Suid-Afrika is ‘n zombie-apokalips-in-wording

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Rekenaarspeletjies en Hollywood het die tema van die zombie-apokalips gewild gemaak. Vanjaar is een van die groot Hollywood-films met Brad Pitt in die hoofrol, World War Z, vrygestel, na die gelyknamige roman deur Max Brooks. Daarin verander die grootste deel van die aarde se bevolking in zombies as hulle deur ander zombies gebyt word.

‘n Tyd lank het my tienerseun se stempos die boodskap oorgedra: “Dis die zombie-apokalips en ek is te besig met oorlewing om nou my selfoon te beantwoord. Laat gerus ‘n boodskap.”

Wat my opval aangaande die ruwe Suid-Afrika is dat dit presies soos ‘n zombie-apokalips verloop, net ietwat langsamer. Elkeen wat boodskappe vanaf mnr. Jaap Kelder se poslys ontvang, kan lees hoe water-, elektrisiteits- en ander dienste op klein dorpies oral in die land onklaar raak. Op Ladybrand word selfs die honde siek van die vrot water. Ek haal aan uit ‘n e-pos van Kelder op 19 November:

Tydens ‘n besoek aan Ladybrand in April 2012 het ons die riool- en waterwerke gaan besoek. Die rioolwerke was heeltemal buite werking met rou riool wat in die spruit inloop. Om die kersie op die koek te sit pomp die munisipaliteit die water vir die dorp uit ‘n dam in die spruit wat STROOMAF van die rioolwerke lê!

Na die besoek aan die rioolwerke het ons na die waterwerke gaan kyk. Absoluut disfunksioneel! Op Op ‘n vraag aan die persoon aan diens of die water getoets word voordat dit na die dorp toe gepomp word was sy antwoord “NEE” want die water is mos reg!

En – nes in die zombieverhale – reageer daar niemand nie. Almal maak asof niks gebeur nie en dat die lewe maar net soos voorheen voortsleep. Hier en daar is mense besig om blikkieskos, drinkwater en ammunisie op te gaar, maar waarskynlik dink hulle vriende, familie en bure dat hulle van lotjie getik is. Hoe lank nog voordat probleme met water en elektrisiteit nie ook in die groot stede, soos op die platteland, posvat nie?

Meer en meer kan ons die vorige NP-kabinet wat halsoorkop die land in die hande van ‘n bende radikale plunderaars oorgegee het, insgelyks as ‘n groep willose zombies sien. In vandag se Rapport steek een van hulle, Leon Wessels, nogmaals ‘n preek af deur te sê:

Die NP-kabinet was in dié tyd (die vroeë negentigerjare) erg verdeeld. Dat De Klerk dié uiteenlopende groep mense so lank bymekaar kon hou, was ’n prestasie waarvoor hy nie aldag erkenning kry nie. Hy verdien ook krediet daarvoor dat hy nie toegelaat het dat die vasstekers die proses kaap en die oorgang vertraag nie.

Die oorgang na wat? kan ‘n mens seker vra. Na Zombieland? Na Zimbabwe? Sonder voedsel, valuta en ander hulp uit Suid-Afrika, om nie van Oxfam en ander Britse NRO’s te vergeet nie, sou daar al lankal hongersnood in daardie land uitgebreek het. Maar wie gaan Suid-Afrika ná versnelde regstelaksie, grondhervorming en uitgebreide stedelike verval red?

Is dit nie ironies dat Wessels, asook die meeste Naspers-redakteurs en -rubriekskrywers tans, twintig jaar later, steeds die NP se onbekookte oorgawe aan die ANC terugwerkend probeer regverdig nie? As alles maanskyn en rose was – soos ons belowe is – sou geen regverdiging mos nodig gewees het nie. Nie waar nie?

Ek herinner my dat daardie joernalistieke zombie, Max du Preez, soos vele ander, al telkens aan ons voorgehou het dat “daar geen ander keuse as oorgawe” was nie. Die alternatief sou ‘n apokaliptiese (sic) bloedbad gewees het. Die werklike bloedbad het egter reeds in die middeltagtigerjare plaasgevind toe Joe Slovo en die Oos-Duitsers in ‘n desperate poging om hul mislukkende stedelike terrreurstrategie te laat slaag, die Wimpy-restaurante en ander burgerlike teikens met bomme opgeblaas het. Teen 1989 het die Berlynse Muur in duie gestort en die Oos-Duitse kommunistiese zombieregime daarmee saam. Vanweë die skielike gebrek aan finansiële en logistieke steun uit Oos-Europa, het terreur en ander geweld in die land skerp afgeneem.

