‘Saak teen Krejcir is waterdig’

Deel op
Nathi Mthethwa
Nathi Mthethwa

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa sê intussen hy’s vol selfvertroue dat die saak teen Radovan Krejcir waterdig is.

Hy het tydens ‘n New Age sake-toespraak in Midrand noord van Johannesburg gepraat. Mthethwa sê goeie werksverhoudinge tussen speurders het belowende uitslae opgelewer.

Die Tsjeggiese voortvlugtige en sy vennoot sal binne minute in die Palm Ridge landdroshof aan die Oos-Rand op aanklagte van poging tot moord en ontvoering verskyn.

Sy regspan het intussen ‘n klag van poging tot moord teen die polisie aanhangig gemaak. Hulle voer aan dat Krejcir gemartel is nadat hy Vrydagaand by sy huis in Bedfordview in hegtenis geneem is.

Uitspraak sal teen laatoggend in die Suid-Gautengse hooggeregshof gelewer word oor ‘n aansoek om Krejcir na ‘n hospitaal te verplaas.

Ná sy hofverskynings vandag is Krejcir se probleme met die Suid-Afrikaanse gereg nog nie verby nie.

Hy het ses jaar gelede met ‘n vervalste paspoort uit die Seychelle in die land aangekom.

Hy veg tans om nie na die Tsjeggiese Republiek uitgelewer te word nie, waar hy ‘n elf-jaar tronkstrafvonnis moet uitdien.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ook twee weke gelede Krejcir se bates onder kuratorskap geplaas.

Die hooggeregshof in Pretoria het Krejcir tot volgende Maandag tyd gegun om ‘n saak te stel oor waarom sy bates nie permanent in beslag behoort te bly nie. – RSG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.