11 September 2001: ‘n nabetragting

Deel op

Op Dinsdag, 11 September 2001, klim ek, soos op elke ander weekdag, in my motor om werk toe te ry. Die dag begin normaal, maar teen die einde van my oggendreis besef ek dat die Verenigde State van Amerika dalk onherroeplik verander het.

Deel op

American Airlines Vlug 11 vlieg om 8:46:30 teen die Noord-toring van die World Trade Centre vas. Vir ‘n paar minute word aangeneem dat dit ‘n verskriklike vliegongeluk was. Die aanname is van korte duur. United Airlines Vlug 175 vlieg om 9:02:59 teen die Suid-toring van die World Trade Centre vas. Dié gebeurtenis word lewendig opgeneem op die kameras van honderde joernaliste en word regstreeks op televisie rondom die wêreld uitgesaai.

Die dag was nog nie uitgewoed nie. American Airlines vlug 77 vlieg in die Pentagon vas teen 9:37:46, en United Airlines vlug 93 val in ‘n geploegde land in Pennsylvanië ongeveer 250 kilometers vanaf Washington teen 10:03:11. Dit word algemeen aanvaar dat die teiken vir vlug 93 die Wit Huis (die Amerikaanse presidentswoning) was en dat die vliegtuig neergestort het nadat passasiers op die vlug probeer het om beheer oor die vliegtuig vanaf die kapers terug te neem.

In New York is daar versengende brande in beide torings van die World Trade Centre. Hoogs ontvlambare brandstof in die vliegtuie veroorsaak brande met buitengewone hoë temperature wat die staalraamwerk van die geboue begin smelt. Werkers en besoekers op die laer vlakke is besig om te ontruim, maar baie is vasgevang in die nooduitgange. Brandweermanne daag in hulle honderde op om die brand te bestry en om die geboue te ontruim. Puin en ander brokstukke stort in die strate neer, en gesluite deure, vlamme en rook keer baie mense op die dak en in die hoër vloere van die torings vas. Soos die temperatuur op die boonste vloere styg, word baie slagoffers desperaat en uiteindelik spring meer as 200 mense vanaf die 110de vloer. Hulle liggame val in die strate, en op die dakke van die ingangsportale benede. Die berugte foto "The falling man" is ‘n onstellende getuienis van die verskriklike keuse wat hulle moes uitgeoefen.

Uiteindelik ondermyn die hoë temperatuur van die brande die strukturele integriteit van die geboue en stort hulle in duie. Duisende wat vasgevang is in nooduitgange, en honderde brandweermanne en polisie offisiere, sterf in die ineenstortings. Nog vyf nabygeleë geboue word óf totaal in die ineenstortings vernietig, óf word sodanig beskadig dat hulle later gesloop moet word.

Tweeduisend negehonderd drie en sewentig mense sterf op dié dag in die aanvalle en dié getal sluit tweehonderd ses en veertig passasiers op die vlugte en honderd vyf en twintig mense in die Pentagon in. Driehonderd drie en veertig brandweermanne sterf asook drie en twintig polisie- en sewe en dertig hawepolisie-offisiere. Daar is steeds vier en twintig mense wat vermis word.

Êrens in die Midde-Ooste kyk ‘n groep mans op die dag na die nuusuitsending op CNN. Wat hulle gedink het, sal niemand weet nie. Ek stel my voor dat hulle tevrede was, en dalk selfs opgewonde. Die Groot Satan het ‘n bloedneus.

Die groep mans is skynbaar nie besonder nie. Hulle is ‘n klein groepie gelowige Moeslems wat in nederige eenvoud leef, wat baie bid, wat karig eet, sonder toegang tot groot weermagte, maar met hulle fundamentalistiese geloof en met volgelinge wat in hulle glo, het hulle die magtigste Ryk in die geskiedenis van die mensdom uitgedaag en ‘n gevoelige slag toegedien oor ‘n afstand wat kontinente van mekaar skei. In dié opsig verteenwoordig die aanvalle in New York en in Washington ‘n merkwaardige en historiese prestasie.

