DA sal op benadeling van net een rassegroep fokus

Deel op
Lindiwe Mazibuko
Lindiwe Mazibuko

Leiers van die Demokratiese Alliansie het Sondag na sy beleidskonferensie die noodsaaklikheid vir rasbeleid beklemtoon ten einde die “nalatenskap van apartheid” reg te stel.

By ‘n perskonferensie in Kaapstad, het die DA -leier, Helen Zille gesê die party erken dat daar “beduidende korrelasie tussen ras en benadeling” is, en dat haar party “onomwonde” die behoefte aan “regstelling” ondersteun.

Zille en ander partyleiers, het gesê die beleidskonferensie die naweek het beklemtoon dat “ras ‘n grondige rede” vir benadeling is. Dit beteken die ras van die benadeeldes – waarvan almal swart is – kan vrylik erken word.

Die party het voorgestel dat die groeiende rassedruk van binne die party duidelik geïdentifiseer word en verteenwoordig word in beleid. Maar Zille het ontken dat die debat “rasgedrewe” was.

“Daar was nie onmin of rassepolarisasie oor die kwessies nie,” het sy gesê. Daarmee het Zille te kenne gegee dat wit DA-leiers nie beswaar gemaak het teen die swart rassebeleid wat die party tans omhels nie.

Die DA het tradisioneel staatgemaak op ‘n rasblinde benadering tot ontwikkeling, waar die regering se doeltreffendheid en ‘n kultuur van vrye onderneming benadruk is, en sou lei tot die opheffing van armes.

Terwyl Zille die dramatiese ommeswaai in die party se beleidsrigting probeer onderspeel het, het die parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko haar kans waargeneem om die belang daarvan te beklemtoon.

Sy het gesê die erkenning van “ras” as ‘n belangrike filter in die DA se benadering tot regstelling sal voortaan hul beleid bepaal.

“Ek dink die groot ding wat uit die Federale Raad gekom het het in terme van leierskap was die vraag of die DA ras as ‘n wettige plaasvervanger vir benadeling aanvaar … en die antwoord was ‘ja’.”

Daar was berigte in die aanloop tot die konferensie dat swart lede van die Swart Koukus ‘n rassebeleid voorstaan.

Dit is na dese nie meer duidelik waar die party se benadering verskil van die ANC s’n nie.

“Ons uitdaging is om die balans tussen die behoefte aan rasseregstelling en ons verbintenis tot nie-rassigheid te behou,” het Zille erken.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.