Gaan die VF+ die DA se krisis vermors?

Deel op

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Ai, hoe het ek my verlekker aan die DA se onlangse bontstanery oor rassistiese regstellende aksie!  Laasgenoemde is eintlik ‘n toutologie; daar is geen ander soort “regstellende” aksie as rassistiese regstellende aksie nie, en RA kan net sowel ‘n afkorting wees vir rassistiese aksie. Dit is niks anders as anti-blanke rassisme nie.

Dié herrie het begin toe James Myburgh op Politicsweb.co.za gevra het of die DA pas ‘n koeël deur sy eie brein gejaag het, nádat die DA willens en wetens vir verskerpte rassistiese wetgewing in die parlement gestem het. Die DA se steun vir rassistiese reaksie is terloops nie nuut nie – rassistiese aksie en transformasie word jare lank al deur die DA gesteun, maar die DA het dit stilletjies probeer doen, en met sy stilswye vir die blankes wat soos kalkoene vir Kersfees vir die DA stem, gelieg.

Hierdie keer was dit anders, want skielik het almal daaroor gepraat. Rooi Helen Zille het inderhaas ‘n paar mense oor die kole gehaal. Met geweldige ironie is die verantwoordelikes, beide die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, en die persoon wat die DA se arbeidsportefeulje beklee het, Sej Motau, beide synde onbekwame rassistiese-aksie-aanstellings, aangespreek. Motau is inderhaas herontplooi (lees: “afgedank”). Die blinde sambok piets darem maar seer, of hoe, DA?   Die DA se benadering jeens rassisme is gevolglik onlangs op ‘n kongres bespreek, nádat ‘n warboel onsinnige en teenstrydige boodskappe oor rassistiese aksie die wêreld ingestuur is. Die uitslag van die konferensie was egter dat die DA inderdaad rassisme steun wat op sy eie kiesers gemik is, alhoewel die DA hierdie warm patat vergeefs probeer verdoesel het met vae snert en dubbelpratery soos die volgende: “Ons steun wel rassistiese aksie, maar nie kwotas nie.” Ons almal weet al hoe linkses hulself moedswillig kranksinnig moet hou, en dikwels twee teenstrydige konsepte moet internaliseer, en hierdie is nog ‘n voorbeeld. Apartheid was volgens Rooi Helen ‘n onding, maar rassistiese aksie is sommer in die haak, want blankes is die slagoffers.

Ewenwel, die uitslag van die DA se konferensie was dat rassisme springlewendig in die DA is, en dat die DA in wese die ANC se ganse beleid pens en pootjies sy eie gemaak het. Ek was selfs meer geamuseerd dat ek nêrens op die internet enige noemenswaardige reaksie van Naspers oor die uitkoms van die DA se kongres, en sy amptelike besluit om blankes uit te verkoop, kon lees nie. Naspers het wel oor die aanvanklike herrie kommentaar gelewer, maar oor die amptelike besluit dat anti-blanke rassisme inderdaad DA-beleid is, is Naspers doodstil. Miskien het ek dit misgelees, of miskien was daar iewers ‘n klein beriggie op bladsy 15 van een of ander Nasperskoerant, maar Naspers het hard probeer om hierdie ganse petalje te ignoreer. Naspers wil duidelik nie sy lesers laat begryp dat ‘n DA-regering net so rassisties soos ‘n ANC-regering sal wees nie. ‘n Dom en oningeligte leser is klaarblyklik ‘n goeie Naspersleser.

Twee persone wat in ekstase hoort te wees oor die DA se uitverkopery van blankes, is dr Pieter Mulder en adv Anton Alberts. Rooi Helen het aan die VF+ ‘n gulde geleentheid gebied met haar ongeërgde aanbeveling dat blankes wat nie hou van rassisme wat op ons gemik is nie, gerus vir ‘n ander party kan loop stem. Rooi Helen het ook terloops laat val dat die DA meen dat rassistiese aksie “slegs vir een geslag” (maw sowat 30 jaar) nodig sou wees.

Wat ‘n droom vir die VF+! Jou hoofopponent sê prontuit dat haar party nog minstens vir 30 jaar rassisme teen jou kernkiesers en hul kinders sal pleeg, en sy nooi blankes wat nie van anti-blanke rassisme hou nie, prontuit uit om vir iemand anders te gaan stem.

Gaan die VF+ hierop kapitaliseer, en hóé gaan hy hierop kapitaliseer? Tot op hede was die VF+ maar versigtig met sy uitsprake oor rassistiese aksie, maar dit het hom niks in die sak gebring nie, siende dat sy steun met elke verkiesing afneem. Die VF+ kan nou gerus die handskoene uittrek en rassistiese aksie trompop loop – hy het niks om te verloor nie.

Daar is verskeie maniere waarop die VF+ myns insiens uit hierdie wonderlike geleentheid munt kan slaan. Die voor-die-hand-liggende manier is om ‘n aggressiewe veldtog tydens die 2014-verkiesing te loods, wat die DA se achillieshiel, rassistiese aksie, aggressief en moedswillig teiken. Ek kan nou al die plakkate sien: “RA = Rassisme!” en “Die DA steun anti-blanke rassisme” en “Nee vir Rassistiese Aksie!” ensovoorts.

Daar is ook ‘n geleentheid om die VF+ se krimpende steun om te swaai, met potensiaal vir groei in twee nuwe teikenmarkte: Die Engelse blankes en die jonger werkende blankes. Ek verstout my om te sê dat die VF+-kieser se demografiese profiel meestal uit ouer blanke Afrikaners bestaan. Die groot meerderheid Afrikaners en blanke Engelssprekendes word egter verenig deur ‘n intense wrokkigheid oor rassistiese aksie, en ‘n oorweldigende meerderheid van beide Afrikaners en Engelse beskou RA as blote anti-blanke rassisme en diskriminasie. Daar is sekerlik baie van hierdie Engelse blankes wat swaar sluk aan die DA se rassisme. Ek wonder of dit nie wys sou wees om ‘n Engelssprekende persoon in ‘n senior pos in die VF+ aan te stel, en om hom baie lugtyd in die media as VF+ -spreekbuis te gee nie. Ek besef daar sou diegene wees wat voel dat die VF+ se kernmark eintlik Afrikaners is wat die volkstaatgedagte steun, maar deesdae hoor mens ook niks oor die volkstaat by die VF+ self nie, en moontlik is dit tyd om bietjie meer innoverend te dink.

Die tweede groei-area is jong, werkende blankes. Die VF+ doen reeds goed onder die blanke jeug – sy politieke studente-organisasies vaar goed op kampusse –  maar ek dink spesifiek hier aan jonger mense, in hul twintigs en dertigs, wat nie noodwendig baie begaan is oor ‘n volkstaat of Afrikaanse taalbelange nie, maar wat minder gelukkig is met Rooi Helen se dreigemente dat die DA minstens nog vir 30 jaar rassisme teen hulle sal pleeg. Die VF+ kan hom gerus daarop toespits om by elke moontlike geleentheid die boodskap by jong blankes tuis te bring dat ‘n stem vir die DA neerkom op ‘n stem téén jong werknemers se eie toekomstige professionele lewens.

Ek hoop terdeë dat die sinieses onder ons, wat beweer die VF+ verkeer in ‘n gemaksone, is verkeerd, en dat die VF+ hierdie geleentheid met albei hande sal aangryp. Dit sou ‘n sonde wees om hierdie DA-krisis te vermors.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.