Twee Valke vas oor beweerde bande met Krejcir

Deel op

valkeTwee lede van die Valke is vanoggend in hegtenis geneem weens beweerde bande met die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir.

Die woordvoerder vir die Valke, Paul Ramaloko sê hulle word verbind met dieselfde saak van ontvoering waarin Krejcir na bewering betrokke is.

Die polisiewoordvoerder, Solomon Makgale het nog nie die inhegtenisneming van ‘n tweede verdagte bevestig nie.

Makgale het vroeër gesê dat ‘n 41-jarige adjudant-offisier in hegtenis geneem is.

Die voorval ter sprake het in Junie vanjaar plaasgevind. Krejcir en ‘n vennoot, Desai Lupondo is Vrydag in verband met die saak in hegtenis geneem en het Maandag in die hof verskyn.

Intussen het die Valke berigte ontken dat die bevelvoerder van die georganiseerde misdaad-eenheid in Germiston, Kolonel Francois Steyn bedank het.

Steyn het na wat berig word ‘n lening van R408.000 aanvaar van ‘n maatskappy wat bande met Krejcir het.

Hy het blykbaar eers vyf maande later uitgevind dat die maatskappy in Krejcir se vrou, Katerina se naam geregistreer is.

Beeld berig dat Steyn wou bedank, maar dat die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega dit nie wou aanvaar nie, hangende die uitslag van ‘n interne ondersoek teen hom.

Ramaloko sê egter hy is bloot met verlof en dat hy nooit aangebied het om sy pos te verlaat nie.

‘n Ondersoekbeampte wat nie gemoeid is met die saak nie, sê die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir sal dalk probeer om te ontsnap.

Krejcir het sy hofsaak gewen om onder polisiebewaking in ‘n hospitaal opgeneem te word.

Krejcir het nie verwag om in hegtenis geneem te word nie omdat hy skynbaar planne beraam het om die naweek uit Suid-Afrika pad te gee. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.