Groot geheimhouding om Krejcir

Deel op
krejcir2
Krejcir in beter dae

 Die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg het uitspraak voorbehou in ‘n dringende hofaansoek wat deur die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir se prokureurs gebring is om hul kliënt vir mediese behandeling te laat neem.

Die hof het tot in die vroeë oggendure betoë van die staat aangehoor waarom die aansoek nie toegestaan moet word nie, het RSG berig.

Krejcir beweer dat hy in polisie-aanhouding gemartel is. Die regter sal Maandagmiddag ‘n beslissing gee.

Krejcir is Vrydag in Bedfordview in hegtenis geneem na ‘n voorval wat na bewering in Junie plaasgevind het.

Dit is steeds onduidelik of die Tsjeggiese voortvlugtige in die Palm Ridge landdroshof sal verskyn. Vroeër is berig dat hy saam met ‘n medebeskuldigde in die Albertonse landdroshof aan die Oos-Rand sal verskyn.

Een van Krejcir se prokureurs, Ulrich Roux sê ‘n dokter het Krejcir ondersoek nadat hy blykbaar elektriese skokke toegedien en gewurg is.

Die dokter het bevind dat Krejcir se bloedmonsters tekens van spierskade en moontlike nierversaking toon.

Die staat sê egter hy is bewus van Krejcir se kroniese siekte en dat hy in polisie-aanhouding daarvoor behandel kan word.

Die besonderhede van waar Krejcir aangehou word, word steeds geheim gehou, aangesien die polisie volgens die kommissaris, Riah Phiyega sy veiligheid wil verseker.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.