
Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het saam met ‘n aantal linkse Suid-Afrikaners inderhaas ‘n verklaring uitgereik waarin gewaarsku word oor die talle protesoptredes in die Wes-Kaap.
Hulle sê dat dit bydra tot ‘n groter-wordende aanslag teen die demokrasie, het RSG berig.
Die ondertekenaars beskuldig politici en aktiviste in die Wes-Kaap daarvan dat hulle woede aanblaas oor gebrekkige dienslewering en dat dit vir politieke gewin gebruik word.
Hulle sê dat daar blatante pogings is om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak, bloot omdat daar sekere elemente is wat nie met die demokratiese keuse van die meerderheid saamstem nie.
Die stad van Kaapstad het intussen om ‘n dringende hofinterdik aansoek gedoen om onwettige betogings te keer wat vir môre deur die stad se informele-nedersettingsorganisasie beplan word.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal waarskynlik vandag daaroor besluit.
Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille sê die optog is nie goedgekeur nie en die polisie het gewaarsku dat dit tot geweld kan lei.
Die oproermakers het reeds sakeondernemings gewaarsku dat hulle hul deure Vrydag moet sluit.