In die moderne geskiedenis kan die aanvalle op 11 September 2001 met die Japannese aanvalle op Pearl Harbor in 1941 vergelyk word. Pearl Harbor het geskiedkundige gevolge gehad. Dit het die VSA uit sy isolasie wakker geskud en die kolossus van die wêreld het tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree. Terwyl Duitsland deur Rusland op sy Oosgrens verslaan is, is dit tog Amerikaanse ekonomiese, industriële en militêre mag wat die magsbalans in die Tweede Wêreldoorlog teen Duitsland en Japan geswaai het. Kernwapens, wat die VSA reeds in die 1940’s kon bou, was die direkte gevolg van die nywerheidsvermoëns van die VSA. Die gebruik van dié wapens in Japan, net vier jaar ná Pearl Harbor, het die Aksislande finaal en volledig geknak.

Daar is tog belangrike verskille tussen Pearl Harbor en New York op 11 September 2001. Die Japannese aanvalle op Pearl Harbor is weliswaar deur Japan uitgevoer, wat op daardie stadium ‘n onafhanklike en sterk nywerheidsland met dapper soldate en uitstekende generaals was. In 1941 was die VSA egter ook ‘n selfversekerde en vooruitstrewende staat. Amerikaners het allermins aan onsekerhede gely, en die sterk demografiese groei en die sterk gemeenskaplike waardes van Amerikaners in die 1940’s na die Groot Depressie tesame met uitstekende skole, kolleges en universiteite het Amerikaners die vindingrykste, rykste en gesondste bevolking in die geskiedenis van die mensdom gemaak. In die ná-oorlogse jare was die VSA uiters goed voorbereid vir die Koue Oorlog en terwyl Rusland en Europa uit die as van die Oorlog opgestaan het, het die VSA die ekonomiese en kulturele gaping met die res van die wêreld net verder vergroot.

Daar was egter ‘n donker wolk op die horison. Amerikaanse kultuur het ‘n drastiese verandering sedert die Tweede Wêreldoorlog ondergaan. Filosofiese en kulturele invloede van denkers soos Gramsci en Marx, die Franse filosowe (onder andere Sartre), asook Nietzsche, het die kunste, kultuur en ander sosiale bewegings (onder andere feministe, aborsiegesindes en geleerdes met ‘n linksgesinde lewensuitkyk) sterk beïnvloed. Amerikaanse en Westerse kulturele idees en aannames is uitgedaag en ondermyn. ‘n Kultuuroorlog, wat steeds fel woed, is ontketen en oor dekades heen het linksgesinde idees as politieke korrektheid en multikulturalisme beslag gekry. ‘n Direkte gevolg van die veranderde kulturele omgewing is dat Amerikaanse selfversekerdheid ondermyn is. Die robuuste demografie van die VSA in 1941 het grotendeels gekwyn en binne ‘n enkele geslag gekwyn. Gemene aannames rondom kultuur is ondermyn en ‘n kontrakultuur wat gedurende die oorlog in Viëtnam onstaan het, het Amerikaanse politieke en globale doelwitte ondergrawe.

Daar was noue politieke en kulturele bande tussen die VSA en Europa in die ná-oorlogse jare. Die Tweede Wêreldoorlog het Europese moondhede uitgeput en onseker gelaat. Terwyl daar vinnige ekonomiese en selfs demografiese herstel in die eerste dekades na die oorlog plaasgevind het, het die kultuuroorlog ook na Europa versprei. ‘n Onsekere en verswakte Europa was baie vatbaar vir die nuwe kulturele idees en die ondermyning van Europese kulturele instellings het baie vinniger as in die VSA gevorder. Die gevolge hiervan is nou duidelik sigbaar. Demografiese afteruitgang van Europeërs wat skerp teenoor die sterk demografie van Moslems in Europa afsteek, asook Europese onsekerheid in die internasionale sfeer wat gekenmerk word deur die huiwerige diplamtieke houding van Europa, het alledaags geword. Demografiese verval in Europa is so ver gevorderd dat ‘n hele geslag Europese kinders grootword wat nie verstaan wat dit is om ‘n broer of suster te hê nie, wat die begrippe "oom" en "tannie" of "neef" en "niggie" nie meer ken nie. Daar is nou verskeie voorspellings van beduidende Moslemminderhede, indien nie -meerderhede nie, in verskeie Europese lande teen 2030.