Maar danksy die wit sangoma fw de klerk kon die “lewende dooies” van die Oos-Duitse kommunisme, soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils en hul marionet Mandela, vastrapplek in Suid-Afrika verkry en die land begin plunder en rysmier. Uit vrees dat sy eie mense hom mag aanval, ry de klerk deesdae in ‘n koeëlvaste motor rond. Dis darem vreemd dat die mense aan wie hy die “wonderwerk” gebring het, dit nie so ervaar nie.

Wat fassinerend is, is dat Suid-Afrika nog altyd onder die swaard van Damokles gelewe het. Die einde van die land is nog altyd voorspel. Blykbaar is daar genoeg Suid-Afrikaanse kapitaal in die buiteland om die land se valutareserwes oor en oor te dek, maar die vrees dat dinge tog maar uiteindelik gaan “skeefloop”, sorg dat die land se rykes hul spaargeld op veilige plekke soos Switserland en ander hou. Veral die liberale sakemanne wat so hand om die blaas met die regerende party is en saam-saam die staatskas leeg steel, is die eerstes wat hul familiefortuine by privaatbanke in die buiteland laat versorg.

Ons wag dus op die eindtyd wat gaan aanbreek, gegewe die “apokaliptiese toon” wat die Suid-Afrikaanse politiek nog altyd gekenmerk het. As ‘n mens meer filosofies wil raak, is dit natuurlik ‘n hebbelikheid van die hele Westerse beskawing. Soos in die Openbaring van Johannes. Of zombieflieks.

Wie weet of Nelson Mandela nog lewe? Soos die dinosourusse van die ou Sowjetryk wat maande lank nie meer op die balkon van die Kremlin verskyn het nie, het ons die ou Xhosa lanklaas op die TV gewaar. Mandela is die lewende dooie messias wat Suid-Afrika se zombiedemokrasie moet “bewaar”. Kortom, hy is die Hoofzombie wat ons van die naderende apokalips moet vrywaar.

Toe ek nog in Parys gewoon het, het daar ‘n boekie deur die Franse filosoof Jacques Derrrida verskyn, wat ek vanoggend op my boekerak raakgevat het, ietwat vergeelde bladsye en al. Dit heet: D’un ton apocalyptique adopté naguère en philosophie. Dit het doer in die tagtigerjare verskyn en is lyk my nooit belangrik genoeg geag om in Engels of Nederlands of selfs Duits te vertaal nie. Die titel beteken: “Oor ‘n apokaliptiese toon wat onlangs in die filosofie posgevat het.”

Op sy gewone idiosinkratiese manier, ontleed Derrida die boek Openbaring, maar ook sekere aanmerkings van Immanuel Kant en veral die verband tussen die Hebreeuse woord gala en die Griekse term apokalupsis. Die Afrikaanse woord “openbaring” is eintlik ‘n goeie vertaling, want tydens die apokalips word iets skandeliks openbaar wat tot dusver weggesteek is.

Onlangs in die Business Day het die swart rubriekskrywer, Sipho Hlongwane, gekla oor die “postmoderne rassisme” in ons land, waarop ek hom in Engels geantwoord het. In Hlongwane se stuk verwys hy egter na ‘n ander eietydse filosoof, die Sloween Slavoj Žižek wat insgelyks ‘n boek met die titel Living in the End Times gepubliseer het. Volgens hom gaan die boek oor die volgende:

The underlying premise of the present book is a simple one: the global capitalist system is approaching an apocalyptic zero-point: Its “four riders of the apocalypse” are comprised by the ecolological crisis, the consequences of the biogenetic revolution, imbalances within the system itself (problems with intellectual property; forthcoming struggles over raw materials, food and water), and the explosive growth of social divisions and exclusions.

To take up only the last point, nowhere are the new forms of apartheid more palpable than in the wealthy Middle Eastern oil states – Kuwait, Saudi Arabia, Dubai…

Ons sien dus dat, hoewel apartheid oftewel segregasie reeds in die tagtigerjare in Suid-Afrika afgeskaf is, soos in die Amerikaanse Suide, verseg dit – nes die spreekwoordelike zombie – om dood te gaan. Apartheid het ‘n globale probleem geword. Die nuwe “apartheidstaat” is Israel, met ‘n horde internasionale beroemdes en popsangers soos Roger Waters van die eertydse groep Pink Floyd wat die land boikot en beswadder. Hoewel, miskien verdien Israel meer die benaming “apartheidstaat” volgens die internasionale definisie as die ou Suid-Afrika waar elkeen sy eie staat kon opeis indien hy wou. Anders as die Palestyne van wie ‘n nasionale staat weerhou word. Selfs die ANC ondersteun ‘n eie staat vir die Palestyne terwyl ‘n volkstaat vir Afrikaners teengestaan word, iets wat natuurlik nie logies sin maak nie. Maar dan maak min dinge in die politiek ooit logies sin.

Žižek bestee ‘n hele hoofstuk in Living in the End Times juis aan flieks en ander vorme van gewilde kultuur, genaamd “Interlude 1. Hollywood Today: Report from an Ideological Battlefield”. Daarin sien hy veral die rol van die leuen in films en boeke raak, dat leuens dikwels gebruik word om die publiek teen die werklikheid te beskerm. Žižek noem nie die gewilde TV-reeks Nikita nie, maar die intrige daarin is iets soortgelyks: die bestaan van ses “swart kassies”, hardeskywe waarop al die inligting van Amerikaanse, sogenaamde “swart operasies” (black ops) bewaar is. Indien die inligting sou uitlek, sou die VS-regering nie net tot ‘n val kom nie, maar daar sou ook wêreldwye onluste losbars soos wat volkere uitvind hoe hul regeringsleiers of -amptenare in beplande “ongelukke” omgekom het, ens. Elke swart kassie word deur ‘n hoogs opgeleide “Waghouer” beskerm wat dit met sy lewe moet bewaak.

Die huidige Suid-Afrika is insgelyks ‘n utopiese leuen waarvan die onthulling of openbaring dalk onluste en opstand sou veroorsaak. Daarom moet ons konstant deur Naspers, die SAUK en ander hoofstroommedia gepaai word. Ons is veronderstel om nie die ooglopende teenstrydighede in ons omgewing – dalk tekens van die naderende apokalips – raak te sien nie.

Die swartman het natuurlik geen beswaar teen ‘n alterrnatiewe werklikheid wat om politieke, ideologiese of godsdienstige redes in stand gehou word nie. Die geeste van die voorvaders leef in elk geval tussen ons. Selfs binne die revolusionêre swart denke was daar nog altyd ‘n rol vir die bonatuurlike, die okkulte, moetie en alles wat daarmee saamhang. Op die vooraand van die Marikana-botsing tussen stakende mynwerkers en die polisie, het die stakers rituele uitgevoer wat veronderstel was om hulle teen die polisie se koeëls te beskerm. In die oerteks van swart radikalisme, Frantz Fanon se Les damnés de la terre, verwys hy insgelyks na zombies. Ek haal uit die Nederlandse vertaling, De verworpenen der aarde, aan:

De sfeer van mythe en magie is, wanneer ek er bang voor ben, een onloochenbare realiteit. Omdat ik er bang voor ben, word ik er door ingelijfd in de tradities, in de geschiedenis van mijn streek of mijn stam, maar tegelijkertijd is het een geruststelling voor me, ik krijg een status door, een bewijs van staatsburgerschap. Het gebied van het geheim is in de onderontwikkelde landen een collectief gebied, dat geheel val onder die magie… Geloof mij, zombies zijn verschrikkelijker dan kolonisten. En vanaf dat moment gaat het er niet meer om die regels van de gepantserde wereld van het kolonialisme in acht te nemen, maar om je drie keer te bedenken alvorens te urineren, te spugen of ‘s nachts naar buiten te gaan… Zoals men ziet word alles herleid tot een permanente strijd in de fantasie-wereld.

Mandela se “onbaatsugtige” lewe, net soos die “wreedheid van apartheid”, is ‘n mite, selfs fiksie soos dié van zombiefilms en -boeke. Naar dis nie te sê dat daar nie ‘n reële stryd – ‘n permanente stryd soos Fanon dit noem – daaromheen plaasvind nie.

Ons het regtig ‘n goeie zombieroman in Afrikaans nodig, iets wat ook ons politiek satiriseer. Maar die kanse dat die dooies as zombies uit hul grafte sal opstaan, is seker gering. Aan die ander kant is die werklike zombiestryd in ons land dié tussen die oorblyfsels van Westerse kultuur en die Afrikakultuur. Die neiging tot volslae verafrikanisering – “verinheemsing” soos Mugabe dit noem – gaan vir seker tot grootskaalse verval van ons ekonomie en infrastuktuur lei. Ons sien dit reeds op plattelandse dorpe waar armoede en gesondheidsrisiko’s rondom water en riolering toeneem.

‘n Siek, honger mens sal jou nie noodwendig – soos ‘n regte zombie – byt nie. Maar hy sal jou vir seker aanval en moontlik vir voedsel of water om die lewe bring.

Dis die soort zombie-apokalips waarvoor ek bang is. En dit gaan nie fiksie wees nie.

Ongelukkig neig fw de klerk se zombie- linkse revolusie regstreeks na ‘n voorspelbare eindtyd wanneer niks meer gaan werk nie.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.