Die EU se roekelose uitbreiding

Timosjenko voer Soros se rewolusie
Timosjenko voer Soros se rewolusie

Deur Karin Roodt.

Die Oekraïne se onverwagte verwerping, onder Russiese dwang, van ‘n langtermyn, onderhandelde voorlopige lidmaatskapooreenkoms met die Europese Unie is waarskynlik ‘n manier vir die Russe om protes aan te teken oor vroeëre ooreenkomste met die Weste wat eensydig verbreek is.

Rusland se werklike grief teen die Weste, en die VSA in die besonder, is dat die belofte van president George HW Bush aan die Sowjet-leier Michail Gorbatsjof met die ineenstorting van kommunisme nie nagekom is nie. Bush senior het belowe dat NAVO sal nie uitbrei om die voormalige Warskouverdraglande oor te neem nie, en daarvan het dadels gekom.

Terwyl duisende Oekraïners die strate ingevaar het, baie van hulle studente of veterane van die massa-optogte van die 2004 se Oranje Revolusie, is dit hierdie keer – nege jaar later – teen ‘n ander agtergrond.

Die Oranje Rewolusie is reeds ‘n teer punt in Moskou, aangesien dit uit die sak van die Amerikaanse miljardêr George Soros gefinansier is.

Die Russiese president Wladimir Poetin het pas ‘n skouspelagtige terugkeer na die hoofarena van magspolitiek in die Midde-Ooste gemaak – teen aansienlike koste vir die Verenigde State van Amerika – met sy vredesinisiatief in Sirië.

Nou het hy die Europese Unie ook in ‘n hoek gedryf. Die vergadering ‘n week gelede, Vrydag om presies te wees, tussen die Oekraïne en die EU kan van kritieke belang wees.

“Ons is almal Europeërs!” en “Nee” vir afpersing!” was die uitroepe tydens die optogte. Verwerping van die Europese voorstelle het nou twyfel gesaai oor die uitslag van ‘n EU- vergadering in Vilnius, Litaue, oor verdere ooreenkomste met die Oekraïne , Moldawië en Georgië.

Daar is potensiële voordele vir Rusland in ‘n indirekte verbintenis met die EU. Maar as beloftes nie nagekom word nie, kan die Russe seker nie verkwalik word dat hulle sulke voordele heroorweeg nie.

Na die Duitse eenwording is Europa se ledetal uitgebrei na die Duitsers, en die VSA het “beperkte NAVO-vennootskappe” aan Pole, Hongarye en Slowakye aangebied.

Oekraïne se president, Janoekowitsj, het onverwags die Europese voorstelle verwerp, soos sy ondersteuners in die parlement, wat teen besluite oor die EU gestem het, insluitend die een wat sou toegelaat het dat die voormalige president Julia Timosjenko – ‘n Oranje Rewolusie-aanstelling – die gevangenis sal kan verlaat en na Duitsland gaan, amptelik vir “mediese behandeling”.

NAVO het met Slowakye as lid ‘n gemeenskaplike grens met die Oekraïne, maar die laasgenoemde was nooit deel van die Weste nie.

Hulle was deel van die Sowjet-Unie tot 1991 en voorheen van die Russiese Ryk sedert 1793, en ‘n bondgenoot van Rusland sedert die Middeleeue.

Die oorsprong van die huidige krisis lê dus in die Oekraïne se geskiedenis van imperiale oorheersing deur Rusland. Vir eeue het die Russe in die Oekraïne geheers onder die vaandel van die Tsaristiese of Sowjet regimes.

Rusland het natuurlik ou taalkundige en godsdienstige verdeeldheid in die Oekraïne uitgebuit, maar buitelandse magte wat dit wil naboots, word deur Rusland en die Russies-sprekende Oekraïners gesien as onaanvaarbare inmengers in die land se sake.

Die Oranje Rewolusie is deur Poetin vertolk as deel van ‘n Amerikaansgeborgde veldtog om Rusland se wêreldposisie te ondermyn, wat begin het met Rusland se uitsluiting van die Balkan en die uitbreiding van NAVO met die oorlog teen Serwië, een van Rusland se historiese, godsdienstige en kulturele bondgenote.

Met die NAVO reeds by die Oekraïense grens, en Pole se sterk veldtog vir NAVO-lidmaatskap van die voormalige Sowjet-state soos die Oekraïne en Wit-Rusland, is die saak baie sensitief.

In 2008 is die NAVO-opmars gestuit met ‘n konflik tussen Georgië – wat ook deel was van die Sowjet-Unie – en die onafhanklike gebiede van Suid -Ossetië en Abkhazië.

Georgiese troepe het Suid-Ossetië binnegeval vergesel deur President Mikheil Saakashvili se aankondiging op internasionale televisie dat die gebiede sal verenig met Georgië.

Die Russiese weermag het oornag ingegryp en teen dagbreek was Georgiese troepe uit hul diepte en die flambojante en Amerikaans-gesteunde Saakashvili was op CNN desperaat om Amerikaanse steun en NAVO-ingryping af te bedel. Sy pogings was verniet.

Oekraïne se huidige konflik met die EU val saam met die twee belangrike en positiewe Russiese politieke ingrypings in die Midde-Ooste. Die mees onlangse was die Russies-gesteunde ooreenkoms tussen Iran en die P5+1 oor Iran se kernprogram.

Die tweede was Poetin se ingryping in die Siriese burgeroorlog na die omstredenheid oor chemiese wapens, toe die ongewilde Amerikaanse president Barack Obama wou aandring op ‘n bomaanval.

‘n Ewe konstruktiewe kompromie sal welkom wees in die Oekraïene en die EU leierskap se soms roekelose uitbreiding van die EU ter wille van die uitbreiding, kan dalk ‘n paar miljardêrs in die VSA laat glimlag, maar nie Europa se inwoners nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.