Krejcir se borgaansoek gehoor

Deel op
Mediabelangstelling by Krejcir se verskyning
Mediabelangstelling by Krejcir se verskyning

Die borgtogaansoek van die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir, sal vanoggend in die Palm Ridge-landdroshof plaasvind.

Die voortvlugtige Tsjeg en vermeende mafiabaas sal saam met twee offisiere van die Valke en nog ‘n medepligtige in die hof aan Gauteng se Oos-Rand verskyn.

Die twee Valke het na wat berig word ‘n skrikbewind in die lokasie waar hulle woon, gevoer en ver bo hul inkomste gelewe.

Die offisiere van die Valke is in hegtenis geneem vier dae nadat Krejcir gearresteer is. Die Duitse media het berig oor die gebeure en klem gelê op korrupsie in die SAPD wat beskerming aan die vermeende onderwêreldfiguur verleen het na talle onopgeloste moorde, waaronder dié van Uwe Gemballa, ‘n Duitse burger.

Al vier die mans staan tereg op aanklagte van poging tot moord en ontvoering na ‘n voorval in Junie vanjaar.

‘n Sigbare polisieteenwoordigheid is by die hof ontplooi en slegs ge-akkrediteerde media en hofamptenare sal in die gebou toegelaat word.

Met Krejcir se eerste verskyning moes die hofsaal ontruim word en snuffelhonde is gebruik ná ‘n bomdreigement.

Sy mede-aangeklaagdes se borgtogaansoek is na die Germinstonse streekhof verskuif nadat die beskuldigdes vanoggend in die Palm Ridge landdroshof verskyn het.

Joernaliste kon nie vanoggend elektroniese toerusting die hof in te neem nie, maar die bevel is intussen omgekeer.

Krejcir, sy vennoot Desai Lupsondo en twee lede van die Valke, Jeff Nthroane en Samuel Marupeng staan tereg op aanklagte van poging tot moord en ontvoering.

Die spertyd vir Krejcir om sy bates van miljoene rand in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria bo verdenking te plaas, is besig om uit te loop.

Krejcir moet aanstons redes verskaf waarom daar nie permanent op sy eiendom beslag gelê moet word nie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het meer as twee weke gelede Krejcir se bates, waaronder sy Moneypoint pandjieswinkel in Bedfordview aan die Oos-Rand, onder kuratorskap geplaas.

‘n Bewaringsbevel is van die Hooggeregshof verkry vir dié stap. Die hofbevel stel die SAID in staat om die beheer te neem van bates van 15 bedrywe waarin die Tsjeg belange het.

Krejcir skuld volgens Ontvanger van Inkomste miljoene rand aan belasting, boetes en rente.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.