Agt mites oor e-tol

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Met al die geraas rondom e-tol, en veral die propaganda vanaf Sanral, het ek gedog dit sou miskien nuttig wees om die feite oor die tollenaars op die tafel te plaas. Daar is ‘n hele aantal mites wat die rondte doen, en moedswillig aangeblaas word deur die regering en veral Sanral. Dit is nodig om hierdie mites nek in te slaan.

Mite 1: Mense wat weier om e-skyfies te koop, is wetteloos wil nie vir paaie betaal nie

Dit is ‘n blatante leuen. Die meeste motoriste wat die deurpaaie wil gebruik, betaal reeds derduisende in terme van regstreekse belasting (persoonlike belasting) en onregstreekse belasting (onder andere ‘n brandstofheffing en BTW) wat veronderstel is om onder andere na die welstand van die land se paaie om te sien. Jy, ek en ons ouers het lánkal reeds, en veral voor 1994, vir Suid-Afrika se padstelsel betaal. Ons betaal ook steeds vir die instandhouding van paaie met elke transaksie waarby daar belasting ter sprake is.

Mite 2: Die howe het reeds ‘ten gunste van tolpaaie besluit’ (aldus Sanral)

Anders as wat Sanral volhou, het geen hof homself oor die meriete, al dan nie, van e-tolpaaie uitgespreek nie. Die sake wat deur OUTA en die VF+ gebring is, is bloot op tegniese punte uitgegooi. In eersgenoemde geval was die saak te laat gebring, en in die tweede geval het die hof gelas dat die saak nie dringend was nie.

Mite 3: E-tol gaan daaroor om vir die instandhouding van paaie te betaal

Hierdie punt sal baie mense verbaas, maar eintlik is dit onwaar dat e-tol slegs oor die instandhouding en opgradering van paaie gaan. Sou dit die geval wees, moes alle paaie immers mos getol word, nie waar nie? Alle paaie moet (teoreties) in stand gehou word. Of instandhouding wel in Suid-Afrika gebeur, is ‘n perd van heeltemal ‘n ander kleur.

E-tol gaan nie slegs oor instandhouding nie, maar ook oor aanvraagbestuur en verkeerbeheer. Die staat wil, in eenvoudige terme, aktief probeer om, dmv die geldelike benadeling van motoriste, die verkeer op Gauteng se deurpaaie te verminder. Deur dit duur en ‘n beslommernis te maak om op die paaie te ry, wil die regering die verkeer op deurpaaie verminder. Daar sou uiteraard ‘n baie makliker manier gewees het om dieselfde doel te bereik, en dit sou wees om bloot die geweldige aantal onpadwaardige voertuie en ongelisensieerde bestuurders van Gauteng se paaie te verwyder, maar dit sou polities onsmaaklik wees, want diegene sonder lisensies en agter die stuur van onpadwaardige voertuie, is juis die ANC se eie kiesers.

Hierdie punt verklaar sommer ook waarom Sanral so vasberade is om die moeitevolle, ondoeltreffende en omslagtige e-tol-meganisme in almal se kele af te druk. Dit sou veel makliker en baie meer doeltreffend gewees het om bloot die brandstofheffing te verhoog, maar dit sou nie die gewenste verkeersvermindering tot gevolg gehad het nie. (En ANC-kaders sou stellig ook nie omkoopgeld van Kapsch, die Oostenrykse maatskappy wat geld by Gautengse motoriste plunder, ontvang het nie.)

Die skokkende waarheid agter skemas soos e-tol, asook Londen se omstrede “congestion charge” is die volgende: Die owerhede soek jou nie eintlik op die snelweë nie. Hulle soek weliswaar jou belastingbydraes om daardie paaie te bou, maar bly asseblief tog net weg van die snelweë waarvoor jy self betaal het. Die ANC se blouligkonvooie wil graag ongestoord teen 200km/h jaag, sonder jou skedonk in hul pad.

Mite 4: Deur nie te betaal nie, staar jy ‘n kriminele rekord in die gesig

Hierdie mite is ‘n gogga-maak-vir-baba-bang storie wat deur Sanral versprei word. Die inwerkingstelling van die AARTO-stelsel het, in teenstelling met Sanral se dreigemente, egter kleiner verkeersoortredings juis gedekriminaliseer. Kleiner oortredings word dus nie meer deur die Strafproseswet hanteer nie, maar eerder deur siviele prosesse. (Meer ernstige oortredings soos dronkbestuur is wel steeds kriminele oortredings.) Kleiner oortredings, byvoorbeeld parkeeroortredings, word deesdae kragtens AARTO deur ‘n siviele skuldinvorderingsproses hanteer.