Die aanvalle van 11 September 2001 kan nie eerlik beoordeel word sonder om na die kulturele en demografiese kenmerke van die Weste en die VSA te kyk nie. Ná Pearl Harbor het die VSA binne net vier jaar met ‘n sterk en uitdagende Japan afgereken. Vyf jaar na die aanvalle op New York is Al-Kaida steeds sterk, en is die VSA en sy bondgenote in skynbaar vrugtelose militêre avonture in Afghanistan en Irak vasgevang. Terwyl die VSA geïsoleerd in Irak optree, het die oorlog in Afghanistan in ‘n konflik tussen wit Engelsprekende lande (die VSA, Kanada, Australië en Brittanje) en heilige Moslem- en Arabiese vegters ontaard. Westerse regerings probeer die morele hoë grond handhaaf deur na hulle opponente as "terroriste" te verwys en daardeur die ondersteuning van hulle bevolkings vir die oorloë te behou. In teenstelling hiermee verwys Moslems openlik na die Westerse soldate as "Jode en Kruisvaarders".

Die leiers van die Westerse Alliansie, naamlik George Bush, Steven Harper, Tony Blair en John Howard, en hulle adviseurs, probeer om sterk op te tree soos die Geallieerde leiers dit in die Tweede Wêreldoorlog gedoen het. Maar as die leiers destyds verenig was in hulle doelwitte, is George Bush en sy bondgenote vandag geïsoleerde figure, selfs in die Westerse konteks en soms selfs in hulle eie lande. Leiers van die Engelse Alliansie het weer onlangs oproepe om meer soldate uit ander lande gemaak om die poging in Afghanistan, waar die Taliban steeds sterk staan, te steun. Maar moondhede soos Frankryk, Duitsland, en Italië gee net louwarm ondersteuning, terwyl daar soms tekens is dat lande soos Rusland aktief besig is om ondermynend op te tree. Westerse bevolkings, selfs in die Engelssprekende lande, begin meer skepties raak oor die gerugte uit Irak en Afghanistan soos wat die skokgolwe van die gebeure in New York en Washington in die verlede verdwyn.

Wat hou die toekoms in? Dit is natuurlik moeilik om te voorspel. Maar dit word toenemend duidelik dat daar geen maklike uitweg vir die VSA en sy bondgenote uit Irak en Afghanistan gaan wees nie. Dit is skynbaar onmoontlik om die vrede in dié lande te herstel en hulle te demokratiseer, en voornemens om dit te doen blyk toenemend ‘n gejaag na wind te wees. Pakistan onder Generaal Moesharraf ondersteun die Weste skynbaar in Afghanistan, terwyl Moslemvegters onversteurd tussen Pakistan en Afghanistan beweeg. Daar is selfs berigte dat Osama bin Laden steeds êrens in Pakistan is.

Intussen word gesneuwelde Amerikaanse soldate en soldate uit die Engelse Alliansie begrawe, en ‘n sterk anti-Irakoorlog beweging is besig om in die VSA pos te vat. In lande soos Kanada en in baie Europese lande glo ‘n reeds beduidende meerderheid dat Amerikaanse buitelandse beleid direk tot die aanvalle op New York en Washington aanleiding gegee het. Deels kan dit aan die veranderde demografie van dié lande toegeskryf word. Immigrasie vanuit die Derde Wêreld en die Midde-Ooste en die gepaardgaande demografiese omwenteling in Europa, maar ook in die Engelssprekende Alliansie, is besig om die politieke klimaat sodanig te beïnvloed dat die vorige aannames betreffende die kultuur en politiek van weleer nie meer vandag sin maak nie.

En dit is wat baie Amerikaners en nog meer Europeërs aan beide kante van die kultuuroorlog skynbaar nog nie verstaan nie. Or die kultuuroorloë in die Weste, wat nie van die oorlog in Irak en Afghanistan geskei kan word nie, sal ek in my volgende bydrae kommentaar lewer.

насосы дляДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.