Frankryk gaan soldate na die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) stuur om stygende chaos in die land te verhoed.
Die aankondiging deur die Franse minister van verdediging, Jean-Yves Le Drian, volg ‘n dag nadat ‘n amptenaar van die Verenigde Nasies (VN) gewaarsku het teen grootskaalse menseregteskendings asook die gevaar van ‘n moontlike burgeroorlog wat dreig in een van die wêreld se armste lande.
Sedert die Seleka-rebellegroep in Maart kragte saamgespan het om pres. François Bozizé uit die kussings te lig, het die krisis in die SAR handuit geruk.
Frankryk sal die aantal soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek verdriedubbel tot 1200 ná maande van geweld.
Die mineraalryke, maar arm land van 4,6 miljoen mense verkeer in chaos met baie rebelle wat uit die naburige Tsjad en Soedan die land instroom.
Die Franse minister van buitelandse sake Laurent Fabius het gesê die versterkings sal opdaag nadat die Veiligheidsraad van die VN ‘n resolusie ingestem het.
“Frankryk het 410 soldate nou in Bangui en dit sal versterk word na 800, wat die aantal na 1200 verhoog.”
Die VSA skat dat byna 400.000 mense ontwortel is en 68.000 het na buurlande gevlug sedert Selekaleier en tussentydse president Michel Djotodia beheer oor sy los koalisie van krygshere verloor het.
Die konflik word deur Seleka se hoofsaaklik Moslemvegters teen die Christene gevoer. Christene maak die helfte van die bevolking uit en Moslems net sowat 15 persent.
Die rebelle word deur menseregtegroepe van moord, verkragting en die opleiding van kindersoldate beskuldig. – Reuters/Sapa/AP