Ja, jy sal wel meer betaal as jy laat betaal, of as jy deur ‘n skuldinvorderaar opgespoor word, maar om jou e-tolbetaling terug te hou, is net so min ‘n kriminele oortreding as wat om jou dokter se rekening te betwis of laat te betaal, ‘n misdaad sou wees. Jy kan weliswaar krimineel aangekla word, sou jy ‘n dagvaarding ignoreer as iemand jou siviel dagvaar, maar dit gaan oor minagting van die hof en het nie iets regstreeks met e-tol uit te waai nie. Ek beveel glad nie aan dat iemand ‘n dagvaarding ignoreer nie, maar weer eens: AARTO vermy juis ‘n kriminele strafproses vir kleiner oortredings.

Mite 5: Die administratiewe prosesse, die Poskantoor en Sanral sal die administratiewe las ‘maklik kan hanteer’

Hierdie blatante leuen van Sanral kan maklik van die tafel gevee word deur te onthou dat slegs 7% van alle verkeersboetes ooit betaal word. Minder as een uit tien, dus. Selfs al word ‘n dagvaarding uitgereik, is dit dikwels onmoontlik om die oortreders op te spoor (baie spoedoortreders maak eenvoudig net nie hul deur vir vreemdelinge oop nie) en dus word die meeste verkeersdagvaardings ná twee jaar bloot stilletjies gekanselleer. Vermenigvuldig relatief klein aantalle verkeersboetes met miljoene Gautengse motoriste wat almal daagliks werk toe en terug moet ry, en dit is slegs Nazir Alli wat hom desperaat probeer verbeel dat die ganse pos-, skuldinvorderings- en hofstelsel nie binne ‘n kort tydjie in duie sal stort onder die las van miljoene e-tolrekeninge nie.

Mite 6: Die regering is verbind tot die beginsel dat die verbruiker moet betaal (‘user pays’)

Gaaf. Ek gebruik nie staatstoelaes, staatspensioene, staatshospitale of staatsonderwys nie. Verminder asseblief my belasting dienooreenkomstig, siende dat die gebruikers van bogenoemde daarvoor moet betaal. Net so min as wat laasgenoemde gaan gebeur, so min glo die ANC-regime werklik aan hierdie beginsel. Vee dit gerus maar van die tafel vir die bog wat dit is.

Mite 7: Waarom moet ander provinsies vir Gauteng se paaie betaal?

Goed, ANC-rampgebiede soos die Ooskaap en Limpopo hoef nie vir Gauteng se paaie te betaal nie. In ruil daarvoor sal die Gautengse belastingbetaler dan bloot ophou met sy kruissubsidies vir daardie provinsies. Minder as die helfte van die belasting wat deur Gautengers betaal word, word op Gautengers bestee. Met al daardie ekstra belasting, betaal ons voor Krismis vir die tolpaaie, terwyl die ander provinsies in duie stort.

Mite 8: E-tol is behoorlik en grondwetlik ingestel

Daar is verskeie tegniese redes waarom e-tol nie grondwetlik is nie, onder andere omdat die provinsies nie behoorlik geraadpleeg is nie, maar die belangrikste rede waarom e-tol ongrondwetlik is, is omdat dit in stryd is met Artikel 195 (1) (b) van die Grondwet, wat handel oor openbare administrasie, en soos volg lui:

“Efficient, economic and effective use of resources must be promoted.”

E-tol is egter inherent oneffektief, ‘n beslommernis en dus nie doeltreffend nie, omdat daar baie makliker maniere is om vir paaie te betaal, onder andere ‘n eenvoudige brandstofheffing. Dit is dus totaal strydig met die Grondwet.

Sou jy as motoris dus besluit om nie te betaal nie, en bereid wees om te wag vir ‘n toetssaak in die hof, kan jy hierdie beskouiing as rede aanvoer waarom jy nie jou e-tolrekening wil betaal nie. E-tol, nes regstellende aksie, kan slegs met jou samewerking suksesvol wees. Vir e-tol om ‘n sukses te wees, moet 96% van sy slagoffers vrywillig hul samewerking gee. Is jy bereid om die kaders nog vetter te voer?

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.