speel in die hand van die Malemas wat ‘n rasse-oorlog aanhits om hulle politieke doelwitte te bevorder.

5. Vryheid teenoor Apartheid
‘n Geregverdigde vryheidstrewe wat op die regte manier bevorder word, is internasionaal aanvaarbaar en kan bykans onoorkomlike struikelblokke oorkom. Maar haatpolitiek wat die indruk probeer skep dat Afrikaners wat na Vryheid streef, maar net rassiste is wat wil terugkeer na Apartheid, is gedoem tot wêreldwye teenstand en ondergang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.