Tese, Antitese, Sintese

Deel op

hegelDeur Joseph Secreve.

As daar een resep is wat agter die skerms gebruik word om die Weste ten val te bring, dan is dit die dialektiese prosesmodel wat destyds deur die filosoof Hegel beskryf was.

Hierdie model kom kortliks daarop neer dat sodra daar sprake is van twee teenoorgestelde kragte, hulle mekaar sal oplos om ‘n nuwe samewerkingsverband te skep. Marx en sy volgelinge het so ver gegaan as om hierdie proses as die vernaamste in die geskiedenis te beskou, en belangrike marxistiese denkers pas hierdie model nog gereeld toe in die allerdaagse lewe.

Hierdie benadering het beslis meriete as ons onsself wil verweer teen die immer nader kruipende hoogwater van kulturele marxisme. Soos ek in ‘n vorige rubriek genoem het oor Koos Bekker se kapitaal, is daar ook sprake van ‘n tese (die rykstes word ryker), ‘n antitese (die gewone mens dreig om opstandig te word) en ‘n sintese (die allerrykstes gun die gepeupel meer inspraak, maar op ‘n manier wat nie die belange van die rykstes in gevaar sal stel nie). Laasgenoemde sintese heet kommunisme.

Dit is wat gebeur sodra ons hierdie benadering toepas op ekonomiese stelsels.

Dit word egter net so gereeld toegepas op kulturele stelsels. ‘n Bekende voorbeeld wat menige voorgraadse sielkundestudent sal herken is die voorbeeld van Heinz, soos beskryf deur die ontwikkelingspsigoloog Lawrence Kohlberg.

Heinz se vrou ly aan ‘n seldsame kanker. Daar is egter ‘n middel in die plaaslike apteek wat moontlik haar lewe kan red. Heinz het helaas geen geld nie, en het fondsinsamelings gehou. Desondanks het hy nie genoeg geld vir die medisyne nie, en het die apteker gevra of hy nie later die res van die bedrag kan inbetaal nie, maar die apteker weier.

Nou is die vraag: Is Heinz geregverdig om in te breek en die medisyne te steel?

Hierdie voorbeeld is nogal ‘n taai etiese dilemma, en ‘n mens is maklik geneig om Heinz se kant te kies. Die sintese sou lui dat dit onder sommige omstandighede geregverdig is om te steel.

Dit was egter in 1932.

Die blootstelling sedert die sestiger jare aan kulturele marxisme het ondertussen baie sukses behaal om ons kernwaardes te verwater. Die narratief wat gebruik word is om “inklusief” te dink, en om elke keer bietjie by bietjie die grense van toleransie op te skuif van wat ons mag doen en nie mag doen nie. Stel u voor – in die voorbeeld van Heinz – wat sou gebeur as elkeen besluit hulle het die reg om medisyne te steel? Binne ‘n ommesientjie sou die gesondheidsindustrie in duie stort en dan kan niemand meer gehelp word nie. So word die resep vir ‘n rampokkerstaat voorberei, want slegs die magtigste skurke baat by hierdie anargisme.

Dieselfde verwatering van ons tradisionele kernwaardes vind elke dag plaas, en waar beter om te begin as in ons skole? In die Verenigde State byvoorbeeld word voorligtingprogramme aangebied wat veronderstel is om mense weerbaar te maak teen bepaalde soort gedrag, maar is heimlik besig om mense juis te desensiteer daarteen. Daar is programme soos “Drugs Education, Bullying Education, Sex Education, Death Education” en nog ‘n rits ander. Leerlinge word dus blootgestel aan hierdie programme sogenaamd om hulle vir die gevare daarvan te waarsku, maar bring hulle stilletjies in die verleiding om hulself aan hierdie gedrag skuldig te maak. ‘n Uitgesproke fluitjieblaser oor die gevare van hierdie “Education” programme is ‘n sekere mevrou Charlotte Iserbyt, wie se bydraes gereeld op youtube en infowars.com verskyn.

En hierdie voorligtingprogramme het al “vrugte” afgewerp. Baie wrange vrugte.

Iewers – ek dink op ‘n youtube-onderhoud met infowars – vertel ‘n ooggetuie hoe sy die oggend van die tragiese Columbine skietery in 1999 verby ‘n leerling geloop het wat besig was in sy motor se kattebak rond te grawe. Die kattebak was vol outomatiese karabyne, haelgewere en ammunisie gestop! Sy het egter gedink dat dit deel uitgemaak het van een van die Education programme en het daarom nie die aankomende gevaar sien aankom nie.

Die Braziliaanse kommunis en opvoeder dr. Paolo Freire het selfs in ‘n soortgelyke trant klein kinders geleer om te tel deur gebruik te maak van handgranate en ammunisie! Stel u voor: “Ek het twee handgranate en my kameraad Piet het drie. Hoeveel handgranate het ons saam?”

In ‘n ander voorbeeld genaamd “Death Education” word van leerlinge verwag dat hulle hul eie doodsberig moet skryf. Sommige leerlinge moet maak asof hulle dood is en in ‘n namaakkis lê. Egter, aangesien nie almal se stoflike oorskotte waardig lyk nie, moet sommige “vermink” in die kis lê. Inderdaad het dit gelei tot leerlinge wat nagmerries en emosionele probleme daarvan oorgehou het.

Ek vermoed dat ons dieselfde kan sê van sommige programme op M-TV, waar regte-lewe sepies gemaak word oor tienermoeders, sogenaamd om te waarsku oor die gevare daarvan, maar in feite hierdie as ‘n alternatiewe lewensstyl voorhou om kinders die indruk te wek dat dit “nie so erg is nie” en dat hul lewens “normaal” is, of normaal word met verloop van tyd.

En dit bring ons na die nuwe gruwel wat ons tot groot afsku gesien het in Suid-Afrika se matriekeindeksamenvraestel oor die simboliese verkragting van ‘n baba. Dit is dieselfde logika wat daaragter sit. Veral die eksamenvrae daaromtrent word koel en klinies oorgedra wat verder help met die desensitasie daarvan, en om hierdie soort gedrag as “redelik normaal” voor te hou. Daardie dissosiasie sien ons ook in allerlei nare proefdiereksperimente waar mense of diere as “subjekte” gesien word. Soos die dramadosent stel, handel die stuk nie oor verkragting nie, maar oor tegniek, en hoe om die verkragting op ‘n nie-realistiese wyse oor te dra sonder om die gruwelike aard daarvan te verminder.

Wat probeer hierdie dosent aan ons sê? Dat daar ‘n sekere estetika aan hierdie daad is? Is die “nie-realistiese” vertolking ‘n lokroep vir gekke en dwase om dieselfde te doen? Ons sien mos gereeld op tv hoe mense geskiet word sonder dat daar ‘n druppel bloed vloei. Die misdaad lyk met ander woorde “netjies” en is “nie-realisties”, hoewel die minder gruwelik nie. Wil hierdie dramadosent nou op soortgelyke wyse babaverkragting as iets netjies vertolk?

Natuurlik word die sogenaamde “oorsake” van hierdie gedrag verklaar in terme van armoede, isolasie en ‘n gebrek aan toekomsperspektief, met ander woorde dit is op een of ander manier die skuld van die vorige regering of so iets. Die rol wat die toordokters speel om barbare oor te haal tot sulke dade word nie genoem nie, terwyl die dramadosent help om hierdie barbaarsheid te fasiliteer.

Dit is belangrik om te besef dat hierdie afwatering doelbewus geskep word om mense van hul kernwaardes te vervreem. Dit is eers wanneer ons terugkyk na ons verlede en die mediakultuur van destyds dat ons die verskil kan sien. Ons marxistiese intellektuele probeer voortdurend verklarings in terme van deprivasie te vind om slegte gedrag te regverdig, terwyl die afwatering van kernbeginsels die eintlike boosdoener is.

Voormalige kommunistiese wêrelddele soos die voormalige Oos-Europa sal nog die komende generasies onder ’n wolk van trauma leef wat kommunisme veroorsaak het. Sommige analiste meen dat Frankryk nog nie herstel het van die Franse Rewolusie nie, te beoordeel aan die manier waarop geloof geminag word aldaar.

Dit is tyd dat hierdie gruwel wat goedgepraat word blootgestel moet word vir wat dit is, naamlik ’n gruwel en ’n ondergang van beskaafde norme.

Kom ons kyk of ons hierdie tendens kan omkeